Moses

Hier volg sommer ’n paar notas oor Moses:

Geslagsregister

Moses was van die stam Levi. Sy geslagsregister is soos volg:

Abraham → Isak → Jakob → Levi → Kehat → Amram → Moses (Eks 6:15-19)

Moses is in 1571 vC gebore en het in 1451 vC gesterf. Hy het dus 120 jaar oud geword (Deu 31:2 en 34:7). Hy was 80 jaar oud toe hy Egipte verlaat het (Eks 7:7).

Moses in die mandjie

Eksodus 2:1-10: Moses is in Egipte gebore in ’n tyd toe die farao opdrag gegee het dat al die Joodse seuntjies doodgemaak moes word. Toe sy ma, Jogebed, hom nie langer kon wegsteek nie, het sy hom in ’n mandjie in die Nylrivier gesit. Die farao se dogter het hom gekry en hom as haar eie grootgemaak. Sy het hom Moses genoem, wat beteken “uit die water gehaal”.

Moses se eerste vrou en sy skoonpa

Moses het met Sippora in Midian getrou toe hy van Egipte gevlug het nadat hy ’n Egiptenaar doodgemaak het.

Moses se skoonpa word aanvanklik Reüel genoem (Eks 2:18) en daarna Jetro (Eks 3:1 en verder). Hy was die priester van Midian.

Moses het twee seuns by Sippora gehad waarvan ons lees: Gersom en Eliëser (Eks 18:4)

God wil vir Moses doodmaak

Eks 4:24-26: Toe Moses van Midian teruggegaan het na Egipte om die volk uit te lei, wou God hom doodmaak. Die rede is waarskynlik omdat Moses nie sy seun besny het nie. Toe God die besnydenis met Abraham ingestel het, het God die volgende gesê:

Genesis 17: (14)Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.

Nadat Sippora hulle seun se voorhuid afgesny het, het God hom met rus gelaat. Omdat Joodse babatjies op agt dae besny is, was Moses hoogs waarskynlik besny voor die farao se dogter hom in die rivier gekry het.

God praat direk met Moses

God het baie direk met Moses gepraat. Hy het met Moses op die berg Sinai en in die tent van ontmoeting gepraat soos ’n vriend:

Eksodus 33: (7)Moses het ’n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. (8)Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. (9)Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat. (10)Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding.(11)Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

Numeri 7: (89)Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

Numeri 12: (6)het die Here gesê: “Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. (7)Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. (8)Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?”

Nie net het Moses direk met Moses gepraat nie, maar het Hy gepraat sodat die volk dit kon hoor (Eksodus 19:9, 20:19-22).

Moses sien die agterkant van God

In Eksodus 24 word gesê dat 70 leiers van Israel God gesien het:

Eks 24: (9)Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel het toe die berg uitgeklim. (10)Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. (11)God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie: hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.

‘n Mens neem aan dat hierdie leiers nie ’n baie duidelik beeld van God gesien het nie, want later (Eksodus 33:18-23) het God Moses slegs toegelaat om Sy agterkant te sien. Daarna het sy gesig geskyn sodat die Israeliete bang was om naby hom te kom (Eksodus 34:29-35 en 1 Korintiërs 3:7-16).

Moses trou weer

Numeri 12: ’n Mens neem aan Moses se eerste vrou, Sippora, het gesterf. Daarna het hy met ’n Kussitiese vrou getrou. Die Kussiete was van Kus, ’n suidelike streek in Etiopië. Dus was dit hoogs waarskynlik ’n swart vrou. Haar naam word nooit genoem nie. Dit het egter nie Mirjam en Aäron se goedkeuring weggedra nie. God het Mirjam vir 7 dae met melaatsheid gestraf omdat sy Moses gekritiseer het. Kyk ook Who was Moses’ wife? en Did Moses Marry a Black Woman?

Moses skryf die Pentateug

Dit word algemeen aanvaar dat Moses die Pentateug (die eerste vyf boeke in die Bybel) geskryf het. Dit word om baie plekke in die Bybel gesê (kyk Bylaag A). God het direk met Moses gepraat en daarom is dit baie moontlik dat God selfs Genesis, insluitende al die geslagsregisters aan Moses gedikteer het. Wat egter meer realisties is, is dat Moses slegs Genesis oorgeskryf het van bestaande dokumente en nie vir die eerste keer opgeskryf het nie.[1]

Moses sterf voor hulle die beloofde land binnegaan

Moses het nooit die beloofde land binne gegaan nie, omdat hy ongehoorsaam was deur die rots by die Meribawaters te slaan in plaas daarvan om daarmee te praat (Numeri 20:7-13).

God het self vir Moses begrawe in ’n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor toe hy 120 jaar oud was (Deuteronomium 34:5-7)

Verdere bronne

Bylaag A: Moses skryf die Pentateug

Die volgende verse in die Bybel bevestig dat Moses die Pentateug geskryf het:

Eks 17: (14)Daarna het die Here vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.”

Eks 24: (4)Toe het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf.

Eks 34: (27)Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.”

Num 33: (2)Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken.

Deu 31: (9)Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters

Deu 31: (22)Moses het daardie selfde dag nog die lied opgeteken en dit vir die Israeliete geleer.

Deu 31: (24)Toe Moses hierdie wet, tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken het,

Jos 1: (7)Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het.

Jos 8: (32)Josua het daar op die klippe ’n afskrif aangebring van die wet van Moses.

Rig 3: (4)Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het.

1Kon 2: (3)Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses.

2Kon 14: (6)Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses:

2Kon 21: (8)As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet wat my dienaar Moses vir hulle neergelê het,

2Kron 25: (4)Hy het nie hulle kinders ook laat doodmaak nie, want, soos op bevel van die Here geskrywe staan in die wet, in die boek van Moses:

Esra 6: (18)Hulle het die priesters ingedeel in afdelings en die Leviete in diensgroepe vir die diens van God in Jerusalem soos dit in die boek van Moses voorgeskryf is.

Neh 8: (1)Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.

Neh 13: (1)Daardie dag is daar ten aanhore van die volk voorgelees uit die boek van Moses, en daar is geskryf gevind dat ’n Ammoniet of Moabiet nooit in die gemeente van God mag kom nie.

Dan 9: (11)Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met ’n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. (12)U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. (13)Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie.

Mal 4: (4)Onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en die bepalings wat Ek aan hom by Horeb gegee het vir die hele Israel.

Dit is baie duidelik dat Moses self Deuteronomium geskryf het. Van hoofstuk 1 tot 30 skryf Moses in die eerste persoon:

Deu 3: (2)Toe het die Here vir my gesê:

Deu 3: (23)Dit was toe dat ek die Here gesmeek het:

Deu 4: (22)Ek sal in hierdie land sterf.

Deu 30: (19)Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie

Moses kon egter nie die hele Deuteronomium skryf nie, omdat dit vertel van sy eie dood. Vanaf Deuteronomium 31 skryf die skrywer weer in die tweede persoon:

Deu 31: (1)Moses het met die hele Israel gaan praat

Deu 34: (5)Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het. (6)Hy het vir Moses begrawe in ’n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

Voetnotas

[1] Kyk ook die volgende bronne:

1 thought on “Moses”

  1. Nog steeds verstaan mense nie die heiligheid van God en dat Hy absolute gehoorsaamheid vereis nie. Daarom verstaan hulle ook nie die omvang van Christus se verlossing vir ons nie en daarom verstaan hulle ook nie dat ek nie maar my eie reëls kan maak of besluit watter opdragte van God ek wil uitvoer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui