Steve het ‘g’n probleem, maar LGBTQ+ onderdruk ander’

Steve Hofmeyr vra nou lyk my die LGBTQIA+-gemeenskap om verskoning omdat hy durf waag het om hulle met bestialiteit te verbind. Die vraag is of hy werklik jammer is en of hy dit bloot gedoen het omdat hy gehoor het dat jy by die MRK (menseregtekommissie) aangekla word vir sulke uitlating (kykOpsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk).

*******

KYK | Steve het ‘g’n probleem, maar LGBTQ+ onderdruk ander’ | Netwerk24

Breyten Cupido

04 April 2022

Steve Hofmeyr vra die LGBTQ+-gemeenskap om verskoning in ’n video op sosiale media nadat hy in ’n vroeëre video beweer het dat die + in die akroniem “sluit bestialiteit in”.

Hy het die aanvanklike video Donderdag geplaas in reaksie op berigte dat Disney se bestuur besluit het om meer inklusief te word met hul inhoud om ook LGBTQ+-karakters in te sluit.

In die jongste video wat hy met sy sowat 655 000 volgelinge deel, sê hy die data waarop hy sy eerste video gegrond het, “is verouderd” en dat hy die woord van sy “gay vriende en kollegas” sal aanvaar dat die + “nie enige onwettige gender of voorkeure insluit nie”.

Hy sê egter hy “weet dit hét” en beskuldig die LGBTQ+-gemeenskap daarvan dat hy self diskrimineer omdat die lys van wat die + insluit, gesny is “van sowat 100 tot sowat 60 deesdae”, terwyl hy self ’n lys van “300 genders en seksuele voorkeure” het.

“Ek het geen probleem met hulle (die LGBTQ+-gemeenskap) nie en het dit nog nooit gehad nie, maar ek kan egter nie onder hulle konsensus vind oor wie die + ?.?.?. in- en uitsluit nie.”

Verder sê hy dit het “miskien tyd geword om die + te verwyder en te erken dat julle presies soos jul onderdrukkers geword het” deur nie inklusief te wees nie.

Hy beskuldig die LGBTQ+-gemeenskap daarvan dat hy stilgebly het toe Disney besluit het om “kleuters te seksualiseer deur hul rolprentkarakters te seksualiseer”.

Hy sê wel hy “sal enigiemand se reg om te bestaan verdedig”.

“Ek gee nie ’n duit om as wat jy identifiseer nie, jy is my gelyke, maar net totdat jy ander mense se regte vertrap en totdat jy ons kleuters vir jou grille en genieting seksualiseer”.

Volgens Kim Lithgow van Same Love Toti, sluit die + glad nie enige onwettige optrede of mishandeling in nie.

“Die + sluit diegene in wat nog nie besluit het wat hul genderidentiteit is nie. Die mishandeling waarvan hy (Steve Hofmeyr) praat, is ’n ander gesprek.”

Lithgow sê ook genderidentiteit het baie min te doen met seks self, en eerder met as wat iemand identifiseer. Sy sê Disney se besluit sal help dat kinders wat anders as die norm identifiseer, ook ingesluit voel.

Waarvoor staan LGBTQI+?Die akroniem LGBTQ+ is onlangs uitgebrei na LGBTQI+ om nog genderidentiteite in te sluit.

Dit staan volgens We’re Queer my Dear (WQMD) in Suid-Afrika vir:

L = Lesbies: ’n Vrou wat tot ander vroue aangetrokke voel.

G = Gay: Diegene wat aangetrokke is tot iemand van dieselfde geslag. (Dit verwys meestal na mans, maar kan ook verwys na vroue wat aangetrokke is tot iemand van dieselfde geslag.)

B = Bisesksueel: Diegene wat aangetrokke is tot mense van dieselfde geslag, maar ook aangetrokke is tot mense van ander genderidentiteite as hul eie.

T = Transgender: Diegene wat identifiseer as iemand van ’n ander geslag as die een waarmee hulle gebore is. Transgender-persone word met hormoonbehandeling gehelp om hul liggaam meer in ooreenstemming te bring met die geslag waarmee hulle identifiseer.

Q = Queer/Questioning: Mense wat nie eksklusief as heteroseksueel identifiseer nie. Dit kan ook verwys na iemand wat nog hul genderidentiteit probeer vasstel.

I = Interseks: Mense wat met manlike en vroulike eienskappe gebore is.

+: Ander geslagsidentiteite, soos mense wat hulself as niebinêr, panseksueel of aseksueel beskou.

Volgens Shenay O’Brien van WQMD in Suid-Afrika sluit die + 150 ander genderidentiteite in.

Volgens O’Brien is die doel van die + om genderidentiteite in te sluit wat nie onder die hoofterme val nie.

“Dit is ’n ellelange lys.”

* Hierdie berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui