Claassen tree uit debat oor godsdiens in skole

Claassen tree uit debat oor godsdiens in skole | Die Burger

24 September 2009

Jan Gerber

Stellenbosch

Prof. George Claassen, voorsitter van Skepties Suid-Afrika (SSA), het gister uit die debat rondom die kwessie van godsdiensbeoefening in staatskole getree.

Dit volg nê “persoonlike aanvalle, beledigings en lasterlike bewerings deur Christene wat nie ordentlik debat voer en die saak aanspreek nie”, het Claassen gesê.

Claassen het Vrydag op sy internet-blog Prometheus Unbound geskryf SSA oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole in te dien wat nie onmiddellik godsdienspraktyke staak wat strydig met die nasionale beleid oor godsdiens in opvoeding is nie.

Intussen het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Wes-Kaapse NG Kerk hulle op die grondwetlikheid van godsdiensbeoefening in klastyd beroep.

Fedsas en dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap, het na art. 15 (2) van die Grondwet verwys en gesê dit is vir staatskole toelaatbaar om godsdiens in klastyd te beoefen.

“Die reg van beheerliggame van openbare skole om beleid vir godsdiensbeoefening te bepaal, word pertinent. in art.7 van die Skolewet erken,” het mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, gesê.

Fedsas het reeds ’n nuusbrief aan elkeen van die 1 100 staatsskole wat lid van Fedsas is, gestuur om hulle te adviseer oor hul regte en verpligtinge rakende die bepaling van ’n skool se godsdiensbeleid.

Hanekom het gesê ’n skool se godsdiensbeoefening moet “met die nodige sensitiwiteit en daar op kreatiewe maniere gesoek moet word na maniere om godsdiensbeoefening wel in skole ’n plek te gee op ’n wyse wat alle betrokkenes se regte respekteer,” het Hanekom geskryf.

Claassen het benadruk SSA is nie teen godsdiensvryheid gekant nie, maar meen ’n skool is nie die plek daarvoor nie. “Kinders gaan skool toe om te leer, nie om voor gepreek te word nie.”

Volgens Claassen het talle ouers wat behoorlik keelvol is omdat godsdiens aan hul kinders opgedwing word, SSA genader om lidmaatskap en het ’n groep ouers begin organiseer om die kwessie verder te voer.

Hy het hulle gistermiddag in kennis gestel dat SSA hom aan die kwessie onttrek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui