Sterkte aan gemeentelede wat hul gevoel wys

Bernhard Ficker se brief is geskryf na aanleiding van die verklaring van ongeveer 80 lidmate van NG gemeente Helderberg wat doleer het (kyk onder).

******

Sterkte aan gemeentelede wat hul gevoel wys | Distrikspos

18 November 2021

Sterkte aan al die Helderberg NG kerk-gemeentelede wat besluit het om te doleer, dit wil sê om in ’n staat van rou en hartseer te gaan oor die dwaalleer wat die Algemene Sinode (AS) aanvaar het.

Dit is ’n brawe stap wat hulle neem – ten spyte daarvan dat hul kerkraad self nog in ’n staat van vasgelooptheid is en nie herwaarts of derwaarts weet aangaande die nuwe dwaalleer in die NG kerk soos deur die AS daargestel is nie.

In ’n skrywe wat aan die skriba aan die AS, die skriba van die Sinode van Wes-Kaapland, die skriba van die Ring van Somerset-Wes en die voorsitter van hul kerkraad gerig is, wys die Helderberg se dolerende lidmate daarop dat die AS-besluit van 2019 oor selfdegeslagverhoudinge direk in stryd is met wat die Woord van God ons daaroor leer. Hulle het hierdie besluit van die AS in geheel verwerp en ‘n amptelike geskil met die AS oor bogenoemde besluite in die lig van God se Woord verklaar.

Hulle versoek verder dat die AS-moderamen in die lig van die erns van die saak dringend ’n AS-vergadering byeenroep waar die geskil besleg kan word. Hulle stel nie belang in taakspanne of kommissies se besoeke nie, want hulle het geen mandaat om die AS se besluite te wysig nie.

Indiwidue en gemeentes, soos ook die nabygeleë Strand Moedergemeente, wat opstaan vir die waarheid en teenstand teen die huidige vlaag dwaalleer in die NG kerk, moet bemoedig en ondersteun word.

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

Verklaring

Helderberg Groep +70 [Dolerend]
Somerset Wes
Tel. 082 264 9710
Gerrievn@gmail.com
20 Oktober 2020

Skriba van die Algemene Sinode van die NG Kerk — Dr. Gustav Claassen
Skriba van Sinode van Wes Kaapland — Francois Herselman
Skriba van die Ring van Somerset Wes — Andre Westraat
Voorsitter Kerkraad van NG Kerk Helderberg — Aneleh Fourie-Le Roux

Geagte broeders en susters,

Kennisgewing insake Dolering

Die afgelope paar maande het verskeie lidmate van Helderberg Gemeente hulle kommer met mekaar begin deel oor wat tans binne die NG kerk gebeur met spesifieke verwysing na die Algemene Sinode [AS] se 2019 besluit oor selfdegeslagverhoudinge . Lidmate is ook diep besorgd oor die rigting wat Helderberg Gemeente oor die afgelope jare begin inslaan het wat betref lering en Skrifgesag. Sedert 17 September 2020 het meer as 70 lidmate hulle name gevoeg by die lys van lidmate en oud lidmate wat bevestig dat hulle die gesag van die Skrif aanvaar asook die outoriteit van Jesus se woorde oor die huwelik [Mat 19:4-5]. Hierdie lys van besorgde lidmate groei steeds. Vir praktiese doeleindes en tydens die skrywe word daar na hulle as “Helderberg Groep +70 [Dolerend]” verwys.”

* Al ons lidmate het by hul openbare geloofsbelydenis belowe dat ons die Bybel as Woord van God aanvaar en dat ons daarin sal volhard tot die einde van ons lewe en “alle leringe wat daarvan afwyk sal verwerp”;

  • Kerkraadslede (ouderlinge, diakens en leraars) het by bevestiging in die amp hierdie belofte weereens herhaal;
  • Ons bely ook almal in die Nederlandse Geloofsbelydenis Art 7 “ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie..
  • Die Kerkraad van NG Kerk Helderberg het ‘n taakspan (die tweede in die afgelope 3 jaar) aangestel om die voorgestelde beleid van die eerste taakspan rondom selfdegeslagverhoudings te heroorweeg en kon tot datum nog nie hulle weg oop sien om ‘n besluit te neem oor die besluit van die AS nie;
  • Helderberg Groep 70 is oortuig dat die Algemene Sinode 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudinge direk in stryd is met dit wat die Woord van God ons daaroor leer.

In die lig van bogenoemde het Helderberg Groep +70 besluit om te doleer en

  • om al die AS besluite van 2019 oor selfdegeslagverhoudinge in geheel te verwerp;
  • om amptelik ’n geskil met die Algemene Sinode te verklaar oor bogenoemde besluite in die lig van God se Woord;
  • om intussen as lidmate van die NG Kerk Helderberg gemeente oor te gaan tot ’n staat van dolering waardeur ons saam met baie ander behoudende lidmate en kerkvergaderings treur oor die afvalligheid van die Algemene Sinode;
  • om die ASM te versoek om in die lig van die erns van die saak dringend ‘n Algemene Sinodale vergadering byeen te roep waar die geskil besleg kan word;
  • Aangesien ons geskil met die Algemene Sinode is, is dit na ons beskeie mening die enigste kerkvergadering wat die saak weer kan regstel. Daarom stel ons nie belang in taakspanne of kommissies se besoeke nie, want hulle het geen mandaat om die Algemene Sinode se besluite te wysig nie;
  • Die praktiese implikasies sowel as die graad en tyd van ons doleansie sal bepaal word deur die reaksie van die ASM en Algemene Sinode op ons versoek vir ’n buitengewone vergadering waar die saak indringend bespreek kan word.

Namens Helderberg Groep +70 [Dolerend]

Geteken:

Gerrie van Niekerk | Pierre Malan | Paul Kilian | Ben Krog

Kommentaar

Kairos Netwerk het intussen amptelik aan die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) gevra vir ’n spesiale sinode maar dit is nie toegestaan nie. Kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui