Levitikus 20:13: Eksegese en hermeneutiek

Kyk ook:

Freek Robinson het Sondag 25 Oktober 2015 ’n gesprek gehad met Frits Gaum en Nelis Janse van Rensburg oor die NG Kerk se Gay besluite.

Nelis het in die gesprek gesê ons werk die afgelope 30 jaar met ’n “historiese lees” van die Bybel. Dit is op grond daarvan dat die kerk sou afgesien het van apartheid, hoede vir vroue, en net mans op die preekstoel. Hy het ook melding gemaak van die Du Plessis-saak en gesê jy kan die Bybel nie letterlik lees nie. Hy het gesê jy moet probeer verstaan wat die skrywer wou sê in die konteks. Dit is ’n paar gedagtes soos ek kan onthou wat in die onderhoud gesê is.

Volgens Nelis het die “historiese lees” van die Bybel nou glo gewys dat Lev 20:13 verwys na kultiese gebruike van die Baälgodsdienste en nie na vandag se SGV> van liefde en trou nie. Andre Bartlett loop ook al lank met hierdie soort uitleg van die OT in ’n verslag wat voor die Sinode van Suid-Transvaal gedien het. Sien: Die NG Kerk het onbetroubaar geword om die Bybel uit te lê

Ek dink dit is belangrik dat ons vir onsself duidelikheid moet kry oor hierdie soort uitleg van die Bybel.

Dit is natuurlik bog om voor te gee dat die sg “historiese lees” van die Bybel ’n nuwe ding is. Eksegese van ’n teks begin nog al die tyd by ’n poging om te verstaan wat die skrywer van die Bybel wou sê. Dit is waarom daar kommentare in ’n predikant se boekery is. Kommentatore maak ’n studie van die agtergrond, van die skrywer en van die mense aan wie die boodskap gerig is.

Die volgende stap is hermeneutiek. Jy probeer om te verstaan wat die implikasies van dit wat 3000 jaar gelede geskryf is vir ons vandag is. Hoe pas jy dit toe? Eers dan kan jy begin om ’n preek te maak (homiletiek).

Nelis en sy vriende oortree by die eerste stap, nl eksegese. Hulle doen ’n eiewillige eksegese oor Lev 20:13: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. Nelis wil sê dat die skrywer (dit is natuurlik Moses), die lelike gebruike van die heidene in gedagte gehad het toe hy dit gesê het. Vandag is daar volgens Nelis skynbaar ook “’n mooi homoseksuele verkeer”, wat Moses nie geken het nie en dus ook nie deur hom veroordeel word nie. Dit is nou die verhouding van “liefde en trou” waarvan hulle praat.

Ons moet die volgende hier raaksien oor die eksegese van Lev 20:13:

  • Die konteks van Lev 20:13 is voorskrifte (wette) vir Israel. Die opskrif deur die Bybelvertalers is: Oor seksuele verhoudings. Homoseksuele verhoudings is net een van hierdie seksuele verhoudings. Dit gaan in die konteks hier oor ’n man wat gemeenskap het met sy naaste se vrou (egbreuk), met sy skoondogter, met ’n ander man, met ’n dier, met sy suster of halfsuster, met ’n vrou wat menstrueer, met sy tante of met sy skoonsuster. Dit is alles verbode seksuele verhoudings en optredes wat so ernstig is dat dit met die dood gestraf moes word.
  • Al hierdie soort seksuele verhoudings het by die heidene voorgekom en nie net homoseksuele verhoudings nie. Al hierdie seksuele verhoudings het ook by Israel voorgekom, homoseks ingesluit. Dit is dus onaanvaarbare eksegese om net een van hierdie verhoudings in die konteks uit te lig nl. homoseksuele verhoudings en voor te gee dat Moses in hierdie geval gewaarsku het teen heidense gebruike om sodoende ’n punt te wil maak nl dat dit ’n bepaalde karakter gehad het.
  • Dit is ook onaanvaarbare eksegese om voor te gee dat daar nie langdurige homoseksuele verhoudings (van liefde en trou) in die antieke tye voorgekom het en dat Moses en Israel skynbaar nie daarvan bewus was toe hulle die wet ontvang het nie. Uit die aard van menswees was daar sekerlik sulke verhoudinge en daar word geen uitsondering in die wet gemaak vir mense in langdurige homoseksuele verhoudinge nie.
  • Die voorskrifte is vir Israel gegee omdat dit in die oë van die Here verkeerd was. God wou nie gehad het dat sy volk so moes lewe nie – punt! Israel was uit al die nasies vir die Here afgesonder. Hulle moes anders wees as die ander volke. Hulle moes heilig wees. Die voorskrifte was bedoel om hulle heiligheid as volk van God te bevestig. Lev 19:2 is sentraal in al hierdie voorskrifte: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig! Keil & Delitzsch se kommentaar hierop is: “The commandment in Lev 19:2, ‘to be holy as God is holy,’ expresses on the one hand the principle upon which all the different commandments that follow were based, and on the other hand the goal which the Israelites were to keep before them as the nation of Jehovah.”

Dit was nou die eksegese. Wat nou van die hermeneutiek. Hoe pas ons hierdie wette toe op vandag se tyd?

  • Om vir onsself duidelikheid hieroor te kry, moet ons kyk na die “leer van die apostels” (Hand 2:42). Ons moet na ander plekke in die Bybel kyk om ’n gepasde toepassing van die OT vir ons dag te maak.
  • Die eerste wat ons moet raaksien is dat ons net soos Israel van ouds ’n heilige lewe moet lei. Ons moet anders wees as die mense van hierdie wêreld. Petrus bevestig dit in 1 Pet 1:16: Wees heilig want ek is heilig!
  • Daar is voorskrifte wat nie net so van toepassing is vir ons vandag nie. Dit geld die seremoniële wette wat in Christus vervul is. Daar is voorskrifte vir offerandes en reiniging wat nie meer op ons van toepassing is nie. Daar was ook voorskrifte oor diere wat nie geëet mag word nie. Dit het verander in die NT. Paulus praat baie oor kos omdat dit so aktueel was in die vroeë kerk. Een van sy belangrike verklarings is: Rom 14:17: Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.
  • Daar is egter voorskrifte in die wet wat onveranderd gebly het en dit gaan veral oor ons morele of sedelike lewe. Oor eet en drink waarsku Paulus dat ons nie daaroor met mekaar moet rusie maak nie, maar oor ons sedelike lewe waarsku hy dat ons, ons nie moet laat mislei nie. 1 Kor 6:11 is ’n goeie voorbeeld: Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Volgens hierdie eksegese en hermeneutiek is dit duidelik dat Lev 20:13 definitief vir ons ’n uitdrukking is van God se wil oor ’n homoseksuele lewenswyse. Ons moet dit op die kerk van toepassing maak.

Dit is dan ’n paar opmerkings ook die “historiese lees” van die Bybel, wat die kerkleiers nou van ons vra.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui