Nuwe verdagmakery teen NG teoloë

Kyk ook:

Nuwe verdagmakery teen NG teoloë

VOORBLADBERIG KERKBODE, 6 MAART 2009.

Die man wat twee jaar gelede ’n herrie in die NG Kerk veroorsaak het met ’n omstrede DVD waarin verskeie vooraanstaande teoloë in die NG Kerk van dwaalleer beskuldig is, mnr Sarel van der Merwe, is terug met ’n nuwe arsenaal aantygings en verdagmakery teen die kerk.

Dié slag span hy sy net veel wyer. Mense wat volgens hom dwaalleer propageer, sluit nou ook teoloë in soos proff Jan van der Watt, Stephan Joubert en Nelus Niemandt, almal verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Die volledige lys name van teoloë wat betrek word, is egter aansienlik langer as dié drie teoloë en sluit ook “behoudende” Suid-Afrikaanse teoloë en kerkleiers in.

Kerkbode het betroubaar verneem dat mnr Van der Merwe van WTL Multimedia Bedieninge ’n sogenaamde swartlys het met die name van diegene wat hy as “dwalende leraars” beskou.

Hy beweer talle teoloë wat nie deur vorige dwaalstrome soos die Jesus-seminaar en die sogenaamde Nuwe Hervorming meegesleur is nie, is nou ook die pad byster. In ’n skrywe waarin hy mense teen R150 per persoon nooi na ’n konferensie wat verlede naweek in Centurion gehou is, trek hy behoorlik met grofgeskut los op verskeie teoloë.

Hy sê behoudende teoloë na wie baie mense opsien, besing nou die lof van wolwe in skaapsklere.

Dié slag het hy dit veral teen die sogenaamde Ontluikende Kerk (“Emerging Church”).

Hy meen dit is niks anders as geestelike misleiding nie.

Selfs die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) loop ook deur. “In die winkels van CUM Boeke rol die rande in danksy die blitsverkoper The Shack, waarin ’n tipiese Emergent/New Age-verdraaiing van die Drie-Eenheid verkondig word,” sê mnr Van der Merwe.

Die kerklike media soos Radiokansel asook RSG se Bybelprogramme onder leiding van dr Flip Loots word daarvan beskuldig dat hulle meedoen deur hierdie sogenaamde dwaalleer te propageer.

Die DVD-reeks Nooma van die kerkleier Rob Bell, wat deel is van ’n nuwe reeks Christelike TV-programme op SABC2, kom ook onder skoot. Dit is glo alles die punt van ’n veel groter ysberg van “antichristelike infiltrasie” wat reeds die ganse samelewing en die kerk deurtrek het. Mnr Thomas Lessing, op wie se blog mnr Van der Merwe sy konferensie op die internet bemark, sleep ’n hele rits ander teoloë by wat volgens hom die pad byster is.

Dit sluit in ds Dirkie van der Spuy van die NG Gemeente Moreletapark, ds Attie Nel van die NG Gemeente Rustenburg-Bergsig, asook emeritusprofessor Adrio König.

Prof König, na wie mnr Lessing op sy blog as “onnadenkend” verwys, het al by geleentheid dele van mnr Van der Merwe se vorige DVD aan Bybelstudiegroepe gewys om mense teen dwaalleer te waarsku.

Mnr Lessing sê op sy blog Suid-Afrika word oorspoel met ’n spul valse leraars.

Mnr Van der Merwe vaar veral uit teen prof Nelus Niemandt van Tukkies se boek Nuwe drome vir nuwe werklikhede: geloofsgemeenskappe in pas met ’n postmoderne wêreld. Prof Niemandt reageer in die boek positief op aspekte van die ontluikende kerk. Prof Stephan Joubert se voorwoord in prof Niemandt se boek word ook gekritiseer.

Volgens mnr Van der Merwe is sowat 90 percent van die teologiese studente by Tukkies reeds deur hierdie “dwalinge” meegesleur.

Prof Niemandt, wat ook assessor van die NG Kerk se Algemene Sinode is, het by navraag aan Kerkbode gesê ’n mens huiwer eintlik om op die wilde stellings van mnr Van der Merwe te reageer. Hy beskuldig hom van haatspraak en sê dié “selfaangestelde aanklaer, regter en laksman is besig met ’n volgende rondte leuens en karaktermoord”.

“Kort gelede nog het hy by wyse van ’n DVD teologiedosente van dwaalleringe beskuldig. Ná ’n groot klomp ondersoeke en vergaderings het die kerk hulle onskuldig bevind. Nou gebruik mnr Van der Merwe ’n konferensie om sy haatspraak voort te sit. Die reklamemateriaal daarvoor kan in drie woorde opgesom word: leuens, laster en liefdeloos. Die Inkwisisie is dood! Lank lewe die Inkwisisie!” het prof Niemandt aan Kerkbode gesê met verwysing na mnr Van der Merwe se optrede.

Prof Joubert het gesê dit is regtig jammer dat mnr Van der Merwe nie die Matteus 18-pad loop deur eers met die mense te praat wat hy as “uitverkopers” van die evangelie uitkryt nie.

Prof Joubert het aan Kerkbode gesê die Bybel is baie duidelik daaroor dat bome aan hulle vrugte geken word. “Die vrugte van ’n Nelus Niemandt, ’n Leonard Sweet, ’n Rob Bell en ander is wyd en syd bekend. Dit deurstaan die evangelie-toets met vlieënde vaandels. Daarom is dit so jammer dat die ou uithaal-en-verdagmaak-styl steeds op sommige plekke seëvier.”

Lees ook “Wat is die ‘Emerging Church’?” op bl 7.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui