Kerk gaan appelleer teen uitspraak oor bates van wegbrekers

Dit lyk of die kommissie van die algemene kerkvergadering van die NHKA dieselfde doen as wat Putin tans doen: Rusland val nou vir Oekraïne in om hulle finansiële posisie (en selfs magsposisie) te versterk. Rusland mag dalk selfs suksesvol wees, maar hy sal nooit die lojaliteit van die inwoners van Oekraïne op so ’n manier wen nie. Op die ou einde mag hy dalk met ‘n groter kopseer sit as die moontlike finansiële voordeel wat hy kan kry.

Kyk ook kommentaar onderaan die artikel.

*******

Kerk gaan appelleer teen uitspraak oor bates van wegbrekers | Netwerk24

26 Maart 2022

Die kommissie van die algemene kerkvergadering van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) gaan teen ’n uitspraak deur die hooggeregshof appelleer dat gemeentes wat wegbreek, hul geboue kan behou.

Dit volg nadat 13 voormalige gemeentes van die NHKA, wat nou deel is van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG), die hof oortuig en hul saak daaroor gewen het.

Die gemeentes het tussen 2010 en 2014 wegbeweeg van die NHKA en hul kerkeiendom oorgedra aan verenigings wat hulle gestig het.

Die NHKA wil appelleer teen die feit dat gemeentes hul bates vooraf na verenigings oordra voordat hulle wegbreek.

Die hof het op 7 Maart beslis die oordrag van eiendom was wettig, omdat die eiendom in die gemeentes se naam was. Die NHKA kan as derde party geen insae tot die ooreenkoms hê nie.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die kommissie van die algemene kerkvergadering van die NHKA, sê in ’n omsendbrief dat die litigasiekomitee die verloop van die hofuitspraak uiteengesit en ook verduidelik het waarom hulle van mening is dat daar met die uitspraak gefouteer is.

“Die litigasiekomitee het gevolglik op regsgronde aanbeveel dat die kerk wel teen die uitspraak appelleer.

Daarop het die kommissie die wyer implikasies van ’n appèl al dan nie uitvoerig bespreek. Die regsposisie sowel as die wyer implikasies vir die kerk het die kommissie oortuig om appèl aan te teken teen die hofuitspraak.”

Volgens Van Wyk handel die hofsaak tegnies oor die reg van ’n gemeente om hul eiendom aan ’n ander party te skenk, maar dat die hofsaak in werklikheid nie oor eiendom of selfhandhawing gaan nie, maar ten diepste oor die eenheid van die kerk.

“As die NHKA nié sou appèl aanteken nie, is die gevolge daarvan vir die NHKA geweldig groot: Dit hou nie net implikasies in vir die eiendomme wat tans in die geding is nie, maar ook vir talle ander kerklike eiendomme. Meer nog, dit hou implikasies in vir die sinodale funksionering van die Hervormde Kerk – vir die opbou van die onderlinge gemeentebande en ons ekumeniese verhoudinge, gemeentebegeleiding, diakonale werk en teologiese opleiding. Prakties gestel beteken dit dat die onderlinge band tussen die gemeentes opgehef sou word en dat ons gemeenskaplike binding aan die kerkorde van individue se willekeurige instemming afhanklik word,” sê Van Wyk.

Kommentaar

Die redes wat aangevoer word om die appèl te regverdig klink asof die NHKA kerkeenheid wil af dwing. Dit is egter onmoontlik.

Dit sal dieselfde wees as ’n jong man ’n meisie in sy huis toesluit om haar te probeer dwing om lief te wees vir hom.

Of met die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Rusland mag dit dalk selfs regkry om op die ou einde Oekraïne oor te neem, maar hy sal nooit die lojaliteit van die inwoners van Oekraïne op so ’n manier wen nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui