Waar laat keuse oor Bybel kerk se lidmate?

*******

Waar laat keuse oor Bybel kerk se lidmate? | Netwerk24

Daan Nortier, Bloemfontein

31 Oktober 2023

Ten diepste woed die storm om die NG Kerk in die geesdimensie.

Die kerk ly onherstelbare skade, ja, maar wesenlik onteer dit God.

In Judas se lof is Hy die enigste God, aan wie die heerlikheid, majesteit en krag van alle ewigheid tot alle ewigheid behoort.

Hoe gewigtig en diep dit strek, vra in konteks wat Jesus geleer het toe Hy die Onse Vader inhoud gegee het.

Die bron daarvan, het Hy geleer, wentel om God se heilige naam, sy Koninkryk en sy wil.

Wat gebeur daarmee in die debat?

Dit kan darem verwag word dat teoloë die diepgang van dié geestelike dimensie behoort te begryp en daarvolgens op te tree, maar wat gebeur in dié onhebbelike kerktwis met veral die Bybel?

Keuses het gevolge.

Dis ’n ou Bybelse beginsel.

Die Bybel kenmerk gevolge uit keuse as die onderskeid tussen dood en lewe.

In die debat om die NG Kerk het dit demonstratiewe inhoud.

Die gay-faksie het die kerk hof toe gesleep.

Dit was ’n doelbewuste keuse met ’n beleefbare gevolg, ’n geliefde kerk in sterwensangs.

Om God se eer te verstaan is sy Woord immers onontbeerlik. Vir kerkleiers behoort dit aksiomaties te wees.

Tragies lê hier óók ’n probleem. Is die Bybel nog God se Woord, of is dit bloot ’n boek met mensewoorde oor God?

Dit bring weer keuse aan die orde.

Waar laat dit die derduisende toegewyde lidmate wat lewenslank lojaal met onder meer dankoffers en pannekoeke kerke gebou en aan die gang gehou het?

Wat is hulle veronderstel om te kies?

Die Bybel as bron van hul vertroue of die verlokking van die “human rights” van die humanisme?

Oor die vleeslike dimensie van die dispuut behoort Jakobus ’n spreekbeurt op die sinode te kry.

Hy vra: “Waar kom die stryd (oorlog) vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig in julle woed nie?”

’n Kenmerk van die debat is ongelowiges wat hulle by die onderwerp inwurm. Van hulle ontken God onbeskaamd en diskrediteer die Bybel. Hulle lewer kommentaar oor die Persoon wat die Bybel as heilig en verhewe inhoud gee en sy Woord, waarvan hulle oor die geestelike essensie demonstratief bedroef min begryp.

Ons almal op aarde is (weer Bybels verklaar) na God se beeld geskep. God is gees en het ons na sy beeld as ’n geestelike wese geskep, wat vir ’n asemteug in die ewigheid op aarde in ’n liggaam mag lewe en beweeg, toegerus met ’n siel met alles wat dit inhou. Ons is dus gees, liggaam en siel.

Die Bybel gee spesifieke inhoud oor die aard van ongevraagde en vrypostig onverstandige insette oor God, sy Woord en kerk.

Dit, sê die Bybel, is ’n gebrek aan wysheid, want, sê die Bybel: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het ware insig.” (Spreuke 9:10).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui