Eksegese

Hier volg ‘n paar definisies van eksegese:

  • Eksegese vra: “Wat het die teks beteken vir die eerste lesers daarvan?”
  • Eksegese probeer vasstel wat die oorspronklike skrywer bedoel het en hoe die eerste lesers dit sou verstaan het.
  • Eksegese is die vertolking of kritisiese interpretasie van ’n teks.
  • Eksegese is die proses om ‘n teks te ondersoek om vas te stel hoe sy eerste lesers dit sou verstaan het.
  • Eksegese is wanneer jy jouself hipoteties in die eerste lesers van ‘n gedeelte se skoene plaas om die konteks aan ’n spesifieke teks te gee.

Eksegese word gedoen deur die bestudering van die taal, grammatika, historiese konteks, literêre genre en kultuur.

Hermeneutiek vs eksegese

Hier volg ‘n paar:

  • Eksegese vra: “Wat het die teks beteken vir die eerste lesers daarvan?” Hermeneutiek is die beginsels wat gebruik word om hierdie vraag te antwoord.
  • Hermeneutiek is die beginsels waarop eksegese gedoen word.
  • Hermeneutiek is die reëls van grammatika. Eksegese is die ontleding van ‘n spesifieke sin volgens daardie grammatikareëls.
  • Hermeneutiek is die gereedskap. Eksegese gebruik die gereedskap om die betekenis te kry.
  • Die hermeneutiek (reëls) bepaal die eksegese (verstaan) van ’n gedeelte.

Voorbeelde

1. Filippense 4:13

Filippense 4: (13)Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Baie mense verstaan dit as: “Ek kan enige doel bereik – ‘n eksamen slaag, ‘n marathon wen of ‘n besigheid suksesvol maak.”

Eksegese vra egter wat die konteks is.

As jy die voorafgaande verse (Fil. 4:11–12) lees, sien jy Paulus praat daarvan dat hy geleer het om tevrede te wees in armoede én oorvloed. Daarom beteken vers 13:

“Christus gee my die krag om getrou te volhard, ongeag my omstandighede.”

Dit is eksegese: die betekenis word uit die konteks afgelei.

2. Jeremia 29:11

Jeremia 29: (11)Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Baie mense lees dit as ‘n persoonlike belofte van voorspoed.

Maar eksegese vra:

  • Wie is die “julle”?
  • Wanneer is dit gesê?
  • Waarom?

Die antwoord:

  • God praat met die Joodse ballinge in Babel.
  • Hulle sou 70 jaar in ballingskap wees.
  • Die belofte is dat God sy verbondsvolk uiteindelik sal terugbring.

Die oorspronklike betekenis is dus nie ‘n algemene belofte dat elke gelowige altyd voorspoedig sal wees nie.

3. Jeremia 44:11

Jeremia 44: (11)Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gaan Ek julle swaar straf en die hele Juda uitroei.

Die rede hoekom ons nie hierdie gedeelte op ons van toepassing maak nie is omdat dit nie ‘n algemene stelling vir volgelinge van God is nie, maar vir Israel.

Kyk ook Why Don’t More Churches Teach THIS? (Frank Turek, CrossExamined, Youtube, 17 Jun 2026).

4. Die barmhartige Samaritaan

In Lukas 10 vertel Jesus die gelykenis nadat ‘n wetsgeleerde vra: “Wie is my naaste?”

Eksegese vra:

  • Waarom kies Jesus juis ‘n Samaritaan as die held?
  • Wat was die verhouding tussen Jode en Samaritane?

Wanneer ons die historiese agtergrond verstaan, besef ons hoe skokkend Jesus se antwoord vir sy gehoor was. Die punt is nie bloot “wees vriendelik” nie, maar dat liefde vir die naaste selfs mense insluit wat jou volk as vyande beskou.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui