Die geskiedenis lê besaai van verdeelde kerke

Net soos Johan van der Merwe, wil Daan Nortier in die artikel hieronder sê dat kerkskeuring nie ’n goeie opsie is nie. Die vraag is: “Wat is die alternatief?”

Daan wil weet wanneer die twis in die NG Kerk gaan eindig. Die feit is dat dit nooit sal eindig nie. Daar is ’n baie sekere vasgelooptheid in die NG Kerk.

Daar is net een oplossing: Die paaie sal moet skei, ongeag die pyn daaraan verbonde.

Charles Spurgeon was reg toe hy gesê het:

Eerder ‘n kort oorlog en ewige rus as valse vrede en ewige pyniging.

Kyk ook Bernhard Ficker se brief onderaan waarin hy sê dat dit ’n bedekte seën is dat kerke al soveel keer in die verlede verdeel het.

*******

Die geskiedenis lê besaai van verdeelde kerke | Netwerk24

Daan Nortier, Bloemfontein

26 Maart 2022

Die cliché “die geskiedenis leer jou niks”, is dalk meer bepaald so vir die kerk van Christus. Die geskiedenis lê besaai van verdeelde kerke wat geskeur het.

Dat die NG Kerk nou weer huiwer op die afgrond van nóg so een, is selfs vir ’n blinde sigbaar. Soos telkens in die verlede wentel alles wéér om die lees en verstaan van die Bybel.

Die tragedie daaromheen is die oënskynlike onbegrip vir die dieper inhoud van die Onse Vader. Jesus het dit self verwoord toe Hy die wese van gebed gedefinieer het.

Dis ’n bede aan Sy Vader dat Sy naam geheilig sal word, dat Sy ryk op aarde sal vestig en dat Sy wil óók, met dieselfde wesensinhoud as in die hemel, hier sal geskied.

Die afgelope sitting van die Vrystaatse sinode spreek vanself. Die bal word maar net wéér vir die kantlyn geskop.

Hoe lank nou al?

Wat moet bymekaarkom om die twis te eindig in ag genome dat ’n hofbeslissing oorkom moet word? Dis telkens die gevolg daarvan dat sogenaamde gelowiges mekaar oor die wese van Sola Scriptura in die hof pak.

Wat was dus die direkte, tragiese gevolg van die hof se beslissing oor selfdegeslaghuwelike vir die kerk? Bewese verdeeldheid en broedertwis gans oor ons land heen, juis in veral die Afrikaner se vernaamste geestelike tuiste.

Ek kan uit persoonlike ervaring oor hofsake tussen kerke praat.

Twee dekades gelede was ek as prokureur in die hoftwis tussen die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat en die VGKSA oor die belydenis van Belhar betrokke. Dit het selfs in die appèlhof gedraai, waar in die guns van die NG Kerk in Afrika beslis is. Daardie beslissing het nie einde gebring nie.

Daarop het nóg 38 sake tussen gemeentes in howe gevolg. Dit het primêr om geld en goed gewentel.

Geen daarvan is ten slotte in enige van dié howe besleg nie. Die vrug daarvan was bitter – dit het albei kerke met agteruitgang getref.

******

Dankie tog dat kerke soms verdeel | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

30 Maart 2022

Daan Nortier skryf (26.3): “Die cliché ‘die geskiedenis leer jou niks’ is dalk meer bepaald so vir die kerk van Christus. Die geskiedenis lê besaai van verdeelde kerke wat geskeur het.”

Verstaan Nortier kerkgeskiedenis? Kerkgeskiedenis leer baie lesse wat liberale volgelinge van dwaalleer nie wil leer nie. Feitlik elke keer dat die kerk verdeel, is dit omrede dwaalleer die kerk insluip totdat dit onuithoudbaar word en soos ’n sweer uitbars, wat veroorsaak dat baie in die kerk glad nie daarmee kan saamleef nie, soos wat nou weer met die NG Kerk (NGK) gebeur.

Ongeveer ’n duisend jaar ná Christus het die Ortodokse gelowiges in opstand gekom teen die pous in Rome se dwaalleer en weggebreek om die groot Ortodokse been van die Christelike geloof te vorm. Daarna het manne van geloof herhaaldelik opgestaan teen kerklike dwaalleer, soos Luther, Zwingli, Huss, Philaret, Calvyn, Wesley en andere.

Die plan was nooit kerkskeuring nie, maar om die kerk reg te ruk en te hervorm weg van dwaalleer. Dis slegs nadat dit blyk dat die kerk geensins van sy dwaalleer wou afstand doen nie dat die besorgdes en dolerendes hulself losgemaak het.

Die dolerendes van die Kairos-netwerk probeer tans die NGK bevry van dwaalleer. Soos die Namibiese sinode duidelik gestel het, gaan hulle met die NGK se algemene sinode (AS) in gesprek tree oor al hul dwaalleer en dan tugstappe teen die AS doen indien hulle nie tot inkeer kom nie, maar voortgaan met dwaalleer.

Ons kan die hemele dank dat die geskiedenis besaai lê van verdeelde kerke, want in feitlik elke geval is die kerk tydelik gesuiwer van dwaalleer en misbruike tot die volgende verval in dwaalleer.

Waar sou ons en die kerk vandag wees sonder die herhaalde reformatoriese bewegings en wegbreke sodat Bybelse Waarheid kan seëvier? Sekerlik in ’n humanistiese post-teïstiese kerkgemeenskap van dwaalleer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui