Stieftokkelok: Onsekerhede in die kerk plaas demper op sy studie

*******

Stieftokkelok: Onsekerhede in die kerk plaas demper op sy studie | Beeld

7 Desember 2004

Neels Jackson

Min sake verdeel kerke deesdae soos homoseksualiteit. Die NG Kerk beleef dié verskille tot in sy teologieklasse. Neels Jackson het gesels met studente wat verskillende pole in dié debat verteenwoordig.

Dit was ’n skok toe hy die eerste keer gehoor het mense maak Bybeltekste wat oor ’n konteks van goddeloosheid handel, op hom as gay Christen van toepassing, sê mnr. Rudie Olivier, teologiestudent in sy vierde jaar aan die Universiteit van Pretoria.

Olivier, wat vandeesmaand 24 jaar oud word, praat met groot rustigheid oor die kompleksiteite van die identiteit waarbinne hy leef — as Christen, as gay man in ’n vaste verhouding, as lidmaat van die NG Kerk en as student in die teologie.

Hy het in Carletonville grootgeword en was nog altyd in die NG Kerk, vertel hy.

Hy het van kleins af geglo.

Maar hy het ook van laerskool af aangetrokke gevoel tot ander seuns.

Olivier sê hy het ’n normale kinderlewe gehad. Daar was niks van die traumas of ander faktore wat mense dikwels dink lei tot homoseksualiteit nie.

Hy is nooit gemolesteer nie.

Hulle was ’n liefdevolle gesin met goeie verhoudinge. Sonder die stereotipe van ’n dominerende ma en ’n sagte of afwesige pa.

Tussen dié twee kante van sy identiteit, tussen sy geloof en seksualiteit, het hy self aanvanklik geen konflik beleef nie. Daarom dat dit as ’n skok gekom het toe hy agterkom mense dink tekste soos dié in Romeine 1 gaan oor (gay) mense soos hy.

Dit is die teks wat praat van mans wat skandelikhede pleeg met mans; mans wat “dit van geen belang ag om God te ken nie”; van wie daar gesê word “hulle haat God”.

Soek God se wil

“Ek pas nie daarin-nie. Ek het nog altyd God se wil gesoek vir my lewe. Ek het nog nooit teen hom gekies nie,” sê Olivier.

Oor sy homoseksualiteit vertel Olivier dat hy die jaar na skool “uit die kas gekom” het. Hy het ’n pastorale sielkundige gesien en besluit om ’n klomp mense se mening te kry voordat hy self sy besluite kon neem.

Sy ouers, veral sy ma, was geskok. Sy pa het hom van die begin af ondersteun en sy ma het later ook berusting gevind.

Olivier meen sy lewe sou nie’n suksesverhaal kon wees nie sonder ’n baie goeie ondersteuningsnetwerk, soos dié wat hy van sy ouers ontvang.

Hy en sy vriend is nou vier jaar in ’n vaste verhouding en hy meen dis belangrik om verhoudings te laat werk deur dieselfde beginsels wat vir ’n heteroseksuele huwelik geld in hil situasie toe te pas. Dit sluit in om getrou aan mekaar te wees.

’n Mens moet werk aan ’n verhouding, sê hy. Hulle gaan dit maak werk. Dis ’n commitment voor God.

Hoekom het hy besluit om in die teologie te studeer?

“Ek glo God roep my,” antwoord Olivier. Vir hom is dit ’n geloofstap. Hy het geweet dis ’n onsekere pad en dat die NG Kerk hom waarskynlik nie sou legitimeer nie.

Maar hy weet ook daar is verskillende maniere om mense met die evangelie te bedien. Sy plan is nou om nie die laaste twee jaar van die predikantstudie te pak nie, maar om homself in die veld van pastorale gesinsterapie te be- geef.

“’n Mens moet realisties wees,” sê hy. Hy weet nie of die NG Kerk oor twee jaar gereed sal wees om openlike gay predikante te legitimeer nie. As die deur wel oopgaan, het hy net twee jaar studie oor om hom as predikant te bekwaam.

Die teenkanting binne die kerk wil hy met respek bejeén. Dit kom van mense wat eg is, sê hy.

Hulle gio dit is wat die Bybel sê — en dit is nie ’n eenvoudige saak nie.

Persepsies moet verander

Olivier is nie bitter oor sulke teenkanting nie: Dit is eerder vir hom ’n uitdaging en geleentheid om sulke mense se persepsies te probeer verander.

“Baie mense het slegte ervarings met gays gehad,” sê hy.

Hulle het stereotipes opgebou uit goed soos gay-optogte, wat weer ’n reaksie was op verwerping. Olivier sê daar is foute gemaak aan albei kante.

Oor ’n petisie wat sommige van sy klasmaats opgestel het teen die toelating van gay predikante in die kerk, sê Olivier hy dink nie dis verteenwoordigend van al die studente se gevoel nie.

Dit skok hom nie, en hy ervaar dit ook nie as ’n bedreiging nie.

Hy weet daar is verskillende stemme in die kerk.

Dat sy verhouding met sy vriend nie oral aanvaarbaar is nie, is egter vir hom sleg. Hulle wil in ’n gemeente wees waar hulle hulself volledig kan uitleef.

Hulle het in hul gemeente ingeskakel by ’n kursus oor verhoudings en kon ervaar hoe hul verhouding daardeur groei.

Olivier meen gays moet verantwoordelikheid neem om die kerk halfpad te ontmoet. Die NG Kerk se deure is halfpad oop en hulle moet instap, al is dit ’n onsekere stap.

Hy meen dis belangrik dat die heteroseksuele gemeenskap ’n positiewe belewenis het van gays. “Mense moet sien dis oukei. Dis nie so vreemd nie. Dis eintlik heel normaal.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui