Kruisverhoor: ‘Daar ís ruimte in NGK vir gemeentes soos Moreleta’

Kyk ook:

Kruisverhoor: ‘Daar ís ruimte in NGK vir gemeentes soos Moreleta’ | Netwerk24

Deur: Hanlie Retief

12 Mei 2019

Hy probeer nie almal tevrede stel nie, dit gaan oor verantwoordelike leierskap, sê ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk.

Die NGK moet sy bagasie afskud en die land wys hoe ’n gemeenskap lyk wat aan Jesus Christus behoort, sê ds. Nelis Janse van Rensburg. Foto: Bianca Smit

In een week ondersteun jy die Groote Kerk se intergeloof-inisiatief, sê ja vir ’n gebedsbyeenkoms by ’n moskee, maar woon dit dan, op beginselgronde, nie by nie. Hoe so? Ek het deels onttrek oor ’n tugklag teen die leraar van die Groote Kerk (ds. Riaan de Villiers). Ek het nie insae gehad in die meriete van die klag nie, maar ek moes ag slaan op betroubare advies om my nie by hierdie kwessie te laat betrek nie. Die tweede rede is teologies van aard. Die besoek aan die moskee was publiek geadverteer as ’n geleentheid waartydens Christene en Moslems sou saambid. By sulke geleenthede word daar soms net in algemene terme tot ’n algemene Godheid gebid. Christene behoort myns insiens nie aan sulke gebedsbyeenkomste deel te neem nie.

Jy sê De Villiers het in sy pleidooi vir ’n verenigde front teen godsdienstige haat en geweld daarin geslaag om sy verbondenheid aan Christus te bely. As hý kon, waarom nie jy nie? Ek sou ook kon. My kommer is nie oor my eie aannames en getuienis nie, maar wel oor dié van die ander deelnemers van albei godsdienste wat jou kan kompromitteer met hul uitsprake sonder ’n geleentheid vir regstellings. Ek moes dit al voorheen tydens gesprekke doen. ’n Oop gebeds­byeenkoms in ’n moskee bied nie geleentheid daarvoor nie.

Sou jou deelname daar nie juis vir lidmate wat nie begrip daarvoor het nie, kon wys hoe dit reg gedoen kan word nie? Dit sou kon, maar dit sou ook verkeerdelik ander boodskappe die wêreld kon instuur.

As ’n mens almal probeer tevrede stel, stel jy nie uiteindelik niemand tevrede nie? Ek probeer nie almal tevrede stel nie. Ek is ten gunste van uitstekende verhoudings met ander godsdienste, want dit getuig van God se liefde vir alle mense. Maar as die God in wie jy glo se eie aard misken word deur ’n gebedsbyeenkoms, was jy nie getrou aan jou roeping nie.

Jy sê jy het die Moreleta-kerkvergadering in jou persoonlike hoedanigheid bygewoon. Hoekom kon jy die Moslem-gebedsbyeenkoms nie ook in jou persoonlike hoedanigheid bywoon nie? Ek is daarheen genooi as voorsitter van die kerklike strukture.

Behoort ’n moderator in so ’n aanvegbare situasie soos Moreletapark in sy persoonlike hoedanigheid betrokke te wees? Daar bestaan al ’n geruime tyd ’n gesprek tussen my en enkele van die leiers van die gemeente. Die voorsitters van die oostelike-sinode-diensraad en kerkraad het my persoonlik na die gesprek genooi. Dis op skrif dat ek nie namens die algemene-sinode-moderamen daar was nie.

Daar is kerkleiers wat sê daar word nie met hulle oor Morelexit gekommunikeer nie. Dis primêr ’n gesprek tussen die gemeente en die oostelike sinode; hulle moet daaroor kommunikeer.

Hoe verseker jy dat ds. Dirkie van der Spuy (afgetrede leierspredikant by Moreletapark) die kerk dien en nie sy ou gemeente nie? Dirkie van der Spuy was nie betrokke by die proses wat gelei het tot hul oorweging om die NG Kerk te verlaat nie. Hy is trouens sterk gekant daarteen.

Is dit kerkeenheid tot elke prys, of kerk-eenheid gegrond op innerlike oortuiging? Ons streef na eenheid gegrond op oortuiging. Niks in ons gesprek met die Moreleta-kerkleiers wys dat hulle met die kernbelydenis van die kerk verskil nie. Al is daar aksentverskille, is daar ruimte vir gemeentes soos Moreletapark binne die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui