‘G’n so erg’ om weg te breek uit sinode’

*******

‘G’n so erg’ om weg te breek uit sinode’ | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 21 Augustus 2022

Die NG Kerk maak ’n groot ding van streeksinodes wat wil wegbreek van die algemene sinode (AS) terwyl dit eintlik niks anders is as ’n organisatoriese verandering nie, sê lede van die Kairos Netwerk. “Die taakspan regte (die kerk se regskommissie) sloer nou al vir twee jaar lank om vir gemeentes antwoorde te gee wat … uit sinodale verband wil tree, maar hulle kan steeds nie,” sê ds. Theo Danzfuss, ’n oudpredikant.

Danzfuss is lid van die Kairos Netwerk wat gemeentes verteenwoordig wat doleer (rou) oor die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings.

“Hulle laat die saak meer gekompliseerd klink as wat dit regtig is in ’n poging om sinodes af te skrik en tyd te wen.”

Volgens hom het die onsekerheid oor die betekenis van art. 37 van die kerkorde ’n groot rol gespeel om minstens vier sinodes wat dit sterk oorweeg het om uit sinodale verband te tree, bang te praat “om die besluit op prinsipieel Bybelse gronde te neem”.

Danzfuss sê streeksinodes kan kragtens art. 37 volledig wegbreek en hul status in die kerk, asook hul voorregte, regte, besittings en naam behou.

Dr. Dewyk Ungerer, aktuarius van die AS en voorsitter van die regskommissie, sê egter dis nie so klinkklaar nie.

Die regskommissie het al “ruim tyd” aan die saak bestee, maar kan nie met sekerheid sê hoe dit hanteer moet word nie.

“Tans oordeel ons dat daar meer vrae as antwoorde is en ons nie advies kan gee waarvan ons nie 100% seker is nie.

“Die gesprek hieroor gaan egter voort en die dagbestuur het opdrag gegee om verder te dink hieroor en in September weer te vergader.”

Ungerer sê hulle volstaan vir nou by hul vroeëre besluit dat daar onsekerheid is oor wat die posisie is van gemeentes binne bepaalde sinodes wat nie saamstem met die besluit van sinodes om uit die kerkverband te tree nie.

Volgens die regskommissie is daar ook onsekerheid oor die beroepbaarheid van predikante in sinodes wat uit kerkverband tree.

Die regskommissie glo dit kan “onbedoelde gevolge” hê vir streeksinodes wat uit sinodale verband sou tree soos ’n verlies aan toegang tot hulpbronne, teologiese opleiding en pensioenfondse.

Danzfuss sê die regskommissie se onsekerhede is sinneloos.

“Artikel 37 is so helder en duidelik geformuleer dat selfs ’n laerskoolkind dit kan verstaan. Die antwoord op byna al hul ‘onsekerhede’ word duidelik uitgespel in die eenvoudige bewoording van art 37.

“Indien hulle werklik so onseker daaroor is, kon hulle lankal ’n advokaat se regsmening daaroor aangevra het.”

Dr. Johann Ernst, voormalige aktu­­a­rius van die AS, sê in ’n dokument aan kollegas die taakspan maak ’n groot ding hiervan, terwyl dit bloot “ ’n verandering of beëindiging van organisatoriese eenheid is”.

Ernst sê daar is reeds gemeentes wat buite ’n bepaalde sinode se grense lê soos die NG Kerk in Londen.

Wanneer ’n streeksinode ingevolge art. 37 uit bestaande kerkverbande tree, geld die besluit wel vir al die gemeentes wat deel is van daardie sinode, sê Ernst.

Volgens hom is gemeentes wat nie daarmee saamstem nie heeltemal in staat om uit bestaande kerkverbande te tree en by ander kerkverbande aan te sluit.

Hy sê art. 37 is juis die enigste moontlike kerklike weg om te volg as sulke gemeentes aan ’n sinode wil behoort wat in verband met die AS staan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui