Sinode-pleidooi: Hou tog by Skrif

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Sinode-pleidooi: Hou tog by Skrif | Netwerk24

Johan Janse van Rensburg

16 September 2023

Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:

Geagte algemene sinode

U is geroep om tydens die eerskomende vergadering oor belangrike sake biddend te besin en die Here se wil te soek. Klaarblyklik is daar weer, soos tydens vorige vergaderings, kontroversiële sake op die agenda.

Volgens art. 1 van die Kerkorde is die NG Kerk in die onfeilbare Woord van God en die Gereformeerde Belydenisskrifte gefundeer. In die verlede is talle besluite wat teenstrydig met die Skrif en die belydenis is, geneem.

Dit is duidelik dat sulke besluite nie aan die grondslag van art. 1 van die Kerkorde gehoor gegee het nie.

U sal bewus wees daarvan dat die Belydenisskrifte ons voorgaan in ‘n bepaalde Gereformeerde Skrifinterpretasie. Besluite wat met Skriftekste strydig is, kan daarom nie met die motivering van ’n nuwe Skrifverstaan geregverdig word nie.

Dolerende gemeentes is nie met kerkskeuring besig, soos so dikwels en te gemaklik beweer word nie. Die aandrang is eenvoudig dat die algemene sinode, wat nie die kerk is nie maar slegs ‘n vergadering van sinodes, getrou bly aan art. 1 van die Kerkorde.

Gaan ons weer ná die vergadering ontsteltenis hê oor nóg besluite wat met die Skrif teenstrydig is, soos so dikwels in die verlede?

Mag die Here ons daarvan behoed!

Artikel 1 van die kerkorde (2019)

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Kommentaar

Daniel Louw

In kort vra prof Johan Janse van Rensburg vir die volgende: Die algemene sinode van die NG Kerk het al soveel kontroversiële besluite geneem (kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite). Moet asb nie nog kontroversiële besluite neem nie.

‘n Mens het natuurlik baie waardering vir wat prof Janse van Rensburg alles al vir die behoudendes se saak gedoen het, maar ‘n mens wonder of hierdie pleitdooi sinvol is.

As die vorige on-Bybelse besluite nie omgedraai kan word tydens die algemene sinode in Oktober nie, dan raak hierdie besluite vasgesement in die NG Kerk en sal dit net nog moeiliker wees om daarvan ontslae te raak.

Dit is absoluut waar dat dolerende gemeentes nie met kerkskeuring besig is nie. Die liberales in die NG Kerk het die skeuring veroorsaak. Maar behoudendes sal vir hulleself moet afvra hoe lank hulle nog deel wil wees van so ‘n denominasie? Is dit nie tyd om te maak soos Tafelberg gemeente en Leeuwberg nie?

1 thought on “Sinode-pleidooi: Hou tog by Skrif”

  1. Na dekades van worsteling oor wat van die Bybel nou waar is en wat nie, veral teen die lig van soveel verskillende vertalings en interpretasies en denominasies, het ek wel tot dié oortuiging gekom, amper op ‘n wyse soos Lee Ströbel, dat die Bybel gebeure en inhoud waarlik waar en betroubaar is, want die historiese getuienis daarvan was (en is) oorweldigend bevestigend sou mens sinvol en logies en ondersoekend na eksterne historiese getuienis kyk en luister. Dit vereis natuurlik ‘n intense in-diepte ondersoek en navorsing, want oppervkakkige navorsing gaan net 1 resultaat lewer: jou eie 🧠 bevestig die Bybel is onwaar, en God is onbetroubaar. Wat natuurlik is wat Satan wíl hê. Ook dít het ek geleer: vra na God om jou te help, al glo jy nie ( of nie meer) in Hom nie, en dóen dan die ondersoek deeglik en omvattend en diep, al is die prys baie hoog.

    Hebreërs 4:12-13 – het ek ontdek- word dikwels soos ‘n moordwapen gebruik deur die tong of ✍, en menige leraars en teoloë en kerkrade en gemeentelede in kerkruimtes en VERAL in die sekulêre werkruimtes, met verskillende uitgangspunte vanuit verskillende denominasies, het al geweldige skade aangerig deur hul misbruik van die Bybel, maar ook andersyds, ook die ongebruik van die Skrif deur meesste.

    Die TV en Hollywood rolprente en Sport en Radio en Sosiale Platvorme, is meestal maar die mense se “bybel ruimtes” waar dié se woordbeelde en klank gróter inslag vind, as dié vanuit die Skrif. Selfs akademie of ‘n tipe van werkverslaafdheid, of ‘n ongekende obsessie met sukses of welvaart of om elke “challenge” te wen, het die suurstof geword waarmee die mens hom of haar in die lewensruimtes aan die lewe hou.

    Die ontnugtering was geweldig groot om te ontdek, dat die Bybel meestal soos die “Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, 5th Edition: DSM-5-TR” van die ” American Psychiatric Association” gebruik word. Die DSM-5 -TR verskaf die beskrywende teks vir elke DSM-versteuring ter inligting tot praktiserende klinici en navorsers. 

    Die Skrif word deur baie “christene” gebruik as ‘n “diagnostiese entiteiteit” om kriteria te identifiseer om die gehoor of leser se aard van “geestesversteuring” te “diagnoseer” en dan te behandel. En die Gees moet maar dan sáám hul woorde en handelinge “beweeg”….. Soos ‘n towerstaffie.

    Die opdaterings van die diagnostiese kriteria en teks in DSM-5-TR het gelei tot selfs núwe “geestesversteurings”, bv. “langdurige hartseerversteuring”, “ongespesifiseerde gemoedsversteuring” , “stimulant-geïnduseerde ligte neurokognitiewe versteuring”, ens.

    Dit herinner my aan 2010 tydens ‘n besoek aan Israel, waar ek diep ondergronds die Tempelruimte gestaan het in die tonnels, en gedagtes wat tot my 🧠 gekom het, juis oor God se woorde.

    My persoonlik soektog na wat “Woord van God” nou waarlik beteken, het my gelei tot dié gevolgtrekking:
    1. OU EN NUWE APOSTELKERK in Suid-Afrika se manier van dink, is dodelik.
    2. Die NG Kerk se liberalisme is dodelik.
    3. ARCELORMITTAL se Mittal Aandeelhouers en van hul bestuur in Luxembourg, Londen, VSA, Kanada, Suid Amerika, Suid Afrika en ander Europese lande se manier van dink, is dodelik.

    Al 3 bovermelde “ruimtes” het my seker al (vermoed ek) “skuldig” bevind aan baie “geestesversteurings” na aaleiding van die “DSM-5 TR” handleiding en dié se manier van dink, oor baie jare. Nes die ANC en EFF ook.

    Maar ek het nuus vir hulle. SATAN het ook só gemeen met Joshua in Sagaria: “DAARNA het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die Here staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie? ” -“SAGARÍA 3:1‭-‬2.

    Die Bloed van Christus Getuig uit die Hemel teen hulle.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui