Pieter Prinsloo: Wie is God vir jou?

Louis van der Riet: Wie is God vir my …

In die televisiereeks “Grondpad geloof” vra Dana Snyman telkens vir deelnemers die vraag: “Wie is God vir jou?”. Dit is ‘n vraag waaroor elke mens klarigheid moet kry. Die antwoorde van deelnemers laat my soms ineenkrimp van ontsteltenis, hartseer en ander gemengde gevoelens. Natuurlik kan ek soms ook “amen” sê op sekere deelnemers se antwoorde. Maar dit laat steeds die vraag: Wie is God vir my?

Kom ons staan net eers stil by die feit dat Dana ‘n baie belaaide vraag vra; ‘n meer gepaste vraag is dalk: “Wie is God werklik?” Natuurlik sou mens soos Dana kon vra: “Wie is God VIR MY?” Die lewensbelangrike saak is egter dat my antwoord op die vraag: “Wie is God VIR MY?” nie in weerspreking mag wees van die antwoord op die vraag: “Wie is God wérklik?” nie. Indien MY god anders is as die ware God, is ek op die pad na ewige ontnugtering, want ek aanbid MY (selfgemaakte) God wat uiteindelik maar net ‘n AF-god is.

Maar hoe kan ek weet of MY God/god die ware God is as ek dan nie kan vertrou op my eie uitdinksels en gevoelens oor God en Sy wil nie? Wel, omdat ek nie my eie, altydwisselende uitdinksels en gevoelens oor God se identiteit en wil kan en wil vertrou nie, vertrou ek eerder daarop dat God Homself in die geskiedenis aan ons kom bekend maak het:

Johannes 1:18 “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”

Hebreërs 1 kleur die prentjie nog duideliker in aangaande God se selfbekendmaking deur die geskiedenis heen –
“1 In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4 Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.”

Daarom: MY God is nie ‘n mensgemaakte gedagtebeeld van God nie. Hy is die God wat Homself in die Ou Testament deur die profete aan ons bekend gemaak het, en uiteindelik met mense kom praat het deur Sy Seun, sodat ek Hom in waarheid kan ken en reg aanbid binne ‘n wêreld waar mense hulle eiesinnige gedagtebeelde oor God skep.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui