Ondubbelsinnige antwoord kan prof Müller se probleem oplos

In ‘Daarop sê ek ja’ (11 Nov 2005) reageer Julian Müller op hierdie brief. Daarin wys hy duidelik dat HW de Jager ‘n geldige punt maak. Dit is duidelik dat Müller glo dat die belydenisskrifte nie beperk is tot ‘n fisiese/liggaamlike opstanding nie en daarom kan hy met ‘n skoon gewete steeds die belydenisskrifte onderskryf.

*******

Ondubbelsinnige antwoord kan prof Müller se probleem oplos | Kerkbode

Kerkbode, 26 Augustus 2005

Brief: HW de Jager van Brandvlei

EK skryf graag ’n ope brief aan prof Julian Müller na aanleiding van die berig in Kerkbode van 12 Augustus 2005.

“Prof Müller, ek merk op dat u kwaad is omdat u u geloofsoortuigings oor die opstanding van Jesus Christus moet verdedig teenoor mense wat dit op ’n uitdagende en konfronterende gesindheid van u eis. Dit mag sekerlik enigeen kwaad maak as ’n mens sonder rede verdag gemaak word. Ek het aanvaar dat daar in die berig onomwonde gesê sou word wat u mening ten opsigte van die opstanding van Christus is. Ongelukkig word dit nie gedoen nie.

“As u die vraag of Jesus Christus liggaamlik (dws fisies) uit die dood en die graf opgestaan duidelik en ondubbelsinnig antwoord, sal niemand u meer kan misverstaan nie.

“Ek weet dat u saam met proff Dirk Human en Jurie le Roux verklaar dat u die opstanding van Jesus Christus saam met die kerk bely soos dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord is. Dit is blykbaar te vaag en te breed gestel vir mense wat nie kan verstaan nie. Help dus vir hulle, en vir my, en vir uself deur bogemelde vraag ondubbelsinnig te antwoord. Ons kerk het dit nodig dat ons ondubbelsinnig begin praat.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui