NG gemeente Kokstad se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.

Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer minagting wat dit verdien. Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.

Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.

Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.

Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.

Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.

Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God:

Ons verbind ons opnuut tot die:

  • Sola Scriptura – Alleen God se Woord is waarheid
  • Solus Christus – Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
  • Sola Fide – Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
  • Sola Gratia – Alleen uit genade word ons weer met God versoen.
  • Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.

Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid: Nederlandse Geloofsbelydenis, Dordtse Leerreëls en Heidelbergse Kategismus. Ons onderskryf hulle op die Qua standpunt (ons verwerp hiermee die quatenus standpunt).”

NG Kerk Kokstad het verder die volgende op hul Facebook blad geplaas:

“Hierdie skrywe is gister aan die Moderamen van die Sinode KZN voorgehou en die Sinode van KZN het hulle herverbind aan die solas en Gereformeerde Belydenisskrifte soos verwoord in die ware Artikel 1 van die Kerkorde. Daar is ook ’n brief wat na die Algemene Sinode sal gaan om die diep en breë ongelukkigheid in die Sinode van KZN rondom die besluit van eengeslag verhoudinge met redes te verwoord. Dit sal in die Posduif en ’n ope brief aan gemeentes en lidmate deurgegee word.”

Gaan lees meer op hul Facebook-blad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui