NG Kerk Vrystaat: Meerderheid wil in gesprek bly met Algemene Sinode en ander streeksinodes

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk Vrystaat: Meerderheid wil in gesprek bly met Algemene Sinode en ander streeksinodes – Kerkbode

21 April 2023

Hoe lyk die proses agter die Vrystaatse meerderheidsbesluit vandeesmaand om nie uit verband met die Algemene Sinode van die NG Kerk te tree nie?

Indien jy tevrede is dat jy ’n reeks kernbesluite oor die implikasies van meningsverskil in die NG Kerk kon verwoord, hoe peil jy ’n groep van sowat 62 000 belydende lidmate?

Een wyse is verteenwoordiging en oop gesprek by ’n buitengewone sinodesitting soos die een wat op 18 April in Bloemfontein plaasgevind het. Om via ringsverband (daar is 15 ringe) asook met “oop gesprek”, tyd te maak om ’n spektrum van opinies te hoor.

En dan te stem.

In hierdie geval is ses opsies voorberei deur die moderamen van hierdie streeksinode, een van die tien “samestellende kerke” binne die NG Kerkverband.

Die twee mees “ekstreme” besluite* het gelui:

Opsie C: Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in geheel uit algemene sinodale verband te tree op grond van beskrywingspunte wat in Maart 2022 uit gemeentes en ringe ontvang is en kragtens Artikel 37 van die Kerkorde, en begin daarmee ’n proses om kerklike eenheid in die Vrystaat te herstel.

Opsie F: Die Sinode van die NGK VS besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie.

Dan was daar vier verdere opsies waaruit afgevaardigdes gestem het:

Opsie A: Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie nou ’n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie.

Opsie E: Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek te tree.

Opsie B: Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie ’n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie, maar versoek die Algemene Sinode in Oktober 2023 (skep 11de sinode met bepaalde teologiese standpunt).

Opsie D: Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in beginsel tydelik òf ten dele kragtens Artikel 37 uit algemene sinodale verband te tree, deur self (in twee kerkvergaderinge te verdeel).

Die uitslag van die stemmery?

Opsie A: 2 (0.7%)

Opsie B: 48 (16.1%)

Opsie C: 48 (16.1%)

Opsie D: 6 (2.0%)

Opsie E: 186 (62.2%)

Opsie F: 9 (3.0%)

*Lees ’n nuusberig oor die sitting HIER en lees die volledige besluite asook die bylae wat daarmee saamgaan HIER.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui