Ons het hierdie leiding bitterlik nodig

Net gister het ’n soortgelyke brief in die koerant verskyn (Die kerk versaak (weer) sy plig).

*******

Ons het hierdie leiding bitterlik nodig | Netwerk24

Danie Schoeman, Somerset-Wes

Die Burger, 25 Oktober 2022

Suid-Afrikaners is besig om hul morele kompas te verloor en om teen ’n voortsnellende tempo gekonfronteer te word met moord, verkragting, aanranding, diefstal, korrupsie, egbreuk en seksuele misdrywe. Dit skrei ten hemele en vra reaksie en leiding.

Die regering en staatsdiens is nie vry te spreek van hierdie wandade nie. Dit wil trouens voorkom asof hulle die leiding neem om diefstal, omkopery en korrupsie by wyse van staatskaping, kaderontplooiing en eiebelang sonder meriete te bevorder en te verdoesel.

Al hierdie vergrype word met dawerende stilte vanuit veral die Afrikaanse kerke ontvang.

Die kerk is wel betrokke by barmhartigheidswerk, wat uiters noodsaaklik en lofwaardig is, maar wat ongelukkig ook baie maklik die afhanklikheidskultuur voed en van verdere suurstof voorsien. Die basiese beginsel om jou brood in die sweet van jou aanskyn te verdien en die eerlike weg te loop, kan so maklik op hierdie manier verlore raak.

Die Bybel en Christelike norme en standaarde is tog nie onduidelik oor hierdie gevare en wandade nie, en enige redelike mens sou kon verwag dat daar al baie duidelike riglyne vanuit die kerk en van ons geestelike leiers moet kom.

Kom ons pleit vir ’n kerk en geestelike leiers wat hul skuldgevoel oor die verlede kan verwerk en duidelike standpunte kan inneem oor Suid-Afrikaners se sondes en verval. Ons het hierdie leiding bitterlik nodig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui