Persverklaring: Kairos Netwerk reageer op besluite deur Sinode van Namibië

Die Kairos Netwerk het in die volgende persverklaring gereageer op die ultimatum wat die Sinode van Namibië gestel het dat sou daar nie ’n vaste voorneme van die NG Kerk kom om die dwalende besluite om te draai by die volgende Algemene Sinode in 2023 nie, hulle hulself sou losmaak van die Algemene Sinode deur uitoefening van Artikel 37 (kyk Namibië se ultimatum aan die NG Kerk).

*******

Persverklaring: Besluite deur die Sinode van Namibië

22 Maart 2022

Kairos Netwerk (KN) beskou die besluite wat tydens die afgelope sitting van die Streeksinode van Namibië geneem is as besluite wat baie ernstige gevolge kan inhou, in ag genome dat dit slegs die Streeksinode van Namibië is wat hierdie besluite kan wysig.
Die persverklaring wat die Sinode van Namibië op 19 Maart uitgereik het, fokus op 3 punte:

  1. Die Algemene Sinode (AS) wat nie NG Kerk dien met behoorlike kerklike leierskap nie;
  2. Die on-Bybelse besluite oor selfdegeslagverhoudings; en
  3. Die swak hantering van teologiese opleiding by Universiteite.

Neem kennis dat bogenoemde 3 punte reeds tydens ‘n vergadering tussen KN en verteenwoordigers van die AS bespreek is, in Februarie 2021. Dit is weer in Oktober 2021 op skrif aan die ASM en verskeie Streeksinodes gestuur is, oa na die Hoëveld Sinode. Die AS het destyds KN se besorgdheid hieroor geïgnoreer en daarom is KN nie verbaas dat hulle nou die vrugte van hul apatiese houding pluk nie.

Natuurlik vind KN nie vreugde in hierdie verwikkelinge nie, want die NG Kerk speel ’n groot rol in baie Suid-Afrikaners se lewens. Dit is juis waarom KN doelbewus gekies om die pad van skeuring te vermy en eerder Reformasie van binne die kerk te bepleit. Dit word egter bemoeilik deur kwaadwillige pogings van die wat daarteen gekant is om met God se Woord as riglyn, en nie die behoeftes van mense nie, introspeksie te doen.

As gevolg van hierdie teenkanting, tesame met die feit dat die AS se bestuur gemeentes en gemeentelede se beswaarskrifte onder die mat invee, word KN met geen keuse gelaat as om na ander moontlikhede te kyk nie. Soos:

  1. Die stigting van ’n “familie” van besorgde NG gemeentes wat in die tweede helfte van 2022 ‘n aanvang sal neem;
  2. Om op grond van versoeke deur predikante van daardie sinode, die Sinode van Namibië by te staan met raad en daad tydens die implementering van Artikel 37;
  3. Om met besorgde groepe en gemeentes van ander denominasies vanuit die Gereformeerde familie in gesprek te tree oor moontlike samewerking. Hierdie gesprekke is nie net beperk tot denominasies in Suid-Afrika nie. KN is in gesprek met die Alliansie van Gereformeerde Kerke in Amerika wat deur ’n soortgelyke krises gegaan het en wat daartoe gelei het hulle en die Reformed Church in America se paaie geskei het.

KN sal voortgaan om met Streeksinodes en die Algemene Sinode se bestuur of verteenwoordigers oor hierdie belangrike sake te skakel alhoewel daar geen besluite deur hulle geneem kan word nie. Daarvoor word ‘n spesiale AS vergadering vereis.

KN het reeds ‘n geruime tyd gelede skriftelik aangevra vir so ‘n spesiale AS vergadering maar dit was geweier met die verskoning dat daar nie geld vir so ’n vergadering is nie, terwyl dit algemeen bekend is dat die NG Kerk meer as R100 miljoen beskikbaar het.

Ter afsluiting

Dit is baie duidelik dat daar ‘n groeiende ontevredenheid ontstaan oor die huidige leierskap van die NG Kerk.

Die Kerkgeskiedenis sal uiteindelik die beoordelaar wees oor hierdie termyn se leierskap aangesien daar nog nooit in die geskiedenis van die NG Kerk so ‘n graad van ontevredenheid was dat meer as 90 gemeentes, en nou ’n streeksinode ook, dit ernstig te oorweeg om uit te tree uit die verband van die AS.

KN bly egter bid vir die NG Kerk en haar leierskap. Dat God ons genadig sal wees, dat die leierskap hulself sal verootmoedig en tot die besef sal kom dat hul besluite onskriftuurlik is.

(Geteken)

Anton Knoetze

Namens Kairos Netwerk bestuur

3 thoughts on “Persverklaring: Kairos Netwerk reageer op besluite deur Sinode van Namibië”

  1. Goeiedag vriende in Christus Jesus ons Verlosser en Heer

    Dit is met skok en afgryse dat ek lees en hoor van hoe liberale en progressiewe professors en Universiteitsdekane die Woord van God omploeg en met leuns en valse leer besaai wat distels en onkruid oplewer en die protestants Christen landskap besoedel en ook God irrelevant maak.

    Maar dit is verblydend om te hoor dat NG predikante, kerkrade, gemeentes en individue, veral die in Namibië, sterk staan en sterk standpunt inneem vir die onvervalste Woord van God. Bly doen so voort!

    Ek wil verder sê dat die gemeentes moet fokus op die individuele professors, predikante, ouderlinge, diakens en lidmate wat dwaal. Tug die wat dwaal, nie die gemeente nie. Dit is Skriftuurlik om so te werk te gaan.

    Verder bid ek vir julle en ek vertrou dat God julle die krag sal gee om staande te bly en Woordkorrek te preek.

    Groete in Jesus Christus

    Jasper Coetzee
    4us3coetzee@gmail.com
    079 868 5476

    1. Jasper, jy sê: “…die gemeentes moet fokus op die individuele professors, predikante, ouderlinge, diakens en lidmate wat dwaal. Tug die wat dwaal, nie die gemeente nie.”

      Dit is nie duidelik wat jy bedoel nie. Ek is nie seker hoe ’n gemeente getug kan word nie. Jy is reg dat lidmate/kerkrade in gemeentes moet optree teen ander wat dwaal, veral as dit hulle eie predikant is. Die probleem is dat lidmate versuim om dit te doen. Daar is waarskynlik verskeie redes:

      * Dit is nie belangrik genoeg nie
      * Hulle vertrou hulle predikant
      * Hulle is onkundig en oningelig
      * Dit is te veel moeite
      * Hulle staan alleen in hulle stryd

      Verder is daar al baie in die verlede probeer om dwaalleraars te tug, maar die toesighoudende liggame dwaal ook en dan kom daar niks van die aanklag nie. Kyk Lys van leerdwaling aanklagtes.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui