Is die NG Kerk ’n sterwende kerk?

Kyk ook:

Van die Julie 2012 weergawe van Juig! gekopieer.

*********

Is die NG Kerk ’n sterwende kerk?

Dit was eers net op die internet beskikbaar – tydens Pase – ’n hele twee bladsye oor die kwynende getalle in die NG Kerk: ’n artikel in die ‘Mail and Guardian’, onder die opskrif “The slow and steady death of the Dutch Reformed Church”, geskryf deur Charles Leonard.
Daarin word Johannes de Villiers (wat gereeld oor godsdienssake skryf) onder andere aangehaal wat sê: “The church has failed the test of diversity miserably. People live and work these days in diverse environments and then feel weird to be in a church that is hetero-normatively exclusivist.’’ Ook Jean Oosthuizen, nuus-redakteur van die ‘Kerkbode’, die mondstuk van die NG Kerk, word aangehaal. Volgens hom het die kerk sy greep op mense verloor. Die kerk het nie ’n goeie rekord wat inklusiwiteit betref nie: daar word teen vroue gediskrimineer, swart mense word nie in die wit kerke toegelaat nie en daar word ook teen homoseksueles gediskrimineer, sê hy.
Die opskrif van die artikel het my ont-stel, maar nog groter was my skok toe ek op die voorblad van die gedrukte uitgawe dié woorde lees:
“Last gasps of the DRC”. ‘Doodsnikke’ van die NG Kerk! Daar is probleme ja, maar ‘sterwend’? Wanneer sterf ’n Kerk? Gaan dit bloot net om getalle?

Gerugte en nog gerugte oor dalende getalle

Kort-kort, die afgelope paar paar jaar, was daar berigte in die media dat lidmate die NG Kerk verlaat. In Maart 2010 skryf Anton Pienaar (op daardie tydstip redakteur van ‘Kerkbode’) in ’n artikel getitel ‘Luister fyn na hulle wat saggies wegloop’ oor mense wat die kritiek van behoudendes beleef as ’n onverdraagsame en liefdelose geraas wat hulle nie meer kan verduur nie. Hierdie mense stap van die kerk af weg, want hulle sien en hoor uitsprake van Christene wat in die openbaar gal braak, en hulle word baie ongemaklik daarmee.

Mense met nuwe insigte

‘Hulle het ander insigte oor evolusie, en hulle betrokkenheid by gays maak dat hulle nie meer veroordelend kan wees nie. Hulle is nugter en eerlik oor samelewingstendense soos saamwoon,’ skryf Anton.
Volgens ’n berig deur Johannes de Villiers in ‘Rapport’ van dieselfde jaar (“NG Kerk verloor 10 588 in ’n jaar”, 6 November 2010) word gereken emigrasie is een van die vernaamste redes vir die afname in lidmaatgetalle onder dié kerkverband se tradisionele lidmate, hoewel die verskynsel van mense wat na ander kerkverbande oorloop, ook daartoe kon bygedra het. In dieselfde berig word verwys na ’n artikel wat toe in die jongste ‘Kerkbode’ verskyn het. Daarin word daarop gewys dat die NG Kerk se algehele lidmaattal tussen 1986 en 2010 met 23,8% afgeneem het (van meer as 1 400 000 tot minder as 1 100 000). Ook in dié artikel word emigrasie as een van die vernaamste bydraende faktore genoem.

‘Bom’ ontplof

Maar die berigte in verskeie koerante oor meer as 20 000 lidmate wat die NG Kerk teen die einde van 2011 verlaat het, was soos ’n bom wat ontplof het. Waarskynlik het dít aanleiding gegee tot die berig in die ‘Mail and Guardian’ wat my genoop het om hierdie artikel te skryf.
In my uitgebreide familie- en vriendekring het ek oor die afgelope aantal jare dieselfde tendens raakgesien: Van mense wat elders ’n geestelike heenkome vind. Wat interessant is, is dat hulle nie kerklos raak nie, inteendeel, hulle soek juis denominasies waar God en die Waarheid van die Woord nog die fokuspunt is. Baie vertel van herlewings wat in hulle dorpe en stede ervaar word, maar nie in die NG Kerk nie.
Die groot getal mense wat na mense soos Angus Buchan, Gretha Wiid en ander gaan luister, wys dat daar ’n groot behoefte aan geestelike voedsel is – hulle gaan dit op ander plekke soek, omdat hulle dit nie in die NG Kerk met sy post-modernistiese, humanistiese en liberale aanslag kry nie.

’n Kerk verdeeld?

Natuurlik sal ’n ‘sondebok’ gesoek word. Oor en weer beskuldigings vlieg rond en debatte word gevoer. Die stryd tussen ‘ons’ en ‘hulle’ woed in alle denkbare media en word veral op die internet gevoer.
Selfs boeke word geskryf: Aan die een kant verskyn onder meer ‘Fluit-fluit die kerk is uit?’ van Frits Gaum, ‘Hier staan ek…en ek is nie alleen nie’ (onder redaksie van Diek van Wyk, Coenie Nolte en Leon Atterbury en ander skrywers waaronder ook lidmate en oud-lidmate van die NG Kerk).
Boeke van die ander kant: Adrio König se ‘Die evangelie is op die spel’, Pieter Pelser se ‘NG Kerk reformeer of disintegreer’, Ferdie Mulder se ‘Opgestaan’, Besorgde Lidmate se ‘Die Trojaanse Perd in die NG Kerk’ en prof. Johan Janse van Rensburg se ‘Jesus is die een!’ met die subtitel: ‘Verloor ons nie die evangelie in die ‘emerging church’ nie?’
In ’n sterk verklaring het ’n aantal emeriti van die Universiteit van Pretoria in 2007 hul besorgdheid oor liberale strominge in die vorm van ’n geloofstandpunt uitgespreek (lees hier: http://www.teo.co.za/wmview.php?ArtID=617)

’n Soekende kerk?

Die dalende getalle het gemaak dat die NG Kerk oor die afgelope aantal jare in baie opsigte ’n soekende kerk geword het, soekend na wat gedoen kan word om te keer dat lidmate die kerk verlaat, soekend na sy identiteit, na sy werklike taak na binne en na buite as deel van die Kerk van Christus in Suid-Afrika, en sy toekomstige pad en rol in Suid-Afrika. Die vraag is: “Word daar op die regte plek en op die korrekte wyse gesoek?”

’n Sug na ‘ruimte’ en ‘diversiteit’

Dit blyk uit debatte oraloor dat daar aangedring word op die skep van ruimte en toelating van meer diversiteit (sien byvoorbeeld die openingsparagrawe).
Op Facebook vra andersdenkendes: ‘skep ruimte, ruimte wat binne die Gereformeerde tradisie bestaan’, ‘maak plek vir ander denke’, ‘maak plek vir ’n breër interpretasie’. Wanneer hier gepraat word van ‘plek maak/ruimte skep vir ander denke’, klink dit baie na wat John Shelby Spong noem ‘wiggle-room’. ’n Mens wonder dan: met hoeveel ‘wiggle-room’ sal liberales tevrede wees en waar sal die grense getrek word, indien enige?
Daar word aangedring op diversiteit, maar is dit nie ’n verskoning vir relativisme nie? Wanneer diversiteit nie meer in oor-eenstemming is met Bybelsverantwoorde verskeidenheid in ooreenstemming met kernwaarhede van die Evangelie nie, wanneer daar sprake is van politieke korrektheid, wanneer ’n humanistiese ‘naasteliefde’ en ‘inklusiwiteit eerder as eksklusiwiteit’ gesoek word, dan flikker gevaarligte. Ses van die sewe gemeentes in Asië word gewaarsku (Op 2 en 3) en die fokus is telkens op toleransie, akkommodering van, en onverskilligheid teenoor die kwade.
Word ’n NG Kerk wat so hard probeer om alles vir almal te wees, nie op die lang duur niks vir niemand nie?

Hoe ernstig is dié aangeleentheid?

Dit is sorgwekkend, selfs skokkend, wanneer berigte oor duisende wat die kerk verlaat, oral verskyn. Is die kerk siek? Dit mag wees. Party ‘ledemate’ van die ‘liggaam’ ís miskien nie so gesond nie. Verdeeld? Beslis, oor bepaalde aspekte ís daar verdeeldheid. Maar dood? Definitief nie!

Draai die gety?

Daar is veelvuldige tekens dat behoudende lidmate besorg is – dit blyk uit kommentaar oor berigte in die sekulêre media, ‘Kerkbode’ en die internet. Oral is daar bewuswording van die verkeerde koers wat die kerk inslaan. By die afgelope streeksinodes in die Noorde van die land, het afgevaardigdes opgestaan en hul stemme laat hoor teen on-Bybelse besluite wat op die Algemene Sinode van 2011 geneem is.

Is daar hoop?

“Ja, daar is enorme hoop”, skryf Ferdie Mulder op sy blog (http://www.opgestaan.com/2/post/2012/04/nuut-soekend-vars-nagedink-oor-ons-liggaamlike-opstanding-ferdie-mulder-2-mei-2012.html) :
“Daar is jongmense wat moeg is vir institusionele magspeletjies, dik rubber stempels vir kerkordes wat sommige teoloë verkeerdelik beskerm; kommissies en sinodes wat verwar, manupileer en doodsheid kanoniseer. Hierdie gelowiges is verrassend denkend, sosiaal betrokke, nie bang vir intellektuele uitdagings nie, maar ook moeg gelees aan die Nuwe Hervormers en Jesus Seminaar se ou uitgediende antwoorde afkomstig uit sommige streke van Duitsland en Amerika. Hierdie gelowiges het ook ’n diep gewortelde liefde vir die kosbare belydenisse van die vroeë Kerk en die Reformasie – en onthou nie net hoeveel dapper gelowiges met hulle lewens moes boet vir hul geloof nie, maar lees ook wêreld-klas Christen Bybelwetenskaplikes se nuutste navorsing wat enorme geloofwaardigheid gee aan eeu-oue belydenisse!”
Daar Ís hoop, mits ons op die regte plek fokus: “Hou Christus self Sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede!”

NEEM ASSEBLIEF KENNIS

JUIG! steun die N.G. Kerk ten volle omdat ons weet dat daar baie lidmate is wat ernstig oor hulle kerk en geloof is. Ons weet dat die N.G. Kerk deur ’n skoonmaakproses moet gaan voordat die Heilige Gees werklik herlewing kan bring, dus besef ons hoe belangrik die Woord van God is. Ons moedig JUIG! lesers aan om vir die leierskap van dié Kerk te bid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui