Ring dreig NG Kerk oor gays

Kyk ook:

TALLE SPESIALE SINODES OP PAD

Ring dreig NG Kerk oor gays

Hulle wil geldkraan toedraai

Deur Pieter Steyn, 27 Oktober 2015 02:00

Nes die kerk apartheid 40 jaar lank verkeerdelik uit die Bybel geregverdig het omdat dit regeringsbeleid was, so regverdig die kerk nou verkeerdelik gay-verbintenisse.

So lui ’n besluit van die ringskommissie van Louis Trichardt oor die algemene sinode van die NG Kerk se besluit dat gays dieselfde voorregte mag geniet as heteroseksuele lidmate.

Die ring, wat uit sewe gemeentes in Limpopo bestaan, sê die besluit dat kerkrade mag besluit wat vir een sonde is en vir ander gehoorsaamheid, asook die feit dat die algemene sinode nie opgetree het in die gemeenskaplike belang van die NG Kerk (in geheel) nie, het “prakties die sinodale verband met die NG Kerk verbreek”.

Die ringskommissie sê voorts hulle sal aanbeveel dat alle finansiële bydraes na die algemene sinode gestaak word as die noordelike sinode nie die algemene se sinode se besluit, wat “sondig” is, “aanpak en opklaar” nie.

Intussen het die Oranjevallei-gemeente in die Noord-Kaap ’n buitengewone sitting van die ring van Upington versoek om uiteindelik ’n buitengewone sinode in die Noord-Kaap te versoek om die algemene sinode se besluit te bespreek.

Ds. Gert Barnard, leraar van Oranjevallei, sê benewens sy kerkraad en gemeente se ontevredenheid oor die gay-besluit is hulle ook ontevrede oor die algemene sinode se besluit dat die sinode van die Wes- en Suid-Kaap hul belydenisgrondslag kan verruim om Belhar as belydenisskrif te aanvaar.

“By die sinode van die Noord-Kaap in 2014 het die sinode besluit dat enige kerk wat Belhar as belydenis aanvaar ’n ander kerk buite die NG Kerk word. Die algemene sinode het met sy besluit effektief gesê ons steur ons nie aan die Noord-Kaap nie.”

Ds. Bootje Booysen, voorsitter van die ring van Upington, het gesê hy het die versoek om ’n buitengewone ringsitting ontvang en daar sal vroeg in November ’n sitting wees.

“Ons sal praat en besluit of ons ’n buitengewone sitting van die Noord-Kaapse sinode gaan aanvra, aangesien die gewone sinode vroeg in Oktober gaan sit. Sinodes is duur.”

Die sinode van die Wes-Transvaal hou al op 19 November ’n buitengewone sitting.

Ds. Nico van Rensburg, predikant van sinodale bedieninge van dié sinode, sê die sinode word nie geroep om te besluit om weg te breek van die sinodale verband met die algemene sinode nie, maar dit is moontlik dat so ’n besluit geneem kan word. “Ons het die sinode geroep sodat ons as familie in die Wes-Transvaal daaroor kan besin. Ons kan nie ’n besluit neem oor die algemene sinode se besluit nie.”

In die Vrystaat het ds. Helgard Janse van Rensburg, moderator van die Vrystaatse sinode, gesê hy het versoeke ontvang van kerkrade om ’n buitegewone sinode.

In die Vrystaat moet ten minste vyf gemeentes uit vyf verskillende ringe ’n gemotiveerde versoek om ’n buitengewone sinode rig.

“Ek kan nie sê hoeveel versoeke ek ontvang het nie, maar dis nog nie genoeg om ’n buitengewone sinodesitting te belê nie.”

Die Vrystaat se volgende gewone sinode is eers in 2017.

Dr. Dawie Botes, leraar van die Vrede-Wes-gemeente, wat hom vroeër sterk uitgespreek het teen die besluit oor gays, het gesê hy is in kontak met verskeie leraars en kerkraadslede van oor die hele Vrystaat heen en meen daar sal meer as genoeg versoeke vir ’n buitengewone Vrystaatse sinode wees.

Lees ook: NG gays is nog ‘skrikkerig’

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui