NGK: Behoudendes wil dalk wegbreek na Namibiese sinode

Kyk ook kommentaar onderaan die artikel.

*******

NGK: Behoudendes wil dalk wegbreek na Namibiese sinode | Netwerk24

Arisa Janse Van Rensburg

5 April 2022

’n Behoudende groep lidmate van die NG Kerk wil dalk deel word van ’n ander sinode om “weg te breek” van die Kerk se Algemene Sinode (AS) sonder om die kerk te “skeur”.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van Kairos Netwerk (KN), sê hulle oorweeg dit om hulle by die Namibiese sinode aan te sluit indien die AS nie aan hul besware gehoor gee en “terugdraai na die Skrif” nie.

Die NGK en ’n kenner meen egter die kerk se orde maak nie voorsiening vir só ’n skuif nie, en dat Kairos ’n “opdraandestryd” hiermee voer.

Netwerk24 het voorheen berig dat die Namibiese sinode in sy onlangse sinodesitting met ’n proses begin het wat daartoe kan lei dat hy van die AS wegbreek, tensy die AS oor onder meer sy 2019-besluit tot “inkeer” kom.

Die AS het in die jaar besluit om ruimte vir selfdegeslagverhoudinge in die NGK te skep. KN het kort hierna tot stand gekom.

Die Namibiese sinode en die AS sal vir die volgende ses maande eers met mekaar in gesprek tree om te kyk of die verhouding gered kan word.

Knoetze sê KN se besluit om hom by die Namibiese sinode te skaar sal van dié gesprekke afhang.

Hy sê gemeentes sal wegbreek as daar nie teen November tot ’n vergelyk gekom is nie.

“Die een moontlike oplossing binne die vasgeloopte NGK sal wees dat alle Skrifgetroue gemeentes in alle streeksinodes so gou as moontlik aansoek doen om op kerkordelike wyse (kragtens die kerkorde se artikel 32) by die Namibiese sinode heringedeel te word,” lui ’n verklaring van KN.

Die besluit sal ook op ’n familievergadering op 22 Julie bespreek word.

Die eerste prys sal wees dat die NGK na die Skrif terugkeer. As dit nie kan gebeur nie, sal ons wegbreek; ’n mens kan ook net soveel gesprekke hê,” sê Knoetze, en beklemtoon dat hulle steeds nie ’n “kerkskeuring” wil veroorsaak nie.

Maar dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê egter dit is juis artikel 32 van die kerkorde wat die proses vir KN kan bemoeilik.

“Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader,” haal Claassen uit die artikel aan.

Volgens die artikel kan die samestelling gewysig word, maar met toestemming van die AS.

Claassen sê dit sal “onprakties” wees vir lede en gemeentes van oor die land heen om deel van die Namibiese sinode te word.

Hy sê artikel 37 wys daarop dat slegs ’n sinode deel van ’n ander sinode mag word.

KN het al in die verlede gesê hy oorweeg dit ook om sy eie sinode binne die kerk te vorm.

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige moderator van die NGK, het in sy persoonlike hoedanigheid gesê dit sal kerkregtelik nie vir KN moontlik wees om hom by die Namibiese sinode aan te sluit nie, en dat daar vir hulle ’n “opdraandestryd” voorlê.

Niemandt sê hy glo die groep wil eintlik van die NGK “skeur, maar die voordele behou” deur steeds die kerk se naam te dra.

Kommentaar

Volgens die kerkorde van 2019 lui artikel 32 soos volg:

Artikel 32

Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/sinodale kommissie(s).19

Voetnota 19: Die onderskeie sinodes het verskillende benaminge (bv. moderamen, diensraad, sinodale dienskommissie) vir die liggaam wat die funksies van die sinodale kommissie verrig.

Tyd sal leer of behoudendes wel artikel 32 sal kan gebruik om te hergroepeer en waarskynlik ook later amptelik te skeur.

Uit die reaksie van Gustav Claassen lei ’n mens af dat die NG Kerk leierskap, net soos die Hervormde Kerk leierskap (kyk Kerk gaan appelleer teen uitspraak oor bates van wegbrekers (26 Mrt 2022)), nie die wegbrekers sommer net so sal laat gaan nie. Dit bly egter tog vreemd. ’n Mens sou gehoop het dat die liberales in die NG Kerk die behoudendes se punt kon insien en erken het dat dit eintlik hulle is wat die smal weg verlaat het en daarom die behoudendes in vrede laat gaan het en selfs ’n afskeidsgeskenk kon gee het. Maar dit lyk nie of dit gaan gebeur nie.

1 thought on “NGK: Behoudendes wil dalk wegbreek na Namibiese sinode”

  1. Met die vorige skeuring in die NGK, toe die Protestantse kerk gestig is, het wyle ds Olaf Scheuer na aanleiding van die feit dat sommige leraars huiwerig was om die kerkgebou ens agter te laat, gese: “Dis beter om onder n doringboom kerk te hou, as om van jou hart n moordkuil te maak.” Dieselfde geld vandag.
    Aardse goed is tydelik.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui