Kyk ook:
*******
BRIEF | Is kerk se huis so ruim dat pous én imam welkom is? | Rapport
Rapport
Sondag, 21 Desember 2025
Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:
Die geldigheid van die brief “Sinode hanteer Groote Kerk saggies, looi dolerende gemeente” word bevestig deur die berig “Bethulie se dominee-twis draai by polisie en prokureurs”.
Die kerkraad van Bethulie het ’n amptelike geskil teen die optrede van die Ringskommissie en die Sinodale Regskommissie verklaar. Hierdie geskil moes eers besleg word voordat daar met enige tugondersoek teen ds. Nel voortgegaan kon word.
Ds. Marietjie Steyn, kerkraadsvoorsitter van die Groote Kerk, se relaas, “Ons durf nie weer arrogant wees, sê Groote Kerk”, waar sy probeer om die groteske gebeurtenisse in haar gemeente op 26 Oktober te verklaar, was eintlik niksseggend en ’n lang, irrelevante skrywe oor die geskiedenis, ligging en simboliek van die Groote Kerk. Die gebeure daar het niks met “arrogansie” te doen of met pogings tot gasvryheid vir mense van verskillende gelowe nie.
Die gebeurtenisse het antisemitisme en Jodehaat verteenwoordig op ’n skaal wat nog nooit voorheen in enige Afrikaanse kerk gesien is nie.
Spesifieke vrae aan ds. Marietjie behoort broodnodige opheldering te gee van die situasie.
1. Die grootste skok was moontlik die plakkaat van die pous. Wie het dit daar geplaas? Was dit ds. Marietjie, ds. Riaan de Villiers of ds. Erick Zulch? Was dit ’n poging tot gasvryheid teenoor die Roomse staat, of in navolging van die Wêreldraad van Kerke (WRK) se pad na een wêreldgodsdiens? Is daar met die amptelike NG ruim-huis-dogma geen verskil meer tussen Protestantisme en die Katolisisme nie?
2. Voel ds. Marietjie dis doodnormaal, of die nuwe normaal, om vlae met sterk politieke betekenisse, soos die Palestynse vlag, reg langs die kruis van Christus te hang? Watter boodskap, of simboliek, word hierdeur uitgedra?
3. Wie het die besonder groot letters van die politieke slagspreuk “Stop the Genocide” teen die balkon van die groot orrel vasgekap? Verteenwoordig dié nuwe slagspreuk van die Groote Kerk ook die siening van die algemene sinodale moderamen?
4. Is die Islamitiese imam op die kansel van die NG Kerk die nuutste weerspieëling van die algemene sinode se ruim-huis-beleid, of is dit die gevolg van die NGK se lidmaatskap van die WRK? Is ds. Marietjie al uitgenooi na die kansel van die plaaslike moskee? En is daar nie meer ’n wesentlike verskil tussen die teologie van Islam en die Bybel nie?
5. Die Islam-sprekers het die bekende slagspreuk “From the river to the sea” uitbasuin. Kan ds. Marietjie asseblief vir die lesers verduidelik wat dit beteken? Is hierdie slagspreuk ’n “bevestiging van gasvryheid” soos wat ds. Marietjie propageer?
6. Ds. Marietjie, hoe bring jy jou ‘bevestiging van gasvryheid’ in ooreenstemming met die boodskappe van die veteraan- politieke aktivis dr. Allan Boesak, met sy oproep aan almal “to get angry” en om die Universiteit van Kaapstad en Universiteit Stellenbosch te gaan binneval sodat hulle anti-Joodse besluite daar kan gaan afdwing?
7. Wie presies het hierdie gebeurtenis gereël? Was dit jul kerkraad, ds. Riaan, die plaaslike moskees, Gift of the Givers, of BDS? Gift of the Givers se marshals en hul handlangers het feitlik alles beheer. Het die Groote Kerk se kerkraadslede hier hoegenaamd enige rol gespeel?
8. Elkeen daar het ook ’n brosjure gekry met inligting en webverwysings oor pro-Palestina- en anti-Israel-propaganda, met die doel “to allow ordinary people to become activists”. Het die kerkraad die verspreiding van hierdie anti-Joodse aktivistiese materiaal goedgekeur?
Die laaste paragraaf van ds. Marietjie se skrywe het die respons van die algemene sinodale moderamen bevat. Met die nuwe “ruim huis” as inslag kan elke gemeente blykbaar nou besluit of hulle in ’n letterlike duiwel wil glo, of hulle gays in die amp wil aanvaar, en nou ook of hulle Chrislam-volgelinge wil word.
Die enigstes teen wie die meerdere vergaderings tans optree, is gemeentes wat Skrifgetrou wil wees en regsinnige dominees wie se legitimering opgeskort word. Êrens is ’n groot skroef los!