Biermanskool word weer deel van Klassis Etosha

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Biermanskool word weer deel van Klassis Etosha

18 Maart 2023

Deur dr Callie Opperman

(Geplaas op Facebook en aangestuur deur Whatsapp)

Op Saterdag 18 Maart is die Gereformeerde kerk Biermanskool met vreugde en dankbaarheid verwelkom in die ressort van Klassis Etosha (Namibië). Ons kan sê “terug verwelkom” as gemeente van die GKSA (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).

Lesers sal verbaas wees dat ‘n Gereformeerde gemeente weer deel moes word van ‘n Gereformeerde kerkverband. Die agtergrond is die hartseer verloop van die onlangse kerkgeskiedenis in Namibië. Sedert 2016 het ʼn aantal Gereformeerde gemeentes in Namibië op grond van verskille oor onder andere die toepassing van sinodebesluite in sake die vrou in die diens van diaken, die wyse van nagmaalviering en die kerklied hulle van die Klassis Etosha onttrek. Eers het hulle saam met ʼn klassis in Suid-Afrika vergader, maar toe deur daardie klassis besluit is dat die gemeentes weer met Klassis Etosha behoort te versoen en te vergader, is besluit om hulle los te maak van die GKSA. So is naas die Gereformeerde gemeentes in die Klassis Etosha ook die “Gereformeerde Kerke van Namibië” gevorm. Twee Gereformeerde kerkverbande naas mekaar in Namibië.

Biermanskool gemeente was deel van die proses. Die afgelope jare het die bedieningsnood en nood in die gemeenskap van die Kamanjab distrik om die Woord van God te hoor groter geword weens tekort aan predikante. Vanuit die GKSA gemeentes van Okahandja en Otjiwarongo is hulp gebied met Woord- en sakramentsbediening. Verlede jaar is tydens ʼn kerkraadsvergadering van Biermanskool, wat opgevolg is met ʼn gemeentevergadering, besluit om die Klassis Etosha te versoek om weer in die GKSA opgeneem te word. Sodoende sou Biermanskool weer ʼn predikant uit die GKSA kon beroep, sonder dat hy hoef oor te gaan na ʼn ander kerkverband.

Intussen het die NG Gemeente Kamanjab hulle nood met die Doppers gedeel. Die besoekende GKSA predikante het begin om om die beurt in die kerkgeboue van die Gereformeerde Kerk Biermanskool en die NG Gemeente Kamanjab eredienste te hou. Lidmate van beide gemeentes het beide die eredienste bygewoon. Daar word tans tussen die twee gemeentes beplan om saam een Gereformeerde predikant te beroep, wat albei die gemeentes sal bedien.

Die versoek van Biermanskool om weer in die GKSA kerkverband opgeneem te word en saam met Klassis Etosha te vergader is op 18 Maart 2023 tydens ʼn verkleinde klassis (contracta) behandel. Ook die beplande samewerking met die NG Gemeente Kamanjab was ter tafel. In die lig daarvan dat Klassis Etosha deur die jare gebly het by die besluit dat die gemeentes wat uit hulle ressort beweeg het, uitgenooi word om terug te keer, is die versoek eenparig goedgekeur. Daar is groot blydskap oor hierdie stap, aangesien die verdeeldheid tussen Gereformeerde kerke in Namibië nie deur Klassis Etosha gehandhaaf wil word nie.

Die samewerking met die NG Gemeente is ook in lyn met die besluit oor koninkryksbediening in die gemeenskappe waar Gereformeerde gemeentes is. Sodoende sal samewerking tot uitbou van die koninkryk van God versterk kan word.

Ons Klassis Etosha deel hierdie goeie nuus graag met die GKSA kerkverband en vra u voorbidding vir die bediening van God se Woord in daardie noordwestelike deel van Namibië. Mag ons Koning Here Jesus Christus en sy koninkryk met krag groei vanuit hierdie stappe wat geneem is. Mag Hy wysheid en getrouheid gee in die besondere tipe van bediening.

  • Dr Callie Opperman is ‘n predikant van Gereformeerde Kerk Hentiesbaai

********

Hier volg meer besonderhede oor die skrywe hierbo:

In 2009 het die 15 Gereformeerde gemeentes in Namibië (klassis Etosha) in twee verdeel weens drie teologiese kwessies (die proses het reeds in 1999 begin):

  1. die vrou in die diens van diaken
  2. nagmaalviering (beker teenoor kelkies)
  3. liedere wat tydens eredienste gesing word

Die ses meer behoudende gemeentes het van die nege meer verligte gemeentes afgeskei en ingeskakel by klassis Waterberg in Suid-Afrika. Die nege verligte gemeentes het voorgegaan om bekend te staan as klassis Etosha, deel van die GKSA. Dit was egter nie ‘n skeuring uit die denominasie nie, maar bloot ‘n skeiding binne die GKSA – beide groepe was steeds deel van die GKSA.

Dit het egter meegebring dat die ses behoudende gemeentes baie ver moes reis om vergaderings by te woon in Suid-Afrika.

In 2016 het die ses behoudende gemeentes besluit om weens praktiese redes te skeur van die GKSA en die GKNA (Gereformeerde Kerke in Namibië) te vorm. In wese is ‘n nuwe denominasie gestig: alle sinodale bydraes aan die GKSA is gestaak en ‘n eie vereenvoudigde kerkorde is ontwikkel. Dit was ‘n eenparige besluit in die ses gemeentes. Hierdie ses gemeentes het ook hulle bates behou. Die skeuring uit klassis Waterberg het in baie goeie gees plaasgevind.

Op die oomblik wil Gereformeerde kerk Biermanskool, wat deel van die GKNA is, ‘n predikant beroep. Daar is egter nie predikante in GKNA beskikbaar nie. Om ‘n predikant van die GKSA te beroep beteken dat die predikant sal moet bedank uit die GKSA en amptelik aansluit by GKNA. Dit sal egter so ‘n predikant se beroepbaarheid na die GKSA nadelig beïnvloed. GK Biermanskool het dus besluit om weer by klassis Etosha aan te sluit en op dié manier weer deel te word van die GKSA sodat dit makliker is om predikante van die GKSA te beroep.

Kommentaar

Daniel Louw

Wat die GKNA gedoen het, was niks anders as kerkskeuring nie. Dit wys dat kerkskeuring nie ‘n groot kwessie hoef te wees nie. Trouens, hierdie gebeure wys presies hoe dit werk wanneer die beginsel gevolg word dat die plaaslike gemeente volledig kerk is. Dit beteken dat gemeentes self besluit met wie hulle wil assosieer en dat die gemeente se bates aan die meerderheid lidmate in die gemeente behoort.

Die vraag is of dit vir gemeente Biermanskool nodig is om weer by die GKSA aan te sluit om hulle probleem op te los dat hulle nie predikante kan kry wat bereid is om by die GKSA te bedank en by die GKNA aan te sluit nie.

‘n Moontlike oplossing vir hierdie probleem sou kon wees om ‘n predikant van die GKSA op (permanente) kontrakbasis by Biermanskool aan te stel: op so ‘n manier kan die predikant steeds sy lidmaatskap by die GKSA behou. Vir alle praktiese doeleindes sal hy egter ‘n volwaardige predikant van Biermanskool wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui