Kairos: ‘Begin van nuwe teologiese opleiding’ vir NG predikante

*******

Kairos: ‘Begin van nuwe teologiese opleiding’ vir NG predikante | Netwerk24

Arisa Schamrel

21 Julie 2022

“Studente word geleer om met ’n queeroog na die Bybel te kyk,” het dr. Henrietta Klaasing oor die opleiding van studente aan teologiese skole van die NG Kerk gesê.

Klaasing, ’n bestuurslid van die Kairos Netwerk (KN), het Dinsdagaand dié uitlating gemaak in die laaste paneelbespreking van die KN se familiebyeenkoms wat Donderdag in Pretoria gehou is. Die byeenkoms gaan Vrydag voort.

Klaasing en het in ’n paneelbespreking haar misnoeë uitgespreek oor die “dwaalleer” wat tans in die teologiese fakulteite plaasvind.

Haar kommentaar het gekom ná ’n aanbieding van prof. Hoffie Hofmeyr, ’n voormalige teologie-dosent en ’n lid van die KN, wat die toekoms van teologie-fakulteite bespreek het.

Die KN is kort ná die besluit oor selfdegeslagverhoudings op ’n vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk se vergadering in 2019 gestig as ’n netwerk waar behoudendes mekaar kan ondersteun en in hul besluite oor ’n toekoms in die NG Kerk kan lei.

Volgens Hofmeyr het net tien studente hulle vanjaar as eerstejaars by die NG Kerk se opleidingskole aangesluit.

Hy het Donderdagaand benadruk dat daar ’n wesenlike tekort aan nuwe leraars in die NG Kerk is en het die swak opkoms van studente toegeskryf aan “kommer” dat hulle nie ’n “klassieke teologiese opleiding sal ontvang nie”.

Die NG Kerk se opleidingskole is tans by die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat.

“Hulle voel nie meer tuis in die opleidingskole nie,” het Hofmeyr gesê.

“Ons gaan nie skeurmakers wees nie, maar of die NG Kerk, soos die ANC, faksies bymekaar gaan hou, weet ek nie.”

Hy het gesê Kairos het onlangs met die kernbestuur van die AS-moderamen gepraat en hulle het geen woord gerep oor hulle wat tot selfondersoek moet kom nie. Hofmeyr sê vanaand was die begin van wat hy glo “’n nuwe teologiese opleiding” gaan wees.

Hy het aangekondig dat voornemende NG predikante van 2023 af met ope arms by die Noordwes-Universiteit en die AP-Akademie, die AP-kerk se opleidingskool verwelkom gaan word.

Hy het benadruk dat die Veritas-kollege hulle ook goed van hul taak kwyt wanneer dit by Skrifgetroue opleiding kom.

Prof. Henk Stoker, rektor van die teologiese fakulteit van die NWU, en dr. Tiesie de Coning, ’n verteenwoordiger van die Veritas-kollege, was ná Hofmeyr se aanbieding ook deel van die paneelbespreking.

Hulle het die mense wat die byeenkoms bygewoon het, daarvan verseker dat “klassieke teologiese opleiding” steeds in die fakulteite plaasvind.

Stoker sê hoewel die opleiding aan die NWU hoofsaaklik vir leraars van die Gereformeerde Kerk is, “lê die NG Kerk ons baie na aan die hart. Ons moet teologie-leiers vir die toekoms skep. Daar is nou ’n stryd tussen waarheid en leuen.”

Ds. Norma Rossouw, wat die paneelgesprek gelei het, het saamgestem en gesê daar is studente wat die KN “byna daagliks” nader met hul besware oor die teologiese opleiding.

Volgens haar word sommige studente selfs benadeel “as dosente uitvind aan watter kant van die spektrum hulle is”.

1 thought on “Kairos: ‘Begin van nuwe teologiese opleiding’ vir NG predikante”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui