Is daar dan net 2 strominge in die NG Kerk?

Braam Hanekom het die volgende geskryf in reaksie op Daar is tans twee strominge in NG Kerk (15 Aug 2021).

Hy probeer baie duidelik die gesprek weglei van ’n uiters belangrike onderwerp.

************

Is daar dan net 2 strominge in die NG Kerk? | Kerkbode

Deur Braam Hanekom

15 Augustus 2021

In Sondag (15 Augustus) se Rapport verskyn daar twee briewe wat die narratief verder aanwakker dat daar eintlik net 2 strominge in die NG Kerk is. Dit kan die indruk skep dat die NGK eintlik net uit hierdie twee kampe bestaan en tans in ’n stryd gewikkel is oor reg en verkeerd, die siel van die kerk en die hart van ons geloof.

Dat die gesprek aan die gang is kan niemand ignoreer of betwyfel nie. Vir my is die NGK egter veel veel groter.

Ek is bewus van duisende gelowiges wie se geloof ten diepste gedefinieer word in ’n eenvoudige, noem dit ’n kinderlike liefde vir God, Jesus Christus en die Heilige Gees.

Dit is egter ook ’n geloof wat hulle laat wakker lê, nie oor die gevegte in die kerk nie, maar veral oor die ontsaglike nood buite die kerk.

Dit is ’n stroom lidmate wat God se aangesig en wysheid, nie in die eerste plek oor sinodebesluite soek nie, maar oor wat om te doen in ’n tyd soos hierdie (Hand 2)

Hulle verstaan dat ons uitdagings veel groter is as ons eie raad en wysheid en antwoorde en soek daarom op ’n stil manier na dieper antwoorde. Soms so konkreet soos oor sake soos behuising, werwerklooosheid, armoede, onversoendheid, geweld en veel meer.

Hulle bid saam daaroor en dink daaroor. Hulle verstaan dat hulle nie die land kan verander nie, maar wel êrens in hul plaaslike gemeente en gemeenskap ’n verskil kan maak en hulle doen dit.

Hulle reik nie verklarings hieroor uit nie en skryf nie lang briewe in koerante hieroor nie. Hulle het dikwels nie tyd of lus daarvoor nie, want hulle het die nood in hul medeskepsels en landgenote se oë gesien en is diep geraak.

Miskien moet ons oor hierdie strome in die NGK ook dink…

Die NGK se publieke aansien, (noem dit maar “branding”) is diep in die moeilikheid. Daar is redes voor, maar dit kan ook verander word.

Intussen is dit nie waaroor dit vir hierdie ander gelowiges in die NGK gaan nie. Wel oor ’n Koninkryksvisie en roeping wat nou en elke dag geleef moet word.

  • Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis in die Wes-Kaapse sinode. Die skrywe is oorspronklik op sy facebook-blad gedeel. Dit word met sy toestemming hier geherpubliseer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui