Moderamen van Namibië distansieer hulle van Die Strand en die Sola Scriptura-groep

Die moderamen[1] van die Sinode van Namibië het hulle gedistansieer van Die Strand se verklaring en in effek ook gedistansieer van die Sola Scriptura-groep. Dit volg na ’n skrywe in dié sinode se weeklikse nuusblad op 13 Augustus 2021 deur die skriba, Thijs van der Merwe.

Hier volg die gedeelte uit die weeklikse nuusblad met kommentaar tussenin:

********

Johannes Maritz by Sola Scriptura byeenkoms vandag

Deur Thijs van der Merwe

13 Augustus 2021

Die Republikein het Dinsdag berig dat die Sola Scriptura groep vandag te Okahandja sou vergader en praat oor dolering. Daar is wyd daaroor bespiegel – veral omdat die groep as ’n drukgroep beskryf word in die berig, wat vir afskeiding van die Algemene sinode agiteer. Daarin is ook instemming met Strand gemeente in die Wes Kaapse sinode geïmpliseer.

Dit volg nadat die Moderamen [van Namibië] wat bestaan uit ringsverteenwoordigers en die dagbestuur of moderatuur verlede Dinsdag Die Strand gemeente se bewerings afgewys het. Hieroor is verlede week berig in Die Feldmuis.

[Kommentaar: In die vorige week se kommunikasie is Nelis se video gekommunikeer.]

Die moderatuur het Dinsdagaand per Zoom virtueel vergader en besluit dat die moderator in gesprek moet tree met die organiseerders van die byeenkoms, en indien moontlik, dit bywoon.

Die leiers was verwelkomend en het Johannes (Maritz) genooi om die byeenkoms by te woon. Ten tye van die skrywe was geen uitkomste nog gekommunikeer nie.

[Kommentaar: Dit is baie duidelik dat die moderamen van Namibië hulle van die Sola Scriptura groep distansieer: Eerstens word daar na die Sola Scriptura-groep verwys as ’n drukgroep en tweedens word daar genoem dat die Sola Scriptura-groep hulle skaar by Die Strand se verklaring, terwyl die moderamen hulle gedistansieer het daarvan.]

Antwoord op dolering Strand gemeente

Die Moderamen het tydens die vergadering van Dinsdag verlede week kennis geneem dat ‘n koerantberig in Die Burger wyd versprei is in Namibië, onder lidmate en deur ampsdraers.

Die inhoud daarvan is bespreek en die moderamen het bevestig dat al die bewerings in die stuk – hulle het nie toegang tot die oorspronklike skrywe gehad nie – mistastings is. Geen een daarvan kan teruggevind word in die besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is nie.

[Kommentaar: Hier word waarskynlik verwys na Bernhard Ficker se brief “Geluk aan NGK in Strand oor dolering besluit” (16 Jul 2021). Dit ís so dat al sewe punte nie amptelike besluite van die Algemene Sinode is nie, MAAR: Ten minste punt 2 en punt 5 ís baie duidelik amptelike besluite van die AS. Verder is dit irrelevant of dit amptelike besluite is of nie. Die feit bly staan dat indien die NG Kerk nie optree teen diegene wat afwyk van die kerk se belydenis nie, dan het die kerk in effek die belydenis nie-amptelik verwerp.]

Die sake waaroor daar gepraat word en dan gesê word waarteen gedoleer word, is almal ook weerlê in die antwoord wat die betrokke ring aan die gemeente gestuur het en wat ook reeds versprei geraak het.

[Kommentaar: Die antwoord waarna hier verwys word is die brief van Christo Benadé wat HIER gelees kan word. Daar is ook ’n baie meer amptelike reaksie Reaksie van die Ringskommissie Somerset-Wes op 7 punte van beswaar van die NG Gemeente die Strand. Hierdie reaksies is egter baie ver daarvan om hierdie sake “te weerlê”. Kyk na die kommentare in hierdie skrywes.]

Die moderatuur het afgelope Dinsdag vergader en onder andere die antwoord ter tafel gehad en besluit om dit beskikbaar te stel. Die moderamen se standpunt kom ooreen met die inhoud van hierdie stuk opgestel en beskikbaar gestel op versoek deur die Ring van Somerset-Wes.

Voetnotas

[1] Op 14 Augustus 2021 het die moderamen van die sinode van Namibië uit die volgende mense bestaan (volgens hulle webblad):

Die Moderamen hanteer sake tot volgende Sinode en vergader 4 keer per jaar.

Bestaan uit volle Moderatuur plus 2 verteenwoordigers uit elke ring.

Ringsverteenwoordigers

  • Ooste Ring: Ds H Koekemoer, Hendrik; Ouderling K van Wyk, Kobus
  • Suide Ring: Ds AP Coetzee, Dries; Ouderling R Theron, Ronell
  • Noorde Ring: Ds DJ de Vos, Dirk; Ouderling C Bedeker, Chris
  • Erongo Ring: Ds PG Poggenpoel, Peet; Ouderling H de Smith, Rico
  • Adviserende Lid: Diensgroep Administrasie: Vakant
  • Adviserende Lid: Kuratorium en Teologiese opleiding: JJdW Strauss, De Wet

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui