Persverklaring: Ring van Standerton

Al die gemeentes in die Ring van Standerton het eenparig die volgende amptelike persverklaring uitgereik na ’n ringsvergadering op 15 Augustus 2021. Al die gemeentes in hierdie ring doleer, behalwe Bethal-Oos gemeente (Ds. Evert Bergh) en Standerton Moeder gemeente (Ds. Wihahn de Beer).

Die enigste Ring in die NG Kerk waar meer gemeentes doleer, is die Ring van Heilbron wat bestaan uit die volgende gemeentes (slegs Oranjeville doleer nie):

  • Heilbron (dolerend)
  • Heilbron-Suid (dolerend)
  • Koppies (dolerend)
  • Koppies-Weltevrede (dolerend)
  • Oranjeville
  • Petrus Steyn (dolerend)
  • Reitz (dolerend)
  • Reitz-Wes (dolerend)

Hier volg die persverklaring:

*********

Hierdie persverklaring gaan aan:

  • Hoëveld Sinode
  • Algemene Sinode (Moderamen)
  • Kerkbode
  • Glo die Bybel – nuusbrief

Persverklaring: van die Ring van Standerton

Op ’n Ringsvergadering van 15 Augustus 2021 het die Ring van Standerton die volgende besluit eenparig geneem:

Die Gemeentes teenwoordig tydens die Ringsitting van Standerton:

  • Bethal Moedergemeente (Ds. Jurie Blom)
  • Bethal-Oos gemeente (Ds. Evert Bergh)
  • Charl Cilliers gemeente (Dr. Bennie Marais)
  • Standerton Moeder gemeente (Ds. Wihahn de Beer)
  • Standerton-Wes gemeente (Ds. Henk Boshoff)
  • Standerton-Suid gemeente (Ds. Pieter Kotze)

1. Die Ring van Standerton besluit :

1.1 Ons verklaar onomwonde en voor die Here dat ons ons steeds verbind tot die vyf solas van die Hervorming:

  • Sola Scriptura – die Skrif alleen.
  • Sola gratia – genade alleen.
  • Sola fide – geloof alleen.
  • Sola Christus – Christus alleen.
  • Soli Deo gloria – aan God alleen die eer.

1.2  Ons glo dat die Here Sy kerk geroep het om in hierdie donker wêreld “die draer en beskermer van die waarheid” te wees. (1 Timoteus 3:15)

1.3 Ons aanvaar die volledige Bybel as die heilige onfeilbare Woord van God.

1.4 Ons aanvaar die Drie Formuliere van Eenheid naamlik: die Nederlandse Geloofsbelydenis die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

1.5 Al die leraars van die Ring van Standerton staan, as behoudende leraars, by die Legitimasie Eed wat hulle voor die Here belowe het toe hulle georden is.

1.6 Ons verwerp ten sterkste al die dwalinge wat die NG Kerk binnedring as gevolg van ‘n vrysinnige hantering van die Bybel en van ons belydenisskrifte. ‘n Spesifieke voorbeeld van so ‘n dwaling is om ons gereformeerde identiteit te verruil vir die gedagte van ’n ruim huis waar teologiese diversiteit die wagwoord geword het in die kerk. Die Ring verwerp alles wat in stryd is met die suiwer waarheid. Hierdie tragiese resultaat van die diversiteits-teologie het daartoe gelei dat diversiteite-teologie  ingedra word in ons teologiese fakulteite met die noodwendige verkeerde beïnvloeding van voornemende predikante van die NG Kerk.

1.7 Ons sien in geloof ’n herstelde kerk wat weer Geesvervuld en onbevrees die suiwer Evangelie verkondig om dissipels te maak van alle nasies.

1.8 Ons moedig ander behoudende Ringe aan om saam met ons in eenheid, waarheid en liefde die pad van reformasie binne die NG Kerk te loop.

1.9 Ons as behoudende Ring van Standerton wil graag versoek dat die Kairos Netwerk ons sal ondersteun op die pad van reformasie.

(Geteken)

Ds. P J Kotze
Voorsitter van die Ringskommissie
19 Augustus 2021

1 thought on “Persverklaring: Ring van Standerton”

  1. Dit is só hartseer: die verdeeldheid, nie net in die NG Kerk, nie net in die reformatoriese kerke nie, maar in die hele Christenheid.
    Ons kan net bid dat die Heilige Gees ons lei in die Waarheid én in die Eenheid om eendragtig HOM ALLEEN te dien en te eer, terwille van Sy heilige naam

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui