Kritiek op Koinonia verdoesel (weer) die ware feite

*******

BRIEF | Kritiek op Koinonia verdoesel (weer) die ware feite | Rapport

Rapport, 21 Mei 2023

Dawie de Wet, Willowmore, skryf:

Neels Jackson (Rapport, 14.05) probeer verduidelik waarom die Gereformeerde paradigma van sonde, verlossing en dankbaarheid in ons dag nie meer voldoende is nie.

Sy hele argument is gefundeer op die foutiewe aanname dat apartheid die gevolg was van die toepassing van hierdie skema. Dis foutief. Apartheid was die gevolg van liberale teologie wat sedert die 19de eeu in Europa geleer is. Die “teologie binne die kultuur” is deur D.F. Malan e.a. in die kerk verkondig en as evangelie geglo. Daar is geen plek vir apartheid in die Bybelse leer van sonde, verlossing en dankbaarheid nie.

Die uwe was deel van ’n groep NG Kerk-gelegitimeerdes wat in die vroeë 1980’s ’n wettige beskrywingspunt aan die algemene sinode gestuur het. Dit het verduidelik dat ’n regeringstelsel wat op die onversoenbaarheid van mense gegrond is, nie Bybels geregverdig kan word nie. Dis algemene sinode het dit opgeskeur.

Dit is toe as ’n ope brief aan die kerk gepubliseer. Dis doodgeswyg en die ondertekenaars is luidkeels verketter.

Toe die NG Kerk uiteindelik die liberalisme van apartheid op Bybelse gronde verwerp het, is nie teruggekeer na die Bybel en die belydenis nie, maar die liberalisme van sosiale geregtigheid (soos Jackson bepleit) is aangegryp. Dit is nie, soos Jackson beweer, ’n Bybelse opsie nie. Wat hy as “teologie” voorhou, is onbybelse humanisme.

Die kerk se belydenis en die Bybel leer steeds dat daar sonder die versoening van Jesus Christus geen verlossing moontlik is nie. Die getuienis van gay en lesbiese mense wat waarlik Jesus se verlossing beleef het, is bewys van die verlossingswerk van die ware Evangelie, maar Jackson verwerp dit dat Jesus ook mense kan help om van hul sondes en verslawings bevry te word.

Omdat die Koinonia-sinode sosiale geregtigheid as onbybels verwerp, teken Jackson ons as ’n verstokte groep ou mans wat gays haat en alles met sy gewaande hamer wil reg moker. As joernalis behoort hy te weet dat dit maklik is om ’n strooipop te maak en af te skiet, maar dit verdoesel altyd die ware feite.

En dis presies wat hy doen.

Hy beeld die Kairos Netwerk uit as onnosele hamerswaaiers, maar verswyg dat hulle in ’n besondere gees van liefde en openheid vergader het en ’n relatief jong diensgroep met ’n vrou as skriba gekies het.

Soos die algemene sinode destyds hul mag misbruik het om kritiek teen apartheid op onkerkregtelike wyse te versmoor, het die Koinonia-sinode kennis geneem van die kerkregtelik oneerlike optrede van die huidige dagbestuur van die moderamen om alle kritiek teen hul “breë kerk” à la Jackson met hamerslae plat te vee. Dis die feite wat, soos destyds, onder die mat gevee word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui