NG Kerk se prioriteit is missionaal

Kyk ook:

Die artikel Dade getuig die luidste (Kyk bylaag A hieronder) deur Neels Jackson het op 31 Desember 2014 in Beeld verskyn. Daarin word gewys watter bydra die NG Kerk in 2014 tot mense se fisiese nood bygedra het.

Aan die een kant wil hierdie ’n mens baie bemoedig en wil dit ’n mens trots maak dat ’n mens deel is van die NG Kerk.

Daar is egter twee “maars”:

Eerstens word al hierdie positiewe dinge waaroor geskryf word versuur deur die feit dat die NG Kerk blykbaar apaties/besluiteloos staan teenoor die waarheid van belangrike kwessies in die kerk. Die volgende is voorbeelde daarvan:

  • Tydens die algemene sinode van 2011 het die NG Kerk amptelik ruimte gemaak aan mense wat nie in die duiwel as persoon wil glo nie (kyk 2011 NGK besluit oor die duiwel).
  • Tydens die algemene sinode van 2013 wat daar nie minder nie as 10 beswaarskrifte ingedien oor hierdie kwessie, maar dit was nie genoeg om hierdie besluit te herroep nie (kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013).
  • Die NG Kerk sukkel al vir jare om sterk standpunt in te neem oor homoseksualiteit (kyk NG Sinode: Verslag oor homoseksualiteit 2007). Alhoewel ’n mens moontlik kan redeneer dat die NG Kerk wel ’n standpunt ingeneem het oor homoseksualiteit, is dit baie duidelik dat sommige prominente leiers in die NG Kerk meer liberaal oor hierdie kwessie dink.
  • Wat vir homoseksualiteit geld, geld ook vir die kwessie van saamwoon (kyk NG Kerk kan saamwoon dalk toelaat).
  • ’n Mens het vertroue in baie van die leiers van die NG Kerk verloor wat openlike dwaalleringe aanhang of hulleself geensins uitspreek teen ander wat dwaal nie:
  • Ben du Toit, hoof van kommunikasie van die NG Kerk, is deur Wynand Louw aangekla omdat hy nie aan die bestaan van die duiwel glo nie, maar hy het losgekom agv die besluit van die algemene sinode in 2011. Kyk ook Korrespondensie met Dr. Ben du Toit. Hy en Kobus Gerber het as parlementêre verteenwoordigers van die NG Kerk ook die Suid-Afrikaanse parlement aangemoedig om homoseksuele huwelike te wettig.
  • Nelus Niemandt, die moderator van die NG Kerk, spreek homself glad nie duidelik uit oor kwessies soos Jesus se opstanding, homoseksualiteit, saamwoon en die duiwel as persoon nie. Wynand Louw het aan hom ’n paar eenvoudige vrae gevra waarop hy homself redelik aggressief in die openbaar probeer verdedig het. Hy het egter nie baie van die vrae geantwoord nie. Kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens”.
  • Kyk ook na die skakels in die “Kyk ook” blokkie hierbo.

’n Predikant (hy is oor die algemeen behoudend, maar hy het nog nooit sy mening uitgespreek oor die dwaling wat in die NG Kerk plaasvind nie) het Neels Jackson se artikel op sy Facebookmuur gedeel waarop Jaco de Beer die volgende geskryf het:

“Die kruis het twee arms. Vertikaal na die Vader en horisontaal na die wêreld. Jesus het Sy arms en bene regoor beide gespan en dit verenig in ’n eenheid deur vasgespyker te word regoor beide. Verwyder jy die vertikale arm, skeur jy Jesus in twee, is die kruis verbreek en word die Vader nie verheerlik nie. Verwyder jy die horisontale arm, is jou geloof dood en kan nie red nie. En weereens skeur jy Jesus in twee en verdeel die kruis. In beide gevalle word die kruis waardeloos gemaak. Jesus het gesê jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, wil, verstand en siel en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hierin is die hele wet en profete saamgebind (nie die een sonder die ander nie).

Die vraag is nou: floreer ons slegs in een area? Indien wel, word die kruis verbreek en waardeloos gemaak. Dit getuig van ’n valse evangelie.

Wat is die vertikale arm. Dis die 5 Solas. Dis die gesonde leer en belydenis van die kerk. Dis om God te verheerlik deur Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fide en Solus Christus tot Soli Deo Gloria te doen. Buite dit word God nie verheerlik nie en word die kruis verbreek.

Wat is die horisontale arm? Dis liefde vir alle mense wat vloei uit die kruis van Jesus. Dis liefde vir alle mense wat Skrif gebaseer is. Dis liefde vir alle mense deur hul na die waarheid en evangelie te lei. Dis liefde vir alle mense wat oorgaan in dade. Dis ware geloof wat gewys word deur dade. Geloof wat nie vrug dra van dade nie is dood en kan nie red nie. Dis liefde vir alle mense deur eerste hulle te vertel van die kruis en opstanding van Jesus sodat hulle van hul sonde waarin hulle vasgevang is gered kan word. Wat help dit jy gee kos en sorg, maar die siel brand in die hel. Vrees die een eerste wat die liggaam en die siel in die hel kan gooi. Dan tel jy die gewondes langs die pad op soos die barmhartige samaritaan gedoen het. Liefde vir God dryf liefde vir mense, nie anders om nie. Ons word eerstens gedryf deur die liefde van Christus vir hul verlore siele wat gedemonstreer was aan die kruis en dan gee ons hul kos en sorg emosioneel vir hulle.

Wat help dit ons presteer op horisontale vlak maar die gesonde leer word versaak? Dit getuig van ’n gebroke kruis en ’n evangelie wat nie kan red nie. Dit getuig van ’n liefde vir God wat nie Gees gebore en gedryf is nie. Die ware liefde wat die Gees werk is lief vir die waarheid bo alles en dan sekondêr vir mense. God is eerste lief vir Sy Seun en dan vir mense.

Vergun my nou om ’n paar reguit vrae te vra: Waarom doen die NG kerk nie iets aan mense soos Ben du Toit en Julian Müller (en baie ander lidmate en predikers) wat ’n leer verkondig wat skreeu teen die gesonde leer van die evangelie nie. Waarom sou die NG kerk oorweeg om homoseksualiteit as nie-sonde te wil verklaar? Waarom sou die NG kerk die satan wil ontken? Waarom sou die NG kerk saambly as nie buite-egtelik wil beskou? Waarom lyk dit of die NG kerk floreer op die horisontale vlak, maar faal op die vertikale vlak (gesonde leer)? Die kruis is ’n eenheid. Verbreek jy die kruis is daar geen evangelie nie.”

Hierdie predikant het nie hierop kommentaar gelewer nie.

Tweedens word gesê dat die algemene sinode gesê het dat die NG Kerk ’n missionale kerk wil wees. Die vraag is of dit teenoor ’n missionêre kerk staan? Wat is die verskil?

  • Missionale kerk: fokus daarop om ’n maatskaplike verskil in gemeenskappe te maak, bv die versorging van hongeres, siekes, armes, die omgewing, ens.
  • Missionêre kerk: fokus op die verspreiding van die evangelie volgens die Groot Opdrag in Matteus 28:19 : “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”

Dit kom egter nie noodwendig as ’n groot verrassing nie. Kyk bv wat Danie Mouton sê in Kerkbode sê nee vir Woordfees en Nelus Niemandt in 10 vrae aan Nelus Niemandt. Sendingwerk is duidelik nie hoog op die algemene sinode van die NG Kerk se agenda nie.

Bylaag A

Dade getuig die luidste

http://www.netwerk24.com/stemme/2014-12-30-dade-getuig-die-luidste

Deur Neels Jackson Dinsdag 30 Desember 2014 4:00 vm.

Die NG Kerk is besig om ’n gedaantewisseling te ondergaan. Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, vertel.

Foto: Doks Human van die NG gemeente Constantiakruin aan die Wes-Rand gesels met Asimthande Masango van die Sunrise-dagsorgsentrum in Soul City oor haar ore. Die gemeente het gehelp om die kleuterskool op die been te bring en onderhou dit. Foto: Neels jackson

In Oktober verlede jaar het die algemene sinode gesê die NG Kerk wil ’n missionale kerk wees. Daarmee het die kerk gesê hy wil hê dat sy gemeentes en lidmate nie net die geloof met die mond bely nie. Hulle moet met dade van liefde en genade getuig.

Dit is die soort besluit wat maklik in dik kerklike dokumente op stowwerige rakke sou kon beland, maar dit het nie. Dit het deel geword van ’n golf van verandering wat besig is om deur die kerklike kultuur te spoel.

As ’n mens bloot na die NG Kerk se maatskaplike dienste kyk, dan is daar in die boekjaar tot Februarie 2014 altesame R1,035 miljard (waarvan sowat 40% van staatsubsidies kom) bestee aan dienste aan 1 472 684 mense – van wie na raming slegs tussen 10% en 20% lidmate van die NG Kerk is. Die meeste ontvangers van hulp is swart.

Maatskaplike werkers wys daarop dat dit nie net die direkte ontvangers van dienste is wat daaruit voordeel trek nie, maar ook die mense om hulle. Reken ’n mens dat daar gemiddeld drie sulke mense is per geval, dan het byna 6 miljoen mense in die vorige boekjaar baat gevind by die NG Kerk se maatskaplike dienste.

Die groot omwenteling vind egter in gemeentes plaas.

In Strydenburg en Hopetown, twee dorpe suid van Kimberley in die Noord-Kaap, is armoede ’n groot probleem. In dele van die gemeenskap lei dit tot groot sosiale verval. Daar word stories vertel van kinders wat in die laerskool aankom en nog nooit ’n boek of ’n pen vasgehou het nie. Hulle word groot sonder funksionele opvoeding en die skoolstelsel spoel oor hulle sonder dat die kinders enigsins baat vind daarby.

Met die steun van die Noord-Kaapse sinode het die plaaslike NG gemeentes begin met sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, kleuterskole waar kinders gevoed en opgevoed word, waar hulle agterstande uitgewis word en hulle gehelp word sodat hulle skoolgereed skool toe kan gaan.

Deur die kinders word die ouers bereik en uiteindelik is dit ’n projek met die potensiaal om ’n hele gemeenskap te verander.

Dis lank nie meer ’n geïsoleerde geval nie. Naby George in die Suid-Kaap het die gemeente Outeniqualand jare gelede al begin met ’n kleuterskool vir plaaswerkers se kinders – omdat iemand gesien het die kleuters sit bedags in die son langs die lande waar hul ouers werk en gesê het so kan dit nie aanhou nie.

Aan die Wes-Rand het die NG gemeente Constantiakruin ’n klompie jare gelede gehelp dat ’n kleuterskool in die plakkerbuurt Soul City tot stand kom. Danksy dié skool lê die toekoms vandag oop vir kinders wat andersins weinig vooruitsigte in die lewe sou gehad het.

Voedingsprojekte is daar baie. In Bothaville in die Vrystaat het die drie NG gemeentes in Augustus vanjaar 17 649 maaltye aan behoeftiges verskaf – 16 389 daarvan in die township Kgo­tsong. By Witrivier in die Laeveld het twee lidmate begin met ’n projek wat daagliks sowat 1 500 kinders in die arm swart gemeenskappe van die dorp kos gee.

Daar is merkwaardige verhale van grense wat oorgesteek word. In Yzerfontein aan die Kaapse Weskus het daar ’n paar jaar gelede op ’n Sondagoggend twee Malawiërs in die plaaslike NG kerk se Afrikaanse erediens ingestap. Iemand het by hulle gaan sit en vir hulle getolk.

Uiteindelik het ’n hele gemeenskappie van Malawiërs en Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika ’n heenkome kom soek het, in die NG Kerk ’n geestelike tuiste gevind. Vroeër vanjaar is klein Luke Phiri in Yzerfontein gedoop. Sy ouers was toe al langer as ’n jaar lidmate daar.

Veral in die middestede is die NG Kerk lankal nie meer wit nie. Torings van Hoop, die bediening in die historiese Tweetoringkerk in Bloemfontein, het na aanleiding van Kolossense 3:11 die leuse: “Here there are no Afrikaners or Sothos, rich or poor, black or white, homeless or home-owners. But here Christ is all and in all.”

The Meeting Place is ’n koffie-en-geskenkwinkel by die NG kerk in Arcadia, Pretoria, wat volgens die Zimbabwiese immigrant Wellington Muzengeza sy lewe verander het.

Hy skryf in sy blog op socialjusticeimmigrant.blogspot.com dat dit ’n plek is waar mense uit verskillende agtergronde kan ontmoet en vertel dat dit vir hom regtig wonderlik is om te sien dat ’n kerk wat vroeër so ’n sterk voorstander van apartheid was, so kon aanpas.

Uit Overkruin in Pretoria en uit George in die Suid-Kaap kom daar verhale van werknemers van gemeentes vir wie daar huise gebou is omdat mense sensitief geraak het vir die nood om hulle.

Daar is merkwaardige verhale oor individue, soos dié van Nobunto Motholeni, ’n Xhosa-vrou met ’n veelbewoë lewe wat onder meer by NG teoloë opleiding gekry het en nou in die diens van die NG gemeente Helderberg in ’n bruin gemeenskap op die Kaapse vlakte mense deur hul traumas help.

Jacqueline Wites was ’n alkoholverslaafde boemelaar wat danksy die NG Kerk se Straatligbediening in Stellenbosch drank kon los en met ’n nuwe lewe kon begin. Begin vanjaar het sy haar hulp kom aanbied by Straatlig en nou is sy deel van die uitreikspan.

“ SELFS MET ONS GESKIEDENIS VAN STEUN VIR APARTHEID WAAROP ONS GLAD NIE TROTS IS NIE HET DIE HERE ONS NOOIT GELOS NIE. ”

In Durban en Alberton is daar verhale van NG moedergemeentes wie se tradisionele bedienings kleiner geword het, maar wat verbeeldingryke nuwe bedienings begin het wat nou mense bereik by wie die tradisionele bedienings nooit sou uitgekom het nie.

Met die groot mynstakings wat Rustenburg en omstreke vroeër vanjaar getref het, het miljoene rande en materiële bydraes van gemeentes van oor die land heen na die gemeentes in Rustenburg gestroom om ’n getraumatiseerde gemeenskap te help.

In Petrusburg, halfpad tussen Bloemfontein en Kimberley in die Vrystaat, het Lulu Hugo, ’n NG lidmaat, hande gevat met Dorah Lekgari van die township Bolokanang, en met steun van Hugo se gemeente ’n sentrum vir gestremdes in Bolakanang gestig. Van die mees gemarginaliseerde mense in ’n reeds gemarginaliseerde gemeenskap word nou elke dag daar versorg.

Daar is ’n nimmereindigende stroom dergelike stories uit gemeentes – verhale van ’n kerk waar dit ál minder om mag gaan en ál meer oor diens.

En daar is ’n doelbewuste poging om al hoe meer in daardie rigting te skuif. In die NG gemeente La Rochelle in Bellville word die Sondagskoolklasse uitgeneem in die gemeenskap om te gaan leer om praktiese diens te lewer. Een groep het pompjoggies by ’n vulstasie se skoene gaan poleer om vir hulle dankie te sê vir hul werk.

Die NG Kerk werk dikwels nie alleen nie, maar in ’n netwerk van vennootskappe waarin dit nie oor kerk of organisasie gaan nie, maar oor die liefde van God wat na die wêreld toe moet vloei.

Ons vertel dié stories nie om te spog met die NG Kerk nie, maar omdat ons self soms verstom staan oor wat die Here besig is om met en deur die NG Kerk te doen. Selfs met ons geskiedenis van steun vir apartheid, waarop ons glad nie trots is nie, het die Here ons nooit gelos nie.

Inteendeel. Soos met Moses en Dawid en Paulus wat donker kolle in hul geskiedenis gehad het, is die Here besig om die NG Kerk om te keer en op talle plekke op kleiner of groter maniere te gebruik om ons samelewing te help heel maak.

Kommentare op Netwerk24

Sara Clegg

Die NG Kerk was nog altyd deur die Genade van Bo ’n uitreik kerk in hierdie droewe land van ons. Hoeveel skole op plase het vooraan hulle naam die woord NG Kerk wat onder Apartheid gestig is. Studente van alle rasse is gehelp om hulle verder te bekwaam. (Dink selfs Boesak was een van hulle). Die NGK se leraars was ook verantwoordelik vir baie Bybelvertalings in inheemse tale van Suid-Afrika. Soos jy se dis die gewone lidmate wat hierdie weldade verrig en ware Kerk gewees het ten spyte van die Apartheid of Belharstokke waarmee hulle geslaan word. My gebed is ook dat die NG mense wat uitreik sal sien dat daar ook wit nood is en nie skaam sal wees om ook hierdie plakkerskampe te besoek en daar te help nie. Swaarkry ken nie kleur nie.

Jaco Steyn

Dit wil voorkom asof die NG Kerk nog steeds volstoom besig is met hul misleiding. Miskien moet NG lidmate probeer vasstel waarom hul kerk soveel fokus op hulpverskaffing aan Swartmense i.p.v. aan armblankes. Is die kerkleiding werklikwaar besorg oor die welsyn van Swartmense of kan dit wees dat hul hoofdoel is om deur hierdie optredes Blankes sover moontlik daarvan te weerhou om doeltreffend weerstand te bied teen die vergrype van die ANC? Deur Blankes se aandag te fokus op Swartmense se lyding word die sg. sondes van Apartheid en gepaardgaande Blanke skuldgevoelens oorbeklemtoon en word hulle sodoende verder ontmoedig om die ware oorsake van die land se probleme te adresseer – oorsake soos o.a. Blankes se jarelange gebruikmaking van “goedkoop” nie-blanke arbeid en internasionale geldbelange se oorweldigende invloed op korrupte leiers binne die ANC…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui