Kerkplanting kan ‘teenproduktief’ wees

Oor al die praktiese implikasies van die Oostelike Sinode se plan om ’n nuwe kerk te plant, is ek nie seker van nie, maar artikel 37 op sy eie lyk ook nie werklik na ’n langtermynoplossing nie – kyk Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge.

Vir Theo Danzfuss se volledige brief, kyk Kerkplanting: Oplossing of ’n Suigstokkie? (14 Aug 2022)

*******

Kerkplanting kan ‘teenproduktief’ wees | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 14 Augustus 2022

Die oostelike sinode se besluit om ’n “nuwe kerk te plant” wat onafhanklik van die algemene sinode funksioneer, kan teenproduktief wees vir behoudendes en tot onaangename hofsake oor eiendom soos kerkgeboue lei.

Só waarsku ds. Theo Danzfuss, ’n oudpredikant en lid van Kairos Netwerk. Die Kairos Netwerk verteenwoordig gemeentes wat doleer (rou) oor wat hulle beskou as die NG Kerk se dwaallere.

Kerkplanting skuif behoudendes uit na ’n ander denominasie. Hulle is dan glad nie meer deel van die NG Kerk nie,” sê Danzfuss.

Die oostelike sinode, wat uit 84 gemeentes van Pretoria tot by die Krugerwildtuin bestaan, het aan die begin van Augustus by hul sinodesitting met ’n proses begin om ’n “nuwe model van kerkverband” te ontwerp om lidmate te behou vir wie die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings “onaanvaarbaar” is.

Die oostelike sinode hoop om ’n nuwe kerkverband oor twee jaar formeel tot stand te bring indien die algemene sinode by sy sitting volgende jaar met ’n tweederdemeerderheid goedkeuring daarvoor verleen.

Danzfuss sê dit kan ’n groot gemors veroorsaak.

“Alle bates wat hulle wil behou, sal deur onderhandeling verkry moet word en moet dan oorgedra en geregistreer word in die naam van die nuwe denominasie.

“Lidmate wat nie na hierdie denominasie wil oorgaan nie, sal goeie regsgronde hê om aanspraak te maak op al die bestaande eiendom en regte. Uitgerekte, onaangename hofsake is nie uitgesluit nie.”

Volgens Danzfuss is planting teologies en kerkordelik “onhoudbaar”.

“Paulus het gemeentes geplant, nie sinodes nie. Die kerkorde maak ook geen voorsiening dat kerkskeuring verbloem word agter die dekmantel van kerkplanting nie.

Danzfuss bevraagteken verder die tydsverloop om die proses binne twee jaar af te handel.

“Weens verskeie kerkregtelike en regstegniese probleme is die kans groter dat dit twee of drie keer so lank sal neem. Enige proses wat te lank duur, is teenproduktief en maak dat die kerk intussen versplinter.”

Danzfuss voer aan dat die oostelike sinode se besluit slegs voorsiening maak vir behoudendes in hul eie sinodale gebied en dat dit problematies is vir behoudendes binne die groter kerk.

“Gemeentes uit ander sinodale streke wat by die nuwe kerk wil inskakel, sal eers as lidmate van die NG Kerk moet bedank en al hul bates, regte en voorregte moet prysgee. Hulle verwissel van kerk.”

Die oostelike sinode se plan om steeds “in assosiasie met die NG Kerk” te wees, klink mooi, maar dit beteken niks nie, voer Danzfuss aan.

“ ’n Assosiasie is maar net ’n samewerking en wedersydse erkenningsooreenkoms.”

Danzfuss sê die oplossing vir die oostelike sinode is om eenvoudig uit sinodale verband te tree kragtens art. 37 van die kerkorde.

“Daar is geen waarborg dat kerkplanting behoudendes sonder ernstige verliese gaan help nie. Te veel sake wat nog kan skeefloop, moet eers uitgeklaar word. Daarteenoor is art. 37 die enigste kerkordelike pad wat reeds deur alle kanale ooreengekom en goedgekeur is.

“Dit gee ’n skriftelike waarborg om steeds in die NG Kerk te bly, maar los van enige bande met die algemene sinode en met behoud van alle regte, bates en voorregte.”

Volgens hom kan art. 37 onmiddellik in werking tree en voor die einde van die jaar afgehandel wees.

Dit bied verder die moontlikheid dat gemeentes in ander sinodes kan inskakel sonder om van kerk te verwissel.

Dewyk Ungerer, aktuarius van die algemene sinode, sê die regskommissie gaan volgende week vergader om sekerheid te probeer kry oor hoe ’n sinode uit verband kan tree en wat met gemeentes gebeur wat nie wil uittree nie.

“Daar is tans onsekerheid oor die saak.”

Dr. Gustav Claassen, hoofsekretaris van die NG Kerk, sê die algemene sinode kan nie tans kommentaar lewer nie.

“Die oostelike sinode gaan nou in ’n proses om na opsies te kyk en dit sal uiters voortydig wees om enigsins kommentaar daarop te lewer.”

Hy sê dié proses se uitkomste kan nie in hierdie stadium voorsien word nie.

“Die algemene sinode vertrou dat die oostelike sinode steeds met die kerkverband in gesprek sal bly in sy pogings om beswaarde lidmate te akkommodeer.

“Die feit dat die gesprek met beswaardes binne sinodale verband plaasvind, word aangemoedig. Dit is waar dit hoort.”

Hy sê konstruktiewe gesprekke en die uitruil van advies vind steeds op ’n gereelde grondslag tussen die algemene sinode en die oostelike sinode plaas.

Ds. Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die oostelike sinode, het Vrydag gesê hy kan nie kommentaar lewer nie omdat hy nie kontak met sy sinodale diensraad het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui