Namibië roep Algemene Sinode ‘tot inkeer’

*******

Namibië roep Algemene Sinode ‘tot inkeer’ | Kerkbode

Kerkbode

23 Maart 2022

Sowat 96 afgevaardigdes het die NG Kerk Namibië se 44 gemeentes en sowat 21 000 lidmate van Donderdag tot Saterdagmiddag (19 Maart) in Windhoek verteenwoordig by ’n streeksinode waarby ds Johannes Maritz tot voorsitter en ds De Wet Strauss tot ondervoorsitter verkies is.

Vele besluite is geneem – ook rondom teologiese opleiding, waarvolgens studente in die Suid-Afrikaanse buurland nou vir die eerste keer via die Namibiese Evangeliese Teologiese Skool (NETS) ook nagraadse opleiding kan ontvang, nie net die BTh-kwalifikasie nie.

Maar die saamtrek sal waarskynlik vir een besluit onthou word. Die besluit, wat met ’n meerderheid van twee derdes goedgekeur is, baan die weg vir Namibiërs om in November vanjaar sy band met die Algemene Sinode van die NG Kerk los te maak. (Lees die volledige besluit hieronder. – Red).

Intussen het Strauss ’n verklaring uitgereik waarin hy die besluit opsom: “Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ’n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode losmaak ingevolge Artikel 37, wat as volg in die kerkorde verwoord is: ‘Dit staan die samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die Algemene Sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.’”

Lees ook: NG Kerk Vrystaat: Oor opleiding vir dominees, beelde van God en ’n moontlike ‘uittog’

Die Sinode van Namibië is vernaam gekwel deur die besluite wat afgevaardigdes by die Algemene Sinode in 2019 gemaak het oor selfdegeslagverhoudings. “Die Sinode van Namibië vertrou dat die Algemene Sinode tot inkeer sal kom,” luidens die verklaring deur Strauss.


BESLUIT:

Die Sinode keur die volgende beginselbesluit rakende Artikel 37 goed:

  1. Om die Jesuspad van Matteus 18 met die Algemene Sinode enduit te stap tot die mate dat uit die band met die Algemene Sinode getree word op grond van Artikel 37.
  2. Om so ’n stap voor God in die lig van sy Woord te regverdig op grond van:
    1. die teleurstelling in die Algemene Sinode 2019 se besluit oor selfdegeslagverhoudings;
    2. die onvoldoende kerklike opsig en tug van die Algemene Sinode ten opsigte van teologiese opleiding aan NG Kerk geakkrediteerde opleidingsinstellings;
    3. die gevolglike wantroue wat die verhouding met die Algemene Sinode kenmerk.

3. Nooi die ander deelnemende streeksinodes uit om saam hierdie pad van kerklike dissipline met mekaar en met die Algemene Sinode te stap.

4. Stel die volgende dokumente voor as getuienis en werksdokumente vir die Jesuspad van Matteus 18 met die Algemene Sinode:

  1. Namibiese Sinode Getuienis oor selfdegeslagverhoudings (2016);
  2. Namibiese Sinode Getuienis oor Skrifinterpretasie en -gesag (2016);
  3. Besluit van Namibiese Taakspan Teologiese Vorming ten opsigte van dosente en fasiliteerders aan opleidingsinstellings (2022).

5. Die besluit word van krag wanneer die volgende prosesse – nie later as einde November 2022 – afgehandel is:

  1. Uitklaring van regskwessies rakende Artikel 37.
  2. Uitklaring rakende ’n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NG Kerk.
  3. Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding.
  4. Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf AS.
  5. Deeglike kommunikasie met gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse.

6. ’n Ad-hoc taakspan in samewerking met die moderamen rapporteer by wyse van ’n verslag wat dien by ’n buitengewone sinode teen einde November 2022 dat bogenoemde prosesse afgehandel is.

7. Hierdie taakspan sal bestaan uit die volgende lede: DuBois du Toit, Willem Burger, Kenneth McKenzie, Zack Pienaar, Christo van Heerden en twee addisionele lede van die nuutverkose moderamen.


Sinode van Namibië – Artikel 37 persverklaring – 2022-03-19

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui