Voice of the Voiceless Advocacy reageer op NGK se 2019-SGV-besluit

Kyk ook:

André Bekker van Voice of the Voiceless Advocacy het amptelik reageer op die NG Kerk se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings.

*********

AMPTELIKE REAKSIE OP DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK SE BESLUIT OOR GAYS

Voice of the Voiceless Advocacy is ʼn spreekbuis vir voormalige homoseksuele persone in Suid-Afrika. Die afgelope paar jaar is die polities-korrekte, maar wetenskaplik ongegronde, narratief geskep dat ʼn mens gay gebore word en nie kan verander nie. Ons is ʼn tasbare bewys dat verandering moontlik is. As Ex-gay is ek diep besorgd oor die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode rakende Gays en die kerk.

Christus se verhouding met sy breë Kerk word in die Nuwe Testament uitgebeeld deur die figuur van ʼn Hoof en sy liggaam. Efesiërs 1:22-23 sê dat Christus is “as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is.” Christus, die Hoof van die Kerk, het gesag daaroor en dui die rigting aan. ʼn Persoon kry toegang tot die liggaam van Christus by wedergeboorte, wanneer Christus die gelowige deur een Gees verbind “tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge,” sê 1 Korintiërs 12:13. Paulus verklaar in vers 12 “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.

Hand aan hand met weergeboorte loop bekering. Dit impliseer dat ʼn persoon wat in Christus is, se leefwyse verander het. Die verandering vind plaas a.g.v. die feit dat hy/sy ʼn volkome verandering van gedagte en gesindheid ten opsigte van sonde en geregtigheid ondergaan het. Romeine 6:16 vra die vraag: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – of van die sonde tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot geregtigheid.” Vers 22 gaan voort met die woorde “Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

Hierdie is die pad wat ʼn ex-gay geloop het. 1 Korintiërs 6:11 verklaar “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van Onse God.” ʼn bekeerde Ex-gay is dus volwaardig, volgens die standaard van die Skrif, ʼn lidmaat van die gemeente. Hierdie is dan ook die enigste wyse waardeur ʼn mens ʼn lidmaat van enige Christelike denominasie kan word. Belangrik: dit impliseer dat die hele gay-debat nooit ʼn gesprek in die kerk moes gewees het nie. ʼn Mens kan nie gay wees en ʼn Christen wat waarlik wedergebore is nie. Jy bedrieg jouself as jy so dink. Spreuke 28:13 sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” Dit is dus vreemd dat in die hele debat in die kerk, die Ex-gay Christen geriefshalwe nooit ter sprake kom nie. Daar word nooit na hulle getuienis en belewenis in sinodevergaderings gevra nie. Daar word nooit besin oor die feit dat Christus talle en talle gay mense se lewens volgens die weg van bekering en wedergeboorte vernuwe het nie. Tog raadpleeg die kerk die wat “die duiwel as vader het, en die begeertes van hulle vader doen.” Die kerk buig spreekwoordelik sy knie voor Baäl en word sy eie god, en gee status van “lid van die liggaam van Christus” aan gediskwalifiseerdes, wat nie die bloed van die Lam aan die deurposte van hulle harte het nie. Christus word verloën en verraai, nie vir 30 sikkels silwer nie, maar vir politieke korrektheid en in die proses word die werk van Christus in die hart en lewens van Ex-gays verdag gemaak, ons wat waarlik deel van die liggaam van Christus is.

Daarom kan ons nie anders as om ʼn diep besorgdheid uit te spreek oor die onlangse besluite van die Algemene Sinode nie. Sonde word goedgekeur met ʼn “liefde is liefde” narratief, terwyl mense verlore gaan. Ons was ín so ʼn leefstyl en kan getuig van die verwoesting wat homoseksuele sonde bring. Die waarheid maak egter vry, en dit is: “sonde is sonde”, bely en laat staan dit. Dis tyd dat mense waarlik tot bekering en wedergeboorte kom, dan word gay-wees nie ʼn kwessie nie. As ex-gays is ons voorbeelde hiervan en rig ons ʼn ernstige waarskuwing aan die kerk om NIE af te dwaal nie. Sny die waarheid reg! Kom by ʼn plek van vryheid soos ons. Niks is beter as die Bybelse voorskrifte vir seksuele reinheid nie, glo my. Die kerk MAG NIE in hierdie uur die gedragspatrone van die wêreld in ons eie midde verwelkom en sodoende bydra tot die morele verval van die land nie! Die kerk is die laaste oorblywende standaard-steller in die samelewing. As ons toegee, verkrummel alles. Mag dié wat God in gees en waarheid aanbid in hierdie uur nie stilbly nie! Ons as ex-gays bewys julle Skrifgetroue siening reg.

André Bekker

1 thought on “Voice of the Voiceless Advocacy reageer op NGK se 2019-SGV-besluit”

  1. Andre, jy vat raak. Vir my het die NG “kerk” ’n nuwe era betree. Dit is een van “polities korrektheid” en “swig voor aardse druk”. As ’n mens die Bybel lees en verstaan wat of wie die kerk van die Here is dan kan die NG “kerk” nie meer daarop aanspraak maak dat dit die kerk van die Here is nie. Die kerk van die Here is volledig onderworpe aan die Here as hoof van die kerk. Soos jy tereg opmerk, die kerk is die liggaam en moet suiwer en gesond bly anders sal die Here dit van hom af wegwerp.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui