Verklaring: NG gemeente Kleinmond kerkraadsdagbestuur

Die volgende verklaring is uitgereik deur die dagbestuur van NG gemeente Kleinmond se kerkraad. Ek lewer kommentaar tussenin:

********

3 Maart 2021

Liewe lidmaat van ons gemeente,

Die berig het ons bereik dat daar sommige lidmate is wat onseker voel oor die NGK en waarin ons glo. Ons verwelkom dit. Ons nooi enige iemand wat oor enige saak klarigheid wil kry om met een of albei van die dominees ’n gesprek aan te vra. Ons kom ook agter dat, omdat die kerk se besluite soms so gedetailleerd is, mense se verstaan daarvan nie heeltemal korrek is nie. Kom praat dus. Die hele idee van kerkwees is dat ons mekaar help om in enige situasie, ons lewe met die Here te belyn. Kom praat dus, sodat ons mekaar daarin kan help.

Ons besef dat van die boeke en debatte wat elke nou en dan die kalklig haal, gelowiges kan ontstel. Ons is egter nie ’n kerk wat mense se denke aan bande lê nie. Ook nie ’n kerk wat voorskryf hoe mense moet glo nie. Dit is die Heilige Gees se terrein. [Kommentaar: Hierdie stelling laat die hare rys. Dit is hoegenaamd nie Bybels nie. Christene word op baie plekke in die Bybel opgeroep om ander tot verantwoording te roep. Kyk byvoorbeeld Die Bybel oor oordeel/Ons moet sonde veroordeel. Verder verplig predikante se legitimasie-eed hulle om lidmate te lei waarin om te glo en indien lidmate on-Bybelse dinge begin glo, moet daar oorgegaan word in tug. Kyk ook Die Bybel oor dwaling.] Ons fokus daarop om gelowiges te help om, in hul verhouding met ons Hemelse Vader, elke dag prakties te leef.

Ons kerk was nog altyd ’n kerk met verskillende idees en spiritualiteite. Dink maar aan die dae van Andrew Murray se meer evangeliese benadering teenoor ander leiers met ’n meer Hollandse gereformeerde aanslag. Uit beide strome het wonderlike verryking en praktiese diens gevloei! Hierdie verskillende sieninge het in mindere of meerdere mate mense gehelp om getroos te lewe en sterwe, soos die Heidelbergse Kategismus ons leer. [Kommentaar: Dit is om die minste te sê skokkend dat die dwaalleraars, by name JJ Kotzé en TF Burgers, beskryf word asof hulle ’n positiewe bydra gelewer het tot die NG Kerk. Vir meer hieroor, kyk Andrew Murray en JJ Kotze, TF Burgers, JJ du Plessis, Ben du Toit en Raamwerkverskuiwings.] Dis vandag nog so. Beoordeel asb die verskillende stemme in die breër konteks. Laat die akademici maar met hulle liefhebbery om te debatteer, voortgaan. Die Here hou wel sy kerk in stand, soos Martin Luther ons lank gelede leer sing het. (Lied 477)

Wat ons gemeente betref, stort ons nie veel energie in sake wat op die periferie lê nie. [Kommentaar: Die twee hoofkwessies op die tafel is die bestaan van die duiwel en selfdegeslagverhoudings. Word hierdie dus as randsake beskou?] Ons probeer so goed as moontlik ons lidmate help om troos in die Bybel te vind vir die eise van elke dag. Daarom stry ons nie daaroor of Jesus regtig opgestaan het nie. Sonder die opstanding van Jesus, is ons geloof waardeloos, sê Paulus in 1 Kor. 15:17. Ons stry ook nie oor die maagdelike geboorte van Jesus nie. Hoekom sal ons dit nie aanvaar nie? Ons bely dan elke Sondag so in die 12 Artikels. [Kommentaar: Is die opstanding en maagdelike verwekking ook deel van die “sake wat op die periferie lê”? Geskiedenis het ook gewys dat die woorde “ons bely dan elke Sondag die 12 Artikels” vir sommiges niks beteken nie. Kyk Om publiek te bely.] Ons gee ook geen aandag aan die duiwel nie. Hy is immers nie meer ’n faktor vir die gelowige nie, want ons bid met die woorde wat Jesus ons gegee het “… lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” [Kommentaar: Die duiwel nie ’n faktor nie?!?!? Ten spyte daarvan dat Paulus in Efesiërs 6 sê: (12)Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. En dan roep hy ons op om die volle wapenrusting aan te trek vir hierdie stryd. Kyk ook Die bybel oor die duiwel/Satan.] Ons glo ook, soos ons sinode na ’n lang studie van die Bybel ons lei, dat die huwelik ’n totale verbintenis van een man en een vrou voor God is. As mense van dieselfde geslag hulle ook in trou voor die Here aan mekaar wil verbind, is ons bly dat hulle dit só wil hanteer. (Ons dominees is egter nie gelisensieer om sulke verbintenisse wettig te voltrek nie.)

[Kommentaar: Dus maak Kleinmondgemeente ruimte vir selfdegeslagverhoudings en beskou dit nie as sonde nie. ’n Mens wonder wat die doel sou wees om te sê dat die predikante van Kleinmond nie gelisensieer is om sulke verbintenisse te wettig nie. Dit is amper om te sê dat lidmate wel pornografie mag kyk, maar die kerk se boekwinkel sal dit nie verkoop nie.]

As ’n ou man het een van die grootste teoloë van die vorige eeu, Karl Barth, in antwoord op die vraag van ’n onderhoudvoerder oor wat vir hom die belangrikste bydrae is wat die teologie tot sy lewe gemaak het, geantwoord: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.” Jesus min my, salig lot … Ons kan dit met baie liedere aanvul! Ek dink nou maar aan “God is liefde, juig ons harte, en bedink wat liefde doen …”

[Kommentaar: Dus, by Kleinmond word slegs gefokus op hierdie een karaktereienskap van God: liefde. Wat sê Kleinmond van Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade?]

Kom ons ondersteun mekaar liefdevol om ons roeping hier in Kleinmond se omgewing uit te leef! Kom ons bou ons goeie onderlinge verhoudings met álle gelowiges verder uit.

Groete en sterkte vir die volgende deel van die jaar wat voorlê.

Jannie Hougaard

namens die Dagbestuur van die kerkraad (Kleinmond).

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui