Ds. Tokkie boos oor tugliggaam se vingers na hom wys

Kyk ook Henriëtta Klaasing se reaksie op hierdie skrywe onderaan hierdie artikel.

**********

Ds. Tokkie boos oor tugliggaam se vingers na hom wys | Netwerk24

Deur Johan Eybers

11 Julie 2021

Een van die NG Kerk se bekendste kerkleiers is erg oor die vingers getik deur sy medebroers wat glo hy behoort eers sy Bybel te gaan lees voordat hy klagte teen ’n mede-predikant indien.

Dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuarius van die algemene sinode van die NG Kerk, was die predikant wat klagte ingedien het teen die bekende kerkleier dr. André Bartlett, ’n predikant wat hom sterk beywer vir die posisie van gays in die kerk. Bartlett is onskuldig bevind op vier van die vyf klagte teen hom dat hy die negende gebod (“jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie”) oortree het.

Maar die tugliggaam wat die verhoor behartig het, het Ernst self die kop gewas deur hom daarop te wys dat hy óók moet ag slaan op wat die Bybel sê. Hy is gewys op Romeine 12:17 – “moenie kwaad met kwaad vergeld nie, wees goedgesind teenoor alle mense” – en Efesiërs 4:32 – “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het”.

Ernst het egter die afgelope week hierdie teregwysings as “belaglik” afgemaak. “Ek was nie die aangeklaagde in die saak nie. Daar kan geen bevindinge teen my gemaak word nie. Die ondersoekliggaam se doel was om te bepaal of André die negende gebod oortree het . . . Dit het nie oor my gegaan nie.”

Hy sê hy het reeds repliek gelewer dat die ondersoekliggaam buite sy bevoegdheid gehandel het. “Ek sal verder daarmee werk en sal enigiets verder hanteer wat daaruit mag voortvloei – ook in koerantberigte.”

Die broederlike vermaning oor Ernst se optrede spruit uit klagte wat hy teen Bartlett ingedien het, onder meer na aanleiding van ’n berig wat op 23 September 2018 in Rapport verskyn het.

Daarin lewer Bartlett kommentaar oor dr. Chris van Wyk, voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse sinode en lid van die algemene sinode se moderamen, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie. Hy het ’n storm ontketen toe hy op Kerkbode se Facebook-blad geskryf het diegene wat glo seksuele oriëntasie is ’n gawe van God, sal pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – op ’n soortgelyke manier moet aanvaar.

Pedofilie as ‘oriëntasie’

Van Wyk het aangevoer dit is omdat sielkundiges pedofilie ook as ’n “seksuele oriëntasie” beskou.

Sy inskrywing was in reaksie op ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, se meningstuk in Kerkbode waarin hy gesê het: “Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele oriëntasie”.

Die Sielkundevereniging van Suid-Afrika het hom onmiddellik van Van Wyk se siening gedistansieer en gesê dis snert.

Bartlett se reaksie was onder meer dat van Wyk “besig is met guerrilla-oorlogvoering op sosiale media” teen Janse van Rensburg en die res van die kerk se leierskorps terwyl hy toe self deel was van die leierskorps en dat dit “neerkom op haatspraak”.

Die Menseregtekommissie (MRK) het Van Wyk later onskuldig bevind aan haatspraak. Ernst het toe vyf klagte teen Bartlett ingedien. Almal het verband gehou met die feit dat Bartlett “vals getuienis” teen Van Wyk gelewer het. ’n Tugliggaam van die Vrystaatse sinode het die saak vroeër vanjaar aangehoor en Bartlett onskuldig bevind op vier van die vyf aanklagte.

Die laaste twee klagte (waarop hy vrygespreek is) spruit uit gedeeltes van sy boek Weerlose weerstand wat in 2017 gepubliseer is. Dis veral oor hierdie klagte dat die kerkvaders en -moeders ongelukkig is. Hulle sê die byvoeging van klagte oor die boek het die gevoel versterk van “addisionele sake wat agterna bygetrek is om die karakter van die aangeklaagde . . . net nog méér verdag en skuldig voor te stel”.

Die tugliggaam sê verder: “Die klaer se styl van ondervraging van getuies en karaktergetuies vir die aangeklaagde is ook nie die gesindheid wat pas by iemand wat ‘ware genoegdoening’ soek nie” en stel voor dat Ernst ’n slag weer Romeine en Efesiërs lees.

Oor waarom Ernst die klagte in 2020 ingedien het, amper drie jaar ná Bartlett se onderhoud met Rapport en die verskyning van sy boek, het Ernst gesê hy is gelei deur Jeremia 6:27: “Ek stel jou aan om my volk te toets, Ek maak jou sterk; ondersoek en toets wat hulle doen.”

‘Koue rillings’ een oggend

Hy het aan Rapport gesê hy het een oggend in September om 04:00 wakker geword nadat “iemand” vir hom gesê het om op te staan en te gaan lees. “Ek het koue rillings gekry. Ek het soos ’n lafhartige gelowige probeer om daarvan weg te kom.”

Hy sê hy het skuldig gevoel omdat niemand vir Van Wyk opgekom het nadat hy deur almal verguis is vir sy opmerkings oor pedofilie nie.

Met verwysing na Rapport het hy gesê: “Jul berigte en daai verklarings (van akademici en predikante) het die man (Van Wyk) ongelooflike skade aangedoen . . . Hy is vals beskuldig deur ’n klomp buddies wat niks omgee vir die waarheid nie.”

Hy beskryf die dissiplinêre liggaam se kritiek op hom as “die hoogste vorm van arrogansie om iemand se integriteit in twyfel te trek as dit kom by geloofservarings”.

“Die Here weet en ek sal dit onder eed gaan sê dat ek met geen persoonlike aksie teenoor André besig was nie. Hier waar ek nou sit, roep ek ook die Here as ’n getuie dat dit nie die rede was vir my klagte nie.”

Oor die tugliggaam se kritiek teen hom sê hy: “Ek weet hoekom dit daar staan – dit is om André te paai en daarvoor is hulle bereid om my ook op te offer. As my Here sy lewe vir ander gegee het, sal ek my lewe ook vir ander gee . Daar word die heeltyd gepraat van hoe die gays voel. Wat van die goed wat van my gesê word wat krenkend is? Ek kan net op dieselfde empatie, deernis, liefde en begrip staatmaak as ek gay word.” Hy sê die hele affêre het hom laat besef dat die NG Kerk homself vernietig.

Kommentaar

Henrietta Klaasing

Donderdag 2021/07/15

Die berig “Ds. Tokkie boos oor tugliggaam se vingers na hom wys” (Rapport, 11 deser) het betrekking.

Waarom ‘n brief oor ‘n tugsaak as die land brand? Want wat in God se kerk gebeur is net so belangrik as wat in die land gebeur.

Hoe is dit moontlik dat die klaer in ‘n saak (Dr Johann Ernst), in dieselfde saak die aangeklaagde word? Wat ek hier raaksien, is blaamverskuiwing en dit nie net deur die aangeklaagde nie, maar ook die ondersoekliggaam self! Dit is ‘n bedenklike tegniek wat die aandag na ‘n ander wil verskuif met ‘n “maar-wat-van”-argument. Stout laerskool kinders probeer dit ook. Nog ‘n vraag wat opkom is: was die ondersoekliggaam onpartydig? ‘n Verduideliking van hierdie onverkwiklike gebeure is broodnodig!

Prof. Hoffie Hofmeyr het ‘n roerende pleitdooi “André Bartlett, doen selfondersoek” in ‘n brief in die Burger (30/12/2021) gedoen dat Dr Bartlett hierdie saak met baie groot erns sal bejeën en dat hierdie saak spoedig begrawe sal word. Dit het blykbaar ongesiens verbygegaan.

Audi alteram partem. U lesers is geregtig daarop om ook die ander kant van die gebeure te hoor, en net so ook is Dr Johann Ernst geregtig daarop om net soveel ruimte te kry as Dr André Bartlett.

Dr Henrietta Klaasing, Randfontein.

1 thought on “Ds. Tokkie boos oor tugliggaam se vingers na hom wys”

  1. Kol-skoot Henrietta – die arme tugliggaam en die hele gespuis weet nie meer watter kant toe nie – dit gebeur nou as die klomp beter-weters nie by die Woord hou nie – hulle wil darm nog wys hulle voel saam sleg met hulle skuldige boetie – waar het jy nou al ooit gehoor dat die getuie aangeval word nadat sy getuienis aanvaar is en die beskuldige skuldig bevind is

    Jer 22:13  Woe unto him that buildeth his house by unrighteousness, and his chambers by injustice;
    Eze 7:3  “Your time is up! I’m sending my anger against you to judge you according to how you live your lives; and I’m going to pay you back with the consequences of all your detestable practices. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui