In ’n oorlog is daar nie wenners nie …

Johan van der Merwe het in ’n relatiewe kort tydjie nou al vier artikels geskryf teen kerkskeuring in die NG Kerk:

Alhoewel nie duidelik nie, doen hy dit nou weer in hierdie artikel.

Die vraag is, is daar regtig nooit wenners in ’n oorlog nie?

Kyk my kommentaar onderaan.

*******

In ’n oorlog is daar nie wenners nie … | Kerkbode

Johan Van der Merwe

22 Maart 2022

Die Russiese inval in die Oekraïne het die wêreld opnuut bewus gemaak van die genadeloosheid van oorlog. Soos wat meer en meer beelde van absolute verwoesting die wêreld ingestuur word, het die woorde van wyle generaal Constand Viljoen weer spoke uit die NG Kerk se eie verlede opgeroep. “In ’n oorlog is daar nie wenners nie – net verloorders”. Die ontsettende menslike lyding tydens oorloë is die NG Kerk in die verlede ook nie gespaar nie.

Verskeie oorloë in Suid-Afrika het lidmate van die kerk direk geraak. Die Grensoorloë wat van 1779 tot 1879 gewoed het, die verskillende veldslae tydens die Groot Trek van 1835-38, die Eerste Vryheidsoorlog van 1881 en die Grensoorlog van 1966-1990 het op verskillende maniere tot pyn en ontworteling van lidmate bygedra. Dit was egter die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 wat die NG Kerk intens met die pynlike werklikheid van oorlog gekonfronteer het.

Dit was tydens hierdie oorlog waar die verskroeide aarde-beleid van Roberts en Kitchener daarop gemik was om lidmate van die kerk persoonlik en in gesinsverband te knak en so tot oorgawe te dwing. In die proses is 30 000 plase afgebrand terwyl 120 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe geplaas is. Die haglike omstandighede in hierdie kampe het daartoe gelei dat 27 927 vroue en kinders in die kampe gesterf het. Daar is 31 000 Boere-krysgevangenes na buitelandse kampe op St Helena en in Bermuda en Ceylon gestuur.

Die totale verwoesting tydens die oorlog word beskryf in die notule van die kerkraadsvergadering van die NG gemeente Frankfort gedateer 14 Februarie 1903: “In Maart 1901 vertrek die Britse garnisoen uit die dorp, maar nie voor vandalisme hoogty vier nie – Het dorp is geheel verwoest gedurende den oorlog door de britsche troepen. Net een gebouw is onder dak gebleven. Het kerkgebouw en pastorie zijn mede verbrand met de ander gebouwen, en met alles er in was.”

Dit was egter nie net dood, verlies en die totale verwoesting wat bediening in die NG Kerk uitgedaag het nie. Grootskaalse verdeeldheid in gemeentes tussen die Joiners, die Hensoppers en die Bittereinders het bediening verder bemoeilik en selfs tot skeuring gelei.

Die talle oorloë waarmee gelowiges voortdurend die afgelope dekades gekonfronteer is en die geweld in Suid-Afrika kan maklik lei tot ’n vorm van apatie asof dit maar deel van die gang van die geskiedenis is. Miskien moet dié pynlike gebeure uit die geskiedenis van die NG Kerk en die afgelope dae se beelde uit die Oekraïne die kerk opnuut herinner dat ons die vredemakers in hierdie wêreld moet wees, want in ’n oorlog is daar nie wenners nie, net verloorders.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Kommentaar

Daniel Louw

Oorlog is deel van die gebroke werklikheid van hierdie wêreld. Natuurlik moet ‘n mens dit vermy waar moontlik. Dit is wat die Bybel immers sê in Romeine 12: “(18)As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Hoe moet ons dink oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne?

Oekraïne het twee opsies:

  1. Verdedig hulleself, soos hulle tans doen. In die proses is daar egter baie lewensverlies en finansiële skade.
  2. Gee oor en spaar baie mense se lewens en geld. Mens kan hierdie opsie selfs Bybels regverdig: Mat 5: (39)Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens (Rusland) verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

Ek dink egter nie daar is baie mense wat glo dat Oekraïne die tweede opsie moet oorweeg nie.

Hoe moet ons dink oor die huidige geveg in die NG Kerk?

Eerder ’n kort oorlog en ewige rus as valse vrede en ewige pyniging. ~ Charles Spurgeon

Let op dat Rom 12:18 begin met: “As dit moontlik is

Mense “vergeet” gerieflikheidsonthalwe ook van Jesus se eie woorde in Mat 10:34-39Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard….

Dit is nie moontlik vir behoudendes en verligtes om in vrede saam in die NG Kerk te leef nie. Soms is skeiding die enigste manier om eenheid tussen mense te kry, ongeag die tydelike pyn wat skeiding veroorsaak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui