Die NG Kerk het onbetroubaar geword om die Bybel uit te lê

Kyk ook:

Ek wil in hierdie artikel aan die hand van twee voorbeelde uitwys hoe van die NG Kerk se teoloë, valse en eiewillige voorstellings maak van wat in die Bybel staan en dus onbetroubaar geword het om aan die lidmate leiding te gee oor aktuele sake van ons tyd.

Hierdie teoloë se antwoord op kritiek oor hulle Skrifgebruik is dat dit oor hermeneutiek gaan.

Dit is soos hulle dit by die afgelope Algemene Sinode van 2013 gestel het:

  • Die Algemene Sinode herbevestig dat die Skrif en Belydenis gelees moet word binne hulle historiese konteks en dat hulle met verantwoorde hermeneutiek vertolk sal word, sodat ons die leiding van die Gees vir ons tyd kan hoor. (Na aanleiding van Beskrywingspunt 27 vanaf Sinode Hoëveld: Twyfel saai oor geloofswaarhede)

By die omstrede besluit oor die duiwel by die AS 2013 (dat daar lidmate is wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar) is die antwoord van die Sinode se teoloë op die beswaarskrifte oor die saak as volg:

  • In die lig van al die onderwerpe wat gedien het by leerstellige- en aktuele sake by die Algemene Sinode van 2013 is die behoefte baie duidelik identifiseer aan ’n indringende gereformeerde hermeneutiek wat verantwoordbaar en prakties toepaslik is.
  • In die lig van ons luisterproses wil ons aanbeveel dat die Algemene taakspan vir leerstellige- en aktuele sake bruikbare materiaal (Bybelstudiemateriaal) uitbring met praktiese voorbeelde aangaande die lees, verstaan en vertolking van skrif en belydenisskrifte ten opsigte van leer- en etiese sake.
  • Die bestaande besluite van die kerk oor Skrifgesag en Skrifgebruik en vertolking van belydenisskrifte moet daarin gereflekteer word.

By die Sinode se besluite oor homoseksualiteit kry ons ook woorde soos: “deeglike eksegetiese en teologiese studie” en “in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer”.

In beginsel is daar natuurlik nie beswaar in te bring teen die bewoording van die besluite soos hierbo aangehaal nie. Die Kerk en sy leraars het voortdurend ’n verantwoordelikheid om die Skrif uit te lê en toe te pas vir ons eie tyd. Dit is waaroor “hermeneutiek” gaan. Elke keer wanneer ’n leraar ’n preek voorberei moet hy vir hom (of haar) duidelikheid kry oor die konteks waarin ’n teks geskrywe was en dan moet dit toegepas word vir die situasie vandag.

Die lukrake wyse waarop die teoloë van die NG Kerk met die beginsels van hermeneutiek van die Skrif omgaan is egter waar die probleem inkom.

Vir die doeleindes van hierdie artikel bespreek ek twee verslae wat by sinodes gedien het. Die een is die Verslag oor Bevryding wat voor die Algemene Sinode van 2011 gedien het en die ander is ’n verslag wat voor die Sinode Hoëveld (toe nog Sinode Suid-Transvaal) in 2001 oor homoseksualiteit gedien het.

A. VERSLAG BEDIENING VAN BEVRYDING – ALGEMENE SINODE 2011

Die verslag is opgestel omdat daar ’n versoek gekom dat die Kerk sal raad gee oor die verskynsel dat daar mense in die kerk is wat ’n ”bediening van bevryding” het. Dit is ’n baie aktuele aangeleentheid, want dit gaan daaroor dat mense se afwykende gedrag in sekere situasies aan demoniese aktiwiteite of bindinge toegeskryf word. Daar is Christene wat ’n bediening het om mense van die duiwel te bevry, soos Jesus en die apostels dit gedoen het. Dit gebeur veral, maar nie uitsluitlik nie, in ’n konteks waar sendingwerk onder heidene gedoen word.

Die verslag met die aanbevelings vir goedkeuring is opgestel deur ATLAS – Algemene Taakgroep vir Leer en Aktuele Sake. Van die NG Kerk se mees invloedrykste teoloë het aan hierdie verslag saamgewerk.

Ek gee die OPSKRIFTE in die verslag weer en bespreek hier en daar die inhoud.

1. OPDRAG

2. BEGRIPSVERKLARING

3. OU TESTAMENT

Dit is hier waar die wenkbroue begin lig.

Om te verstaan waaroor dit gaan moet ons vir mekaar sê dat die woord Satan 51 keer in die Bybel voorkom. Dit word telkens met ’n hoofletter geskryf omdat dit die naam van ’n persoon aandui (Sien bv Job 1:6 en 2:1; Sag 3:2; Luk 10:18 en Op 12:9).

Die verslag begin hier as volg:

“Die Hebreeuse woord satan word meestal vertaal met “teenstander”. In die OT word satan dikwels gebruik as beskrywing van ’n mens wat bloot iemand se teenstander is, byvoorbeeld Hadad, Salomo se teenstander (1 Kon 11:14, 1 Sam 29:4), Haman die teenstander van die Jode (Ester 8:1). Vier keer verwys die OT na “satan” as ’n bo-menslike wese (Day 1999:727)”.

Num 22 word voorgehou as die eerste geval waar ons van Satan lees. Dit is nie ’n korrekte interpretasie van die teks nie. Ons lees daar (vers 22): ”die Engel van die Here het vir Bileam in die pad voorgestaan om hom te keer” (satan).

Die woord “satan” word hier geïnterpreteer as ’n persoon en op ’n vreemde manier verhef tot ’n bo-menslike wese. Die verslag sê: “In hierdie vertelling is die satan nie die hoogste manifestasie van boosheid nie, trouens hy is ’n boodskapper van die Here”. (my onderstreping)

Dit is ’n merkwaardige eksegese. Die woord satan word hier deur die Bybelskrywer gewoon ingespan om te verduidelik dat die Engel van die Here vir Bileam “teengestaan” het. Dit kom so uit in verskillende Bybelvertalings: “voorgestaan om hom te keer” (1983 Vertaling); “gaan staan in die pad as sy teëparty” (1953 Vertaling); “placed himself in the way for an adversary against him” (American Standard); ”stood in the way as an enemy against him” (Modern King James).

Wat hierdie uitleg nog meer vreemd maak is die feit dat die skrywers self ’n paar sinne hoër op verduidelik dat die woord satan dikwels “bloot iemand se teenstander is”. Hier word die woord egter verhef tot een van die vier gevalle waar: “die OT na ‘satan’ as ’n bo-menslike wese” verwys. Wat sou die bedoeling met so ’n interpretasie wees?

Dit is terloops opvallend dat die verslagskrywers wil voorgee dat ons in hierdie teks nie te doene het met die Bybelse “Engel van die Here” van wie ons op ander plekke lees nie (Eks 14:9, Rigt 13:3, Ps 34:6 ens). Hulle val terug op die vertaling van “engel” as “boodskapper” en wil nie rekening hou met die aanvaarde verklaring dat die Engel van die Here (’n bepaalde hemelse wese wat met die volmag van die Here optree en dus met ’n hoofletter gespel word) hier optree nie. Die vraag is weereens: Waarom word gepeuter met die voor-die-hand-liggende en algemeen erkende verstaan van die teks?

Job 1:6 en 2:1 word as die tweede geval voorgehou waar ons van die Satan lees. Ons teoloë meen egter hy is nie noodwendig hier “die Satan” nie. Ek haal aan: “Die lidwoord ‘die’ maak dit byna seker dat satan hier nie ’n eienaam is nie – dus steeds ‘die teenstander’ of ‘die satan’, volgens Day (1999:727).” Weereens wyk ATLAS hier af van die algemene verstaan van die teks deur Bybelvertalers, wat Satan hier met ’n hoofletter skryf, m.a.w. een van die 51 gevalle waar die Bybel oor die Satan praat.

Sag 3:1 is die derde geval waar ons die Satan as ’n bo-natuurlike wese in die Bybel teëkom. Die skrywers van die verslag merk hier op: In die Bileam-verhaal in Numeri 22 is God se boodskapper en satan een persoon, maar in Sagaria 3 is hulle twee opponerende partye. Sou dit dalk dui op ’n ontwikkeling by Israel oor die begrip van die bose en Satan?”

1 Kronieke 21:1 is die vierde geval waar ons lees: “Satan was teen Israel”.

Ander plekke in die OT?

As ons “teologies” na die Bybel wil kyk soos die Sinode in sy besluite voorstel, sal ons nie kan volstaan met die drie gevalle in die OT (drie en nie vier nie, want Num 22 gaan nie oor die Satan nie), waarvan ATLAS praat nie. As ons praat van die Bose in die Bybel gaan dit immers nie net oor die naam Satan nie, maar oor die optrede van die duiwel in die algemeen.

Genesis 3 is ’n sleutelbelangrike gedeelte, waar ons lees dat die “slang” vir Adam en Eva verlei het om te eet van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad. Openbaring 12 help ons om daardie geskiedenis en die implikasie daarvan te verstaan as ons daar lees: “Die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.” (Op 12:9) Hoe is dit dan dat ons teoloë nêrens in hulle verslag hierdie verband lê tussen die OT en die NT om ’n behoorlike verstaan van die duiwel in die Skrif vir ons te gee nie?

Ons lees ook verder in die OT van ’n bose gees wat van Saul besit geneem het (1 Sam 16:14). In 2 Kron 11:15 en ander plekke lees ons ook van veldgode, veldduiwels of doodgewoon duiwels (’n “bokram” in Hebreeus), wat aanbid is en op plekke geheers het.

As ons die Bybel teologies lees of die volle boodskap in aanmerking neem, was al die afgode wat vir Israel so ’n groot versoeking was, in werklikheid gestaltes van die duiwel. Dit is wat Paulus sê in 1Kor 10:19: Wat wil ek hiermee sê? Dat ’n afgodsoffer of ’n afgod enige betekenis het? 20 Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan bose geeste (daimonion) offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met bose geeste gemeenskap hou nie.

4. TYDPERK TUSSEN OU EN NUWE TESTAMENT

Zoroastrianisme-godsdiens

Hier word die gedagte van ’n ontwikkeling van die konsepte oor die Bose by Israel verder gevoer met die suggestie dat: “die Jode in daardie tyd beïnvloed is deur die Zoroastrianisme-godsdiens wat sy oorsprong in Iran gehad het. In daardie tyd was daar ’n sterk Joodse gemeenskap in Iran……Die Zoroastrianisme-godsdiens was ’n half-monoteïstiese godsdiens. Dit het een groot kenmerk gehad: ’n skeppergod wat teengestaan is deur ’n duiwelfiguur (in Griekse geskrifte diabolos, die “teenstander” genoem). ’n Belangrike element in die Zoroastrianisme was die idee van ’n finale geveg tussen die skeppergod en die diabolos waarin die diabolos in ’n hel van vuur gegooi sou word”.

Die apokaliptiese geskrifte

Die apokaliptiese geskrifte het ook ’n rol gespeel in die ontwikkeling van die Joodse denke oor die Satan: “Die oorsprong van ’n meer uitgebreide Joodse denke oor die Satan en sy bose magte lê waarskynlik veral in die apokaliptiese geskrifte. Dié geskrifte, wat meestal dateer uit die tydperk 200 vC – 100 nC, is almal geskryf in ’n tyd toe Israel deur ’n ander land of ryk beheer is”.

“Die ontwikkeling van die konsep van Satan in die tydperk tussen die Ou en Nuwe Testament is dus dat die ondervinding van Israel van “wreedheid, ongelijkheid, pijn en lijden” op ’n geweldige skaal… die smeltkroes is wat lei tot die oortuiging dat die Bose groter en magtiger is as die boosheid in mense.”

Ons kry hier die eerste keer, die gedagte van “die boosheid in mense”, by die verslagskrywers. Ons moet aflei dat ATLAS vir ons hier wil sê dat Israel aanvanklik nie aan die Bose as ’n persoon gedink het nie, maar net as “die boosheid in mense”. Ons lei af hulle wil sê dat dit Israel se lyding in die tussen-testamentêre tyd is wat veroorsaak het dat die konsep van die Bose met ’n hoofletter by hulle ontstaan het. Hierdie gedagte dat die boosheid ’n nie-persoonlike konsep is word later verder gevoer.

5. DIE DUIWEL EN DEMONE IN DIE NUWE TESTAMENT

Die “ontwikkeling in die konsep van die Bose in die tussentestamenêre tydperk” word nou die basis vir die verstaan van die duiwel in die NT, waar Satan, die duiwel en bose geeste ’n baie meer pertinente rol speel as in die OT. Die Satan het nou ’n figuur met “trawante” geword.

Hier kom ATLAS verder met die vreemde terloopse aanhaling van prof Hermie van Zyl vorendag: “Dit is veral in die Pauliniese briewe waarin ons lees van ‘bonatuur­like, onpersoonlike mag(te) waaraan die mens uitgelewer is’. Die Griekse woorde in gebruik is woorde soos aragai, eksousia, of die begrip ‘antichris’.” As die skrywers hiermee wil voorgee dat Paulus aan onpersoonlike magte gedink het toe hy daardie woorde gebruik het is dit doodgewoon nie waar nie. Hy gebruik daardie woorde bv in die volgende konteks: Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel”. (Ef 6:11) Onpersoonlike magte kan immers nie listige aanslae maak nie!

6. MITOLOGIESE TAAL WAT ONTMITOLOGISEER MOET WORD?

Hier kry ons die voorbeeld van die seun wat skynbaar epileptiese aanvalle gekry het (Matt 17:14-20). Jesus het ’n bose gees in die seun aangespreek en die seun het gesond geword.

Die vraag word geopper of ons nie hier met ’n “voorwetenskaplike” verstaan van ’n siekte of ’n “mitologiese wêreldbeeld” te doen het nie.

Ons kry nie ’n antwoord op die vraag nie. Daar is egter: “gevalle in die evangelies wat die omstanders beleef het dat iemand nie alleen genees is nie maar dat een of ander bose mag in die persoon verbreek is”.

7. BESTAAN DIE DUIWEL REGTIG? DIE POSISIE VAN DIE KLASSIEKE TEOLOGIE

7.1 DIE DUIWEL EN BOSE MAGTE IS PRE-MODERNE TAALGEBRUIK WAT DIE WARE BOODSKAP VAN DIE EVANGELIE VERDUISTER

7.2 DIT IS ETIES ONVERANTWOORDELIK OM DIE OORSAKE VIR MENSE SE OPTREDE BUITE HULLESELF TE LOKALISEER

8. DIE 20ste EEU: DIE DUIWEL KOM WEER

8.1 IN DIE GEREFORMEERDE TEOLOGIE

8.2 BY CHARISMATE EN ATEÏSTE

8.3 DIE 20STE EEU: DIE DUIWEL IN DIE STRUKTURE VAN DIE SAMELEWING

9. ’n PERSOONLIKE DUIWEL?

10. “GLO JY AAN ’n PERSOONLIKE DUIWEL?’ IS NIE DIE REGTE VRAAG NIE

11. DEMONE EN DIE DEMONISERING VAN MENSE: ’n WERKLIKHEID?

12. DIE KONTEKS VAN DIE GESPREK IN ONS KERK

12.1 DIVERSITEIT ONDER NG LIDMATE

12.2 KERK IN AFRIKA

12.3 DIE PERSPEKTIEWE VAN DIE PSIGOLOGIE, PSIGIATRIE EN ANTROPOLOGIE

12.4 SAMEVATTING: BEOORDELING TE MIDDE VAN DIVERSITEIT

12.5 GEVARE WAT VERMY MOET WORD, GRENSE WAT NIE OORSKRY MOET WORD NIE

13. POSISIE VAN ANDER KERKE

13.1 DIE ROOMS-KATOLIEKE KERK

13.2 DIE ANGLIKAANSE KERK

13.3 DIE APOSTOLIESE GELOOFSENDING (AGS)

Vanaf punt 7 in die verslag het die teoloë van ATLAS afstand gedoen van die openbaring in die Bybel vir die verstaan van die bo-natuurlike werklikheid. Hulle neem hiervandaan hulle toevlug tot die opinies in die filosofie en die sielkunde. Die opskrifte van Punt 7 af en verder vertel die hele verhaal en daar is nie veel opheldering hieroor nodig nie. Die gevolg is dat daar uiteindelik oor omtrent alles ’n vraagteken hang – selfs oor die bestaan van die duiwel al dan nie!

SAMEVATTING

  • Die kerk is genader om van sinodale kant leiding te gee oor die sg. bediening van bevryding na ervaringe hieroor in Mosambiek.
  • Volgens die verslag hoor ons nie baie in die OT van die duiwel nie. Dit is blykbaar selfs nie duidelik of Israel aan die Bose as ’n persoon gedink het nie.
  • In die tyd tussen die OT en die NT was daar faktore wat die konsep van Satan as ’n persoon onder die Jode bevorder het.
  • In die NT hoor ons baie van Jesus se konfrontasies met die duiwel, maar dit moet dalk toegeskryf word aan’n verskynsel wat ons in voorwetenskaplike kulture aantref. Ons moet ons afvra in hoeverre is die taal van die Bybel hier mitologiese taal wat onmitologiseer moet word?
  • Daar word heelwat aandag gegee aan standpunte buite die Bybel.
  • Uiteindelik is dit ’n ope vraag of daar regtig iets soos die duiwel bestaan!
  • Ons moet aanvaar dat lidmate verskillende opinies oor die sake het en ons moet ruimte maak vir mekaar se sienings.

Die vraag aan die Kerk was om leiding te gee oor “bevryding” van mense wat onder beheer van die duiwel gekom het. In die antwoord sê die kerk ons moet rekening hou met die feit dat daar dalk glad nie ’n duiwel is nie!

Geen wonder dat prof Deon Thom in ’n beswaarskrif gesê het dat hierdie verslag en besluit ’n ongekende historiese laagtepunt in die geskiedenis van die NG Kerk verteenwoordig. As daar nie ’n persoon naas God bestaan wat ons Satan noem nie, maak baie dinge net nie meer sin nie. Ons dink aan die sondeval, lyding in die skepping, die “losprys” van Jesus aan die kruis, die koninkryk van God, ons verstaan van die boek Openbaring, die wederkoms en die finale oordeel – niks hiervan maak meer meer sin nie. Dit vra ’n nuwe hermeneutiek van omtrent die hele Bybel.

Dit bring ons by ’n volgende verslag wat by die Sinode Suid-Transvaal in 2001 gedien het nl.

B. HERBESINNING OOR DIE KERK SE STANDPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT MET DIE OOG OP EFFEKTIEWE PASTORALE UITREIK NA HOMOSEKSUELE PERSONE

Ek sal probeer om eerstens ’n objektiewe opsomming van die verslag te gee. Dit is belangrik, omdat hierdie dokument as ’n gespreksdokument vir die kerk goedgekeur is en waarskynlik ’n invloed gehad het op latere argumente en besluite rondom die saak. Aan die einde maak ek ’n beoordeling van die manier waarop die medewerkers van die verslag die Skrif hanteer. Dit is waaroor dit vir my in hierdie artikel gaan en nie om ’n beoordeling te maak van die ingewikkelde kwessies rondom homoseksualiteit in die kerk en die samelewing nie.

In die verslag word die standaard tekste waar homoseksualiteit ter sprake is eksegeties bespreek. Daar word telkens ’n meer konserwatiewe of erkende uitleg gegee en daarna ’n alternatiewe uitleg.

1. Genesis 1:27-28

Gen 1:27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit

Aan die een kant gaan dit hier oor die feit dat God die mens manlik en vroulik geskape het. Dit is ’n skeppingsordening en daarom is dit normatief vir die inrigting van menslike seksuele omgang in die samelewing. In die lig van die feit dat homoseksualiteit nie beantwoord aan die voortplantingsdoel waarmee God die mens geskep het nie, moet dit beskou word as ’n perverse afwyking van die Godgewilde skeppingsorde.

Hierteenoor is daar kommentatore wat daarop wys dat die skepping van die mens as man en vrou nie in die eerste plek oor ons seksualiteit gaan nie. Dat vers 28 nie ’n opdrag tot voortplanting is nie, maar ’n toesegging van seën. Dit word nie as bewysmateriaal teen homoseksualiteit beskou nie.

2. Genesis 2:18-25

Gen 2:18 Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” 19 Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. 20 Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. 21 Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. 23 Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” 24 Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. 25 Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

Aan die een kant word die skepping van die man en die vrou gesien as die totstandkoming van die heteroseksuele man-vrou- verhouding as ’n universeel geldende skeppingsordening.

Hierteenoor word daarop gewys dat dit in hierdie deel gaan oor die vraag wat die oorsprong van die aantrekkingskrag tussen man en vrou is.

3. Genesis 19: 1-29 en Rigters 19:16-29

In Gen 19 kry ons die geskiedenis van Sodom waar die mans van Sodom met die engele van God gemeenskap wou hê (sodomiseer).

Aan die eenkant van die gesprek word die standpunt gehandhaaf dat die toorn van God wat gelei het tot die verwoesting van Sodom, direk verbandhou met die homoseksualiteit van die inwoners van die stad.

Hierteenoor word daarop gewys dat daar in die verhaal van Genesis 19 nie sprake is van homoseksualiteit as sodanig nie, maar van ’n poging tot homoseksuele verkragting (Louw 1980:104; Germond 1997: 214; Sehested 1999:54-55). Dit word bevestig deur die verwante verhaal in Rigters 19 waar ’n groep mans dit nie kon regkry om seksuele verkeer met ’n Leviet te hê nie en dan sy byvrou op so erge wyse verkrag dat sy daarvan beswyk. Voorts word daarop gewys dat dit in albei verhale gaan oor die gruwelike skending van die oud-Oosterse gasreg wat vereis het dat vreemdelinge met die uiterste gasvryheid ontvang moes word (Von Rad 1972: 218; Louw 1980:104).

4. Levitikus 18:22 en 20:13

Lev 18:22 “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.

Lev 20:13 “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

Aan die een kant vandie gesprek word hierdie twee verse as van die duidelikste aanduidings in die Ou Testament gesien dat geslagsgemeenskap tussen mans onderling verbied word (Atkinson 1979:91). Dit word afgelei uit die feit dat dit as ’n walglike en haatlike daad (tô’evâ, NAV: “gruwelike sonde”) beskryf word.

Hierteenoor word daarop gewys dat hierdie twee gedeeltes waarskynlik nie oor homoseksualiteit as sodanig handel nie, maar oor bepaalde tipe homoseksuele dade, naamlik oor kultiese tempelprostitusie wat algemeen in die Kanaanitiese vrugbaarheidsrituele beoefen is. Bevestiging hiervoor word gevind in die betekenis van die term tô’evâ, wat in kultiese kontekste dui op iets wat in rituele sin uiters ongewens is omdat dit verband hou met afgodiese godsdienstige praktyke (Collins 1977:162; Maarsingh 1980:157-158: Sehested 1999:56)… Die bedoeling is om te sê dat sulke seksuele dade, of dit nou homoseksueel of heteroseksueel is, nie tuis hoort in die erediens van Israel nie.

5. Romeine 1:26-27

26 Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. 27 Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.

Aan die eenkant van die gesprek word hierdie twee verse beskou as die duidelikste bewys dat die Bybel geheel en al teen homoseksuele gedrag gekant is. Dit word beskryf as die manifestasie van “skandelike drifte” en as “teen die natuur” (para fusin). Laasgenoemde uitdrukking word in verband gebring met God se skeppingsorde, met die implikasie dat dit wat para fusin is, in stryd met God se skeppingsbedoeling is (Cranfield 1975:125-126).

Hierteenoor is daar uitleggers wat meen dat Paulus waarskynlik nie na homoseksualiteit as sodanig verwys nie, maar na vorme daarvan wat in die Grieks-Romeinse wêreld van destyds bekend was (Scroggs1983: 84, 114-117; Germond 1997:227). Daar word daarop gewys dat dit anachronisties is om te meen dat Paulus hom teen homoseksualiteit as sodanig kon uitspreek,aangesien kennis daarvan as samehangende verskynsel eers sedert die 19e en veral in die 20e eeu ontwikkel het (Furnish 1979:66; Zijlstra 1984: 58;Harris & Moran 1999:73).

Daar word ook daarop gewys dat die term fusis elders by Paulus nie as ’n verwysing na die skeppingsorde gebruik word nie, maar as ’n verwysing na die algemeen gangbare orde van sake volgens die sosiale norme en kodes van die samelewing (Germond 1997:226; DuToit 2001:8).

6. 1 Korintiërs 6:9,10 en 1 Timoteus 1:9,10

1 Kor 6:9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

1 Tim 1:9 ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10 ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Aan die een kant van die gesprek word aanvaar dat die terme malakoi en arsenokoitai in hierdie teksgedeeltes te doen het met homoseksualiteit in die algemeen en onderskeidelik dui op die passiewe en die aktiewe party in ’n homoseksuele verhouding (Barrett 1968: 140). Ook in die NAV word dit as’n algemene verwysing na homoseksualiteit geïnterpreteer en vertaal as “mense wat homoseksualiteit beoefen”.

Hierteenoor is daar uitleggers wat meen dat dat die twee terme waarskynlik nie na homoseksuele optrede in die algemeen verwys nie, maar dat dit onderskeidelik betrekking het op mans of seuns wat hulleself seksueel laat misbruik, onder andere as manlike prostitute (Arndt & Gingrich 1957: 489; Scroggs 1983:106), en persone wat jong seuns seksueel misbruik (Arndt & Gingrich 1957:109; Ridderbos 1967: 34; Scroggs 1983: 108). Volgens hierdie uitleg moet die verwysings veral verstaan word teen die agtergrond van die praktyk van pederastie wat destyds redelikalgemeen in die Grieks-Romeinse wereld voorgekom het.

Konklusie

Uit bostaande blyk dit duidelik dat die Bybelse literatuur op twee uiteenlopende maniere interpreteer word. Aan die eenkant word die genoemde tekste as verwysings na die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig geïnterpreteer en derhalwe beskou as ’n duidelike aanduiding dat die Bybel ’n sterk negatiewe oordeel daaroor uitspreek. Aan die ander kant word dieselfde tekste geïnterpreteer as verwysings na spesifieke, geperverteerde vorme van homoseksualiteit (byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie) en word daar aanvaar dat dit nie as veroordeling van homoseksualiteit as sodanig beskou kan word nie. (my onderstreping)

Die verslag gee hiervandaan ag op die Die Bedieningspatroon van Jesus.

Jesus het ag gegee op die randfigure van die samelewing. Die Joodse religieuse sisteem van destyds was gebou op ’n streng gereguleerde stelsel van rituele reinheid met daarmee gepaardgaande kategorieë van uitsluiting en insluiting. Die resultaat van hierdie sisteem was verskeie groepe gemarginaliseerde persone aan wie volle deelname aan die sosiale en godsdienstige lewe van die samelewing ontsê is.Dit is juis hierdie gemarginaliseerdes met wie Jesus Hom telkens vereenselwig en in die proses in botsing kom met die Joodse establishment van sy tyd

Daar word ook gewys op die liefdesgebod wat ’n beslissende norm is vir ons beoordeling van mense en hulle optredes.

Hiervandaan word oorgegaan na die perspektief vanuit die menswetenskappe, waar gekyk word na die oorsake van homoseksualiteit en die moontlikheid van heroriëntering.

Dan volg daar ’n reeks getuienisse van homoseksuele persone wat klaarblyklik aan die Reformerende Kerk behoort, wat ’n tuiste bied vir homoseksuele persone. Die patroon wat oorwegend in die getuienisse voorkom is dat die persone van kleins af geweet het dat hulle anders is. Hulle het ’n goeie verhouding met die Here, maar hulle is nie in die kerk aanvaar nie. Uiteindelik het hulle in die Reformerende Kerk ’n geestelike tuiste gekry waar hulle aanvaar word vir wie hulle is.

BEOORDELING VAN HOMOSEKSUALITEIT

Uit die beskikbare literatuur blyk dat daar vier moontlike opsies is wat by die beoordeling van homoseksualiteit oorweeg kan word (Egertson 1999: 28-30).

Opsie een: Homoseksualiteit kan beoordeel word as sonde (Burger2001:7) – ’n bewuste opstand teen die verordeninge van God en die wette van die natuur. In daardie geval word dit as ’n vorm van onsedelikheid beskou wat vergelyk kan word met prostitusie.

Opsie twee: Homoseksualiteit kan beoordeel word as ’n siekte waarvan ’n persoon genees kan word. Dit kan dan vergelyk wordmet ’n siekte toestand vergelykbaar metalkoholisme.

Opsie drie: Homoseksualiteit kan beoordeel word as ’n simptoom van die abnormale, gebroke werklikheid waarin ons leef (Heyns 1986:166). Omdat dit ’n afwyking van die oorspronklike bedoeling van God is, kan dit vergelyk word met fisiese gestremdheid of iets soos infertiliteit waarmee die betrokke persoon moet leer om so goed as moontlik saam te leef.

Opsie vier: Homoseksualiteit kan beoordeel word as ’n variant van normale menslike seksualiteit en dus ‘nsimptoom van die ryke verskeidenheid wat in God se skepping opgesluit is (Boulding 1999:112; Harris & Moran 1999: 75) – vergelykbaar met iets soos linkshandigheid wat voorheen ook as abnormaal beskou is en terapeuties probeer “herstel” is.

Die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake wat die verslag opgestel het, staan afwysend teenoor opsie 1 en 2. Opsie 4 geniet die voorkeur van die kommissie.

PASTORALE RIGLYNE

Die homoseksuele persoon moet begelei word tot selfaanvaarding. Die begeleiding van die homoseksuele persoon tot selibaat word nie deur die kommissie voorgestaan nie. Dit kan in baie gevalle aanleiding gee tot ernstige neurotiese gedrag en in baie gevalle juis groter promiskuïteit in die hand werk. Dit moet ook in gedagte gehou word dat onthouding in die Bybelbeskryf word as’n gawe wat nie aan alle mense gegee word nie en wat dus nie as wet of vereiste aan enige persoon of kategorie persone opgelê kan word nie (Matt 19:11-12; 1Kor 7:7,9). Die kommissie wys verpligte selibaat as ’n dwaalleer aan volgens 1 Tim 4:1-3!

In die geval van homoseksuele persone wie se seksuele oriëntasie ’n wesenlike deel van hulle persoonlike identiteit uitmaak en wat nie oor die gawe van onthouding beskik nie, behoort daar ernstige oorweging daaraan geskenk te word om sulke persone pastoraal te begelei tot verantwoordelike (homoseksuele) verhoudingsvorming. (Thielicke 1975: 283-285; Cobb 1999: 93; Smedes 1999: 82). Dieselfde norme wat vir heteroseksuele verhoudings geld, behoort ook in die geval van homoseksuele verhoudings van toepassing te wees.

Tot hiertoe my opsomming van die verslag.

____________________________________________________________

OPMERKINGS OOR DIE HANTERING VAN DIE BYBEL IN DIE VERSLAG

In die verslag word telkens twee kante aangebied waarvolgens die verskillende teksgedeeltes verstaan kan word. Ek wil dit noem die “voor die hand liggende” verstaan van die teks en daarteenoor ’n “alternatiewe” verstaan van die teks. Die opstellers van die verslag gee voor dat hulle nie kant kies tussen die verskillende interpretasies nie, maar doen dit uiteindelik tog. Die alternatiewe verklarings van die tekste word spesifiek aangebied om voor te gee dat die Bybel homoseksualiteit (as sodanig) nie veroordeel nie. Dit blyk uit die volgende aanhaling: “Aan die ander kant word dieselfde tekste geïnterpreteer as verwysingsna spesifieke, geperverteerde vorme van homoseksualiteit (byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie) en word daar aanvaar dat dit nie as veroordeling van homoseksualiteit as sodanig beskou kan word nie”.

Die opstellers van die verslag se uitleg van die Bybel oor homoseksualiteit kry konkreet gestalte in aanbevelings voor die Sinode dat homoseksualiteit nie as sonde of ’n siekte beskou moet word nie, maar as ’n variant van normale menslike seksualiteit. Dit word selfs verheerlik as ’n simptoom van die ryke verskeidenheid wat in God se skepping opgesluit is. Dit is vergelykbaar met iets soos linkshandigheid wat voorheenook as abnormaal beskou is.

Teen hierdie agtergrond is dit nodig om sommige van die alternatiewe interpretasies van tekste in die Bybel wat aan ons voorgehou word te beoordeel:

Genesis 1:27,28 (en Gen 2:18-25)

27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Genesis 1 kan gesien word as ’n weergawe van God se gedagtes wat konkreet in sy skeppingswerk gerealiseer het. Hy tree op soos ’n kunstenaar wat gestalte gee aan ’n beeld of ’n skildery. Hy het (by Homself) gesê … en dit het gebeur. Dan het Hy teruggesit en gesê: Dit lyk goed! Uiteindelik het Hy gesê: Kom Ons maak die mens … hy moet soos Ons wees, maar daar moet twee gestaltes van die mens wees. Hulle moet manlik en vroulik wees, sodat hulle ook kan vermeerder soos die ander lewende wesens.

Hierdie twee gestaltes van menswees gaan noodwendig oor ons seksualiteit. Dit raak ons anatomie en ons emosies. Ons funksioneer in die samelewing as ’n man of ’n vrou. Dit is soos die besluit, die gedagtes van God gerealiseer het.

Teen hierdie agtergrond is dit vreemd om selfs te suggereer dat homoseksuele verhoudings in die gedagtes van God was toe hy die mens manlik en vroulik gemaak het. ’n Homoseksuele verhouding kom in botsing met die basiese werklikhede van ons seksuele ontwerp. Die rolle van manlikheid en vroulikheid, word anatomies en emosioneel deur ’n seksuele verhouding omver gewerp. Homoseksuele geneigdheid by mense kan alleen verstaan word vanuit die sondeval, wat na die skepping plaasgevind het.

Die skrywers se argumentasie in die verslag dat dit nie in die eerste plek oor die seksualiteit van die mens in Gen 1:27 gaan nie, maar oor die beeld van God is korrek, maar dit is ’n halwe waarheid. Dit gaan tog in die tweede plek oor ons seksualiteit en baie pertinent oor ons seksualiteit. Al wil die skrywers dit nie aanvaar nie, dien Gen 1:27 beslis as “bewysmateriaal” in die gesprek oor homoseksualiteit.

Genesis 19: 1-29 en Rigters 19:16-29

Hierdie gedeeltes is bloot ’n beskrywing van die (goddelose) toestande van daardie tyd, sonder dat die Bybelskrywers ’n beoordeling daarvan maak. In Genesis 19 lees ons dat God besluit het om die stad te straf oor die mense se sonde en goddeloosheid. Die bespiegeling in die verslag dat daar in Genesis 19 nie sprake is van “homoseksualiteit as sodanig nie, maar van ’n poging tot homoseksuele verkragting” is dus totaal van die punt af. Die skrywers haal geleerde mense aan om te sê dat dit daar eintlik gegaan het oor die “gruwelike skending van die oud-Oosterse gasreg, wat vereis het dat vreemdelinge met die uiterste gasvryheid ontvang moes word”. Wat is die motiewe van die teoloë om mense se gruwelike goddeloosheid en wreedheid, af te maak as bloot gruwelike skending van gasvryheid?

Lev 18:22 en 20:13.

In albei hierdie tekste word die Hebreeuse woord tô’evâ gebruik om aan te dui dat homoseksuele dade vir God afstootlik is. (Lev 18:22 “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.)

Die verslagskrywers haal geleerdes aan wat die teks as volg interpreteer:

  • Die Here veroordeel hier die tempelprostitusie van die Kanaaniete en nie homoseksualiteit as sodanig nie.
  • Hierdie opinie word gegrond op die gedagte dat tô’evâ verband hou met afgodiese godsdienstige praktyke.
  • Seksuele dade in die algemeen hoort nie tuis in die erediens van Israel nie.

Hierdie verklarings van die teks is geheel en al uit die lug gegryp en verregaande. Die woord tô’evâ bv kom meer as 30 keer in die OT voor. Dit word gebruik in ’n verskeidenheid kontekste bv: dinge wat vir die Egiptenare afstootlik is (Gen 43:32), homoseksuele dade Lev 18:22), verkeerde offerandes (Deut 17:1), afgode (Deut 7:25), towery (Deut 18:12), mans wat vrouklere dra en omgekeerd Deut 22:5), die loon van ’n prostituut om geloftes te betaal (Deut 23:18), ’n man wat van sy vrou skei en haar dan wil terugneem (Deut 24:4), beeldediens Deut 27:15), leuentaal (Spr 12:22), valse mate en gewigte (Spr 11:1), ens.

Die verslag wil ook ’n saak uitmaak daarvoor dat die verbod op homoseksuele verhoudings in Levitikus nie gesien kan word as moreel-etiese uitsprake nie. Dit is deel van die “maatreëls om die reinheid van die Israelitiese kultus te verseker”.

Dit is inderdaad so dat die voorskrifte vir Israel nie netso gebruik kan word as “voorskrifte” vir ons in die NT nie. Die voorskrifte vir Israel is gegee teen die agtergrond daarvan dat hulle ’n heilige God dien (Lev 11:44; 19:2) en daarom moet hulle ook vir Hom heilig (afgesonderd) wees. As Petrus sê: “soos Hy wat julle geroep het heilig is moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees” (1 Petr 1:15), moet ons onder leiding van die Gees soek na nuwe gestaltes van ’n heilige lewe voor God. Ons kan dit nie doen sonder die lig van die OT en spesifiek ook Levitikus nie. Ons leer die hart van God ken in die OT, ook in die voorskrifte oor die huwelik en seksualiteit. Hulle dien as riglyne vir ons vandag om ’n heilige lewe te lei. Dit is daarom totaal onaanvaarbaar om Lev 18:22 sommer af te maak as ’n uitspraak wat nie moreel-etiese betekenis het nie.

Romeine 1:26-27

26 Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. 27 Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.

In die verslag word geredeneer “dat dit anachronisties is om te meen dat Paulus hom teen homoseksualiteit as sodanig kon uitspreek, aangesien kennis daarvan as samehangende verskynsel eers sedert die 19e en veral in die 20e eeu ontwikkel het”. Dit is so ’n ooglopende omseiling van die uitspraak van Paulus en van die werklikheid, dat die standpunt nie verdere kommentaar verdien nie.

Paulus sê hier dat homoseksuele gedrag “teen die natuur” (fusis) is. In die verslag word beweer “dat die term fusis elders by Paulus nie as ’n verwysing na die skeppingsorde gebruik word nie, maar as ’n verwysing na die algemeen gangbare orde van sake volgens die sosiale norme en kodes van die samelewing”.

Hieroor twee opmerkings: Dit is eerstens nie korrek om te sê dat die woord fusis nie oor God se skeppingsorde gaan nie. Paulus praat bv in Rom 11:24 van ’n olyfboom wat van nature (fusis) wild is ingeënt word in ’n mak olyfboom en noem dit teen die natuur (para fusin). Dit dui tog seker op ’n ingrype op die manier waarop God dit gemaak het. Petrus gebruik ook die woord in die sin van “goddelike natuur” (2 Petr 1:4).

In dieselfde konteks (Rom 1:32), praat Paulus van mense wat die verordeninge van God ken. As Paulus dus sê dat ’n homoseksuele verhouding teen die natuur is dink hy ook aan die verordeninge van God. Dit is deel van sy argumentasie om te sê dat homoseksualiteit verkeerd is. Homoseksualiteit is teen die natuurlike aanvoeling by die mens en dit is teen die verordeninge van God. Dit is wat Paulus wil oordra.

In die verslag word tweedens die stelling gemaak dat die woord fusis gebruik word in die konteks van sosiale norme en kodes van die samelewing en wil dus daarmee voorgee dat dit nie teen ’n verordening van God is nie. Die vraag is waar kom “sosiale normes en kodes” vandaan? Paulus praat bv van die heidene wat vanself dinge doen wat die wet vereis, al het hulle nie die wet nie (Rom 2:14). Daar is dinge wat God in die mens se hart, in sy gewete ingeskryf het, wat meebring dat jy jou nie voor God kan verontskuldig op die oordeelsdag nie (Rom 2:15,16). Dit is merkwaardig dat daardie selfde norme en kodes van die samelewing oor homoseksualiteit tot vandag toe nog geld. Daar is ’n algemene aversie by die gemiddelde lid van die samelewing teen homoseksuele gedrag. Is dit ’n sondige aversie waarvan ons, ons moet bekeer, of is dit deel van ’n skeppingsordening? Deur die eeue is dit by Paulus en by die vromes in die samelewing as iets afstootlik ervaar. Paulus sê dit is teen die natuur. Dit is nie soos God dit bedoel het nie.

1 Korintiërs 6:9,10 en 1 Timoteus 1:9,10

1 Kor 6:9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

1 Tim 1:9 ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10 ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Die skrywers van die verslag wil voorgee dat Paulus met “mense wat homoseksualiteit beoefen” gedink het aan “die praktyk van pederastie wat destyds redelik algemeen in die Grieks-Romeinse wereld voorgekom het” (Sien pt 6 hierbo vir pederastie). Verder wil hulle suggereer dat die terme hier “hoegenaamd niks met homoseksualiteit te doen het nie, maar as algemene terme vir seksuele losbandigheid verstaan moet word”.

Ek ag dit nie nodig om elkeen van hierdie vergesogde idees verder te beredeneer nie. Mens kry die idee dat die opstellers van die verslag ’n (sondige) obsessie het, om hulle eie betekenisse te heg aan dit wat die apostels en die skrywers van die Bybel bedoel het om te sê. Wat hulle hier voorhou is in stryd met die weergawes van tientalle Bybelvertalers, woordeboeke en bv. die woordverklarings in die Interliniêre Bybel, wat uitgegee is deur erkende kundiges van die Griekse taal.

SAMEVATTING

Ek het in hierdie dokument twee verslae in oënskou geneem, wat voor Sinodes van die NG Kerk gedien het. Ek het probeer uitwys dat die wyse waarop die teoloë in hierdie verslae met die Bybel omgaan, ernstig bevraagteken moet word. Dit werp ’n refleksie op die betroubaarheid en vermoë van die NG Kerk om leiding te gee aan die lidmate oor sake van etiese en leerstellige belang. Dit blyk dat die teoloë wat daaraan meegewerk het die Bybel eenvoudig misbruik om hulle eie idees uit die Bybel te regverdig. Daar is geen sprake van objektiewe omgang met erkende hermeneutiese beginsels nie.

Hermeneutiek gaan onder meer daaroor dat ’n mens jou probeer verplaas na die tyd toe die skrywer geskryf het. Jy neem waar en wil eerlik hoor wat die skrywer vir die mense van sy tyd wou sê. Dan moet jy ’n betroubare getuie wees van wat jy gehoor en gesien en ervaar het as jy dit oorvertel vir die mense van ons tyd, sodat ons dit vir vandag kan toepas. Die teoloë van die kerk wat aan hierdie verslae gewerk het, slaag nie die reëls van hermeneutiek nie en boesem nie vertroue in as hulle by die Sinode van 2013 praat van ’n indringende gereformeerde hermeneutiek wat verantwoordbaar en prakties toepaslik is nie.

Unreliable messengers cause trouble, but those who can be trusted bring peace.(Good News Bible – Spr 13:17)

Kommentaar

Prof Deon Thom – 1 Januarie 2014

Baie dankie vir jou artikel oor die twee verslae – wat ’n baie duidelike en weldeurdagte getuienis lewer! Dit is goed uiteengesit en op die punt af. Die vreemde ooreenkoms tov van die benaderingsmetode in altwee verslae is baie opmerklik en kan nouliks toevallig wees. ’n Oordadige klomp kwasi-relevante agtergrondinligting word gegee wat ’n baie wetenskaplike indruk skep, maar op die ou end word ’n besluit geneem wat direk in stryd is met die letter van die Skrif, maar so soepel geformuleer dat dit vir verskillende interpretasies vatbaar is. Dit is vir my nog steeds baie moeilik verstaanbaar dat goed-opgeleide mense met sulke “dubbelsinnige” voorstelle kan kom. Werk die invloed van die “heersende mode” dan so sterk in die teologie? Die “heersende mode” was natuurlik net so sterk in die apartheidsjare, maar die besluite was ten minste nie dubbelsinning nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui