Die kerk versaak (weer) sy plig

Kyk KOMMENTAAR onderaan.

*******

Die kerk versaak (weer) sy plig | Netwerk24

Leon Coetzee, Oudtshoorn

Die Burger, Maandag, 24 Oktober 2022

Die moderator van die NG Kerk (NGK), dr. Nelis Janse van Rensburg, het op Erfenisdag op Genadendal gaan verskoning vra dat die NGK nie tydens apartheid opgestaan het teen die destydse regering oor wat hulle aan anderskleuriges gedoen het nie.

Ek het niks daarteen dat die kerk verskoning maak oor foute van die verlede nie, maar dis nou hoog tyd dat hulle ’n slag ook kyk na die hede. Hulle moenie die hede miskyk en dan weer eendag wil kom verskoning maak daarvoor nie.

Die regering is tans weer, soos in die dae van apartheid, die groot sondebok. Hulle is die grootste stelers, die mees korrupte. Dit het al deurgesuurdeeg na die nasionale, provinsiale en munisipale vlakke van regering.

Amper elke waarde waarvoor die kerk staan, word geminag op ’n ongekende skaal. En die gebrek aan daadwerklike optrede kondoneer in werklikheid hierdie optrede.

Tot die veronderstelde bewakers van reg en orde, die polisie, doen mee en stel selfs gevonniste misdadigers aan om hulle verder te help misdaad pleeg.

Maar die kerk is weer stil. Stil soos tydens apartheid. Hierdie keer nie omdat hulle noodwendig die regering goedpraat nie, maar hulle is verlam deur hul eie kleinlike stryde oor gays, dolering, wie se Bybeluitleg nou eintlik reg is, afstigting en nog vele ander kwessies.

Ek doen dus ’n beroep op ons kerkleiers om ’n slag op te staan en hulle duidelik uit te spreek teen die morele verval wat ons land getref het.

Vat die regering op elke vlak aan en doen dit in die openbaar sodat julle wyd en syd gehoor kan word. Moenie dat die geskiedenis homself herhaal nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Leon Coetzee voel dat die NG Kerk leierskap moet ophou om hulle tyd te mors met die “kleinlike stryde” in die NG Kerk en moet meer doen om hulle stem te laat hoor oor die huidige korrupte regering.

Heelwat kerkleiers van die NG Kerk hét hulle al uitgespreek teen die morele verval in die land en die wêreld. Die vraag is of dit goeie benutting van tyd is? Is daar selfs ’n klein kans dat dit ’n verskil sal maak? Ek twyfel baie sterk.

As ’n mens egter die vier Evangelies gaan lees, sien jy nêrens dat Jesus hom beywer het vir die politieke kwessies van die dag nie. Dit was omdat hy ’n ander opdrag gehad het.

Miskien moet NG kerkleiers hulleself juis eerder beywer vir hierdie sogenaamde “kleinlike styde” in die kerk, maar blykbaar sien hulle nie dat die huidige dwaalleer in die NG Kerk, die kerk se ondergang gaan beteken nie.

Dr. Henriëtta Klaasing, Randfontein

Vanaf Dít is definitief geen kleinlike stryde | Netwerk24, 28 Oktober 2022

Volgens Leon Coetzee (24.10) versaak die NG Kerk (NGK) sy plig om sigself uit te spreek téén die morele verval in die land. Hy skryf die NGK is verlam deur onder meer kleinlike stryde oor gays, dolering en afstigting.

Dis geen “kleinlike stryde” nie, dis ’n stryd om die waarheid van God se Woord en gereformeerde identiteit van die NGK.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui