‘Daarop sê ek ja’

Kyk ook:

*******

‘Daarop sê ek ja’ | Kerkbode

Kerkbode, 11 November 2005

Prof JC Müller, hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria, skryf:

Na aanleiding van die brief van HW de Jager van Brandvlei (Kerkbode, 26/08/05) waarin hy die volgende versoek aan my rig: “Help dus vir hulle, en vir my, en vir uself deur bogenoemde vraag ondubbelsinnig te antwoord …” Hy sê: “As u die vraag of Jesus Christus liggaamlik (dws fisies) uit die dood en die graf opgestaan duidelik en ondubbelsinnig antwoord, sal niemand u meer kan misverstaan nie.”

My antwoord: Ek onderskryf die belydenisskrifte van die kerk volmondig. In daardie taal het ek ook op vorige soortgelyke versoeke geantwoord. Die probleem word deur uself duidelik gestel. U en andere wat my geloof bevraagteken, voel dat die belydenisskrifte te vaag en dubbelsinnig is. U wil dus verbeter op die Apostolicum, die Heidelbergse Kategismus, Nicea en ander belydenisskrifte, terwyl ek gemaklik is met daardie formulerings en daarby staan. U moet liewer verduidelik waarom u dit noodsaaklik vind om die begrippe “liggaamlik, fisies” by te voeg. Wat my betref sou u met sulke begrippe juis afbreek doen aan die misterie-karakter van die opstanding van Christus. Deur sulke woorde by te voeg, verskraal u Jesus se opstanding tot op dieselfde vlak as Lasarus se opwekking: Lasarus se opwekking was histories-fisies of histories-liggaamlik. Vir Jesus se opstanding kan sulke kategorieë nie gebruik word nie omdat dit iets so groot en misterieus is dat ons taal te kort skiet as ons dit probeer omskryf. Daarom is ek gemaklik met die belydenisskrifte se oop, sobere en ekonomiese verwoording van ons opstandingsgeloof. U byvoegings verteenwoordig ’n afwyking van die suiwere verstaan van die opstanding. Daarom antwoord ek nooit daarop ja nie!

Kommentaar

Daniel Louw

Hierdie belydenis van Julian Müller self wys glashelder wat sy opinie is: Hy glo dat die belydenisskrifte nie beperk is tot ‘n fisiese/liggaamlike opstanding nie en daarom kan hy met ‘n skoon gewete steeds die belydenisskrifte onderskryf.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui