As Jesus by Kairos se sinode was

Kyk ook Kom gerus; Jesus was by sinode (Ernst Swanepoel, 21 Mei 2023)

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | As Jesus by Kairos se sinode was . . . | Rapport

Rapport, 14 Mei 2023

Albert Alberts, Knysna, skryf:

Op die afgelope Koinonia-sinode vir behoudende lidmate het die NG Kerk se besluit oor selfdegeslag-verhoudings weer onder bespreking gekom. Ek wil my voorstel hoe die verhaal sou geloop het as Jesus die sinode bygewoon het:

Hulle bring toe ’n vrou wat owerspel gepleeg het, en hulle laat haar in die middel van die groot groep lidmate staan. Hulle het vir Hom gesê: “Jesus, hierdie vrou het ons instellings verbreek en met ’n ander vrou getrou en is boonop op heterdaad betrap waar sy owerspel met nog ’n vrou gepleeg het. Ons kerkorde beveel ons om hierdie vrou uit ons midde te verban en onder sensuur te plaas, maar wat sê U?”

Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry om hul standpunt te bevorder. Maar Jesus het ’n stuk frommelpapier geneem en daarop geskribbel: “Hulle verstaan nie wat My liefde is nie.” Toe hulle aanhou om Hom te vra, het hy opgestaan en gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, haar eerste onder sensuur bring.”

Daarna het Hy weer gaan sit en weer geskribbel: “Vader, open die deure van hulle harte dat hulle My liefde kan verstaan.” Nie een het kans gesien om haar onder sensuur te plaas nie. Hulle het een vir een weggeloop, maar steeds hul standpunt gehandhaaf. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou.

“Mevrou, waar is hulle? Het nie een die oordeel oor jou voltrek nie?”

“Niemand nie, Here,” antwoord sy.

Toe sê Jesus vir haar: ”Ek doen dit ook nie. Keer terug na jou wettige vrou omdat dit in My wil is dat jy jou lewensmaat alleen moet liefhê en moet nie weer buite daardie heilige verbintenis sonde doen nie.”

Kommentaar

Daniel Louw

Op 25 April 2022 het Albert Alberts ‘n soortgelyke brief aan Kerkbode geskryf. Die brief is egter verwyder. Kyk Jesus en die owerspelige gay vrou (25 Apr 2022).

Dit is merkwaardig dat ‘n wetenskaplike ‘n dokument so kan verdraai. ‘n Mens wonder of hy dit ook in sy beroep as onkoloog gedoen het.

6 thoughts on “As Jesus by Kairos se sinode was”

  1. My mening hieroor is dat die brief ook van hierdie forum verwyder sal word. Glo die Bybel het lankal reeds standpunt oor die kwessie ingeneem en enigiemand kan dit naslaan. Die kerk het ook ander belangrike sake wat aandag moet kry, anders kan ons nie vordering maak nie. Stel jou voor ‘n geneesheer se diagnose is dat jy griep het, maar jy besoek hom elke dag om vas te stel wat jy makeer…. Dieselfde geld hier: Sonde word duidelik in die Skrif aangetoon – God het gepraat en geeneen van ons het die reg om dit te verander nie…

  2. Johannes 8 praat van n owerspelige vrou en eindig waar Jesus sê; ” Gaan heen en sondig nie meer nie” wat die laaste woord moet wees oor die onderwerp.
    Dan is Openbaring 18 en 19 baie duidelik wat jou beskore gaan wees as jy verdraaide fabels maak van die werklikheid van God se woord. Alberts het duidelik nie ter harte geneem wat in die laaste sin van Johannes 8 vers 11 as opdrag gegee is nie.

    1. Ek stem saam met jou. Ek wil verder gaan deur aan te toon dat die vraag is nie wat Jesus sal doen nie, maar wat HET Hy gedoen? Jesus is vol waarheid en genade. Om aan te hou met liggaamlike sonde soos dit in 1 Kor 6 na vore kom, het ernstige implikasies vir ‘n mens. Jy kan derhalwe nie aanhou met dit en deur probeer normaliseer deur middel van ‘n Wes Kaap sinode of algemene sinode nie. Daarom is Jesus heeltemal reg dat die vrou nie moet aanhou met haar sonde nie. Dit beteken ook dat enige homoseksuele of heteroseksuele sonde onaanvaarbaar is. Iemand kan nie in die kerk kom en probeer om gay huwelike te legitimeer nie, want dit bring ernstige gevolge vir hulle mee voor God en die gemeente van Christus.

  3. Geagte Daniel Louw
    Ek aanvaar dat jy van my kan verskil van my siening oor die owerspelige lesbiese vrou. Jy het egter nie my standpunt aangeval nie, maar wel my bekwaamheid as n onkoloog Wanneer iemand die man ipv die bal speel, wys dit n onsekerheid in jou argument uit.

    1. Albert, my punt is dat jy in twee wêrelde leef:
      (1) As bekwame onkoloog sal jy wetenskaplike artikels lees vir wat daar staan en dit nie waag om ander (foutiewe) afleidings te maak wat die skrywer van die artikel nie bedoel het nie.
      (2) Wanneer dit egter by die Bybel kom, dan voel jy (en baie ander) dat ‘n mens dit wel kan doen.
      Soos baie ander sondes, is die Bybel baie duidelik dat homoseks ook daaronder tel. Daar is geen plek in die Bybel wat hierdie siening wysig nie.

  4. Bewaar my van ‘n dokter wat my behandel op wat in ‘n Wetenskaplike publikasie staan sonder om dit krities te ontleed.
    Ek wil my nie regtig uitlaat of homoseksuele gedrag verkeerd is nie wil net probeer om Christus se opdrag , wat alle opdragte oorskadu in die skrif oorskadu dat ek my naaste moet liefhê soos myself en dat ek die skrif moet lees tot verheerliking van God besonder om ander te veroordeel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui