Miracles, miracles!!

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in November 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek het in 2001 die geleentheid gehad om ’n besoek te bring aan ’n besondere gemeente van die Koptiese Kerk in Egipte. Toe ons soontoe ry sê ons gids vir ons: “Now you are going to see “miracles, miracles!” Hulle het ons bekendgestel aan ’n oorlewering aangaande ’n baie merkwaardige gebeurtenis in die geskiedenis van die Koptiese Kerk. Dit is deel van die Kerk se amptelike geskiedenis en ek het geen rede gekry om dit te betwyfel nie. Mokattamberg se geskiedenis is as volg:

In die jare 970 nC was daar ’n goewerneur of Galief in Egipte, met die naam Al-Mu’is. Hy het daarvan gehou om debatte te reël tussen die Jode, die Moslems en die Christene. Die spreekbuis van die Jode het die naam Jakob gehad. Jakob het op die woorde in die Mat 17:20 afgekom waar daar staan: As julle maar  geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: “Gaan staan daar anderkant!” en hy sal gaan. Niks sal vir julle ontmoontlik wees nie. Jakob het die Christene uitgedaag om te bewys dat hulle met hulle geloof ’n berg kan skuif.

Aan die Westekant van Kairo is daar ’n berg. Die Galief wat juis die berg uit die pad wou kry, het die Pous (die hoof van die Kerk in Egipte), opdrag gegee om die berg te skuif. As hy dit nie kon doen nie sou hy die Christene laat doodmaak, of die Christene moes almal Moslems word. Die Pous het drie dae uitstel gevra en hy het die Christene opgeroep om vir drie dae te vas en te bid oor die belangrike saak.

In die tyd het die Pous ’n openbaring gehad, waarin Maria die moeder van Jesus, hom bemoedig het en gesê het dat hy buite ’n man sou kry, wat net een oog het en wat ’n emmer water dra. Hy moes die man se hulp vra. Die Pous het uitgegaan en ’n man gekry met die naam Samaan. (Simon)

Hierdie Simon was ’n merkwaardige man. Hy het ’n asketiese lewe gelei. Hy was ook ’n leerlooier en ’n skoenmaker. Op ’n dag moes hy ’n vrou se skoene vir haar regmaak. Met die aanpas van die skoene was sy vir hom tot ’n verleiding en hy het dadelik sy els geneem en sy regteroog verwyder omdat sy oë, vir hom tot struikeling was. Hy het op die wyse letterlik uitvoering gegee aan Jesus se opdrag in Mat 5:29: As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg.

Samaan het ingewillig om die Pous te help en die hele stad het by die berg bymekaar gekom om te kyk wat gebeur. Die Pous het die Christene saamgeroep en Samaan het sy voorskrifte vir hulle gegee: Hulle moes 400 keer moes uitroep: “Kyrie Eleison” (Here wees ons barmhartig). Hulle het dit gedoen. Die Kerk in verdrukking, het eers na die Ooste gekyk en die Here 100 keer gesmeek en gesê: “Kyrie Eleison” . Daarna het hulle ook na die Weste, die Suide en die Noorde gedraai en dieselfde gedoen. Toe het hulle stil geword en na die berg gedraai. Hulle het 3x na die grond toe buig en opgestaan. Toe het die wonder voor hulle oë gebeur! Elke keer as hulle opgestaan het, het die berg ook voor hulle ook opgestaan. Hulle kon die son onder die berg deur sien skyn!

Die berg het tot vandag toe die naam Mokattam gekry, wat beteken “flenters”. Dit is inderdaad dan ook so dat die berg tot vandag toe nog op onverklaarbare wyse verwoes is. Dit lyk of dit ’n reuse gruisgroef geword het. Dele van die berg is net weg.

Dit is die eerste wonder. Die tweede wonder is die gemeente wat 30 jaar gelede in die berg gestig is. Die gemeente se verhaal is as volg: In 1969 het Pres Nasser ’n dekreet uitgevaardig wat bepaal het dat al die vuilgoedverwyderaars van Kaïro verskuif moet word na een van die heuwels van Mokattam. Hulle het vir hulle huise gebou wat hulle “Zaraayib” genoem het. Dit beteken letterlik “varkhokke”. Die plek se naam is Zabbaleen. (Die Ashoopstad) Daar is vandag omtrent 40 000 mense daar waarvan net omtrent 5% Moslems is. Die res is Christene.

In 1974 het een van die inwoners van die Zabbaleen na ’n leraar toe gekom en gevra dat hy na hulle sou omsien daar by die ashope. Hy was eers onwillig, maar is tog oorreed om te kom. Hierdie leraar se naam is toevallig ook Simon. Die Here het aan hom besondere gawes gegee om te kan preek en ook om te genees. Ons het hom daar ontmoet. Hy het die mense begin besoek en so het daar ’n groot gemeente tot stand gekom. Die stukkende berg het op ’n plek ’n natuurlike ruimte gevorm om ’n kerk in te rig. Sonder veel moeite kon die gemeente dit omskep in ’n amfiteater van 1000 vk meter.

As mens bo van die kerk afkyk dan sien mens die haglike omstandighede waaronder die gemeentelede woon. Daar tussen hulle huise hou hulle die varke aan om die afval van die stad aan hulle te voer. Die gemeente by Mokattamberg het in sy armoede ’n juweel geword vir die koninkryk van God. Die Here Jesus het hulle raakgesien in hulle eenvoud en hulle lewe daar tot sy eer. Hulle is gelukkig en hardwerkend.

Vanjaar het daar ook ’n derde wonder plaasgevind by die Mokattamberg. Julle sal onthou dat daar in 2002 ’n Transformasie Afrika Gebedsdag op Nuweland in die Kaap begin is. Hierdie gebedsdag het nou na groot dele van die wêreld uitgebrei. Vanjaar het die Christene in Egipte ook in groot getalle saamgekom vir die gebedsdag in die amfiteater van Mokattam – daar waar die Here vir Homself ’n kerk uit die rots gekap het! (sien die fotos)

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui