Moreleta oor drie opsies

Kyk ook:

Moreleta oor drie opsies | Kerkbode

4 June 2019

“Ons gee erkenning daaraan dat die NG Kerk oor baie dekades heen ’n groot rol gespeel het in die vestiging en uitbou van die Christelike geloof in die land. Daar is egter tans tendense en besluite in die NG Kerk tov van Skrifgesag en -interpretasie wat vir ons kommerwekkend is, en ons laat besin oor die rol en posisie van MPG binne die NG Kerkverband.”

Só lui ’n uittreksel uit die jongste verklaring wat Moreletapark Gemeente in Pretoria teen einde Mei op sy webwerf publiseer het. ’n Kerkraadvergadering vind nou op 13 Junie plaas ná ’n aantal ontmoetings met kerkleiers – ook op streeksinodale vlak – reeds gehou is. Kerkbode publiseer hier ’n uittreksel uit die verklaring soos die makrogemeente van die opsies vir die pad vorentoe aan hul webgebruikers verduidelik:

“Die Kerkregdiensgroep het MPG adviseer dat hierdie aangeleentheid binne die kerkverband op die volgende drie moontlike maniere hanteer moet word:

Die eerste is om uit die NG Kerk te tree. Kerkordelik kan ’n gemeente dit egter nie as gemeente doen nie. Die Leraars sal moet bedank uit die NG Kerk waarna ’n nuwe onafhanklike gemeente gestig sal moet word met die lidmate wat ook dieselfde proses volg. In dié geval is die leraars se bevoegdheid, MPG se geboue en die bankrekening in gedrang. Laasgenoemde twee bly binne die NG Kerk terwyl die leraars hulle bevoegdheid binne die NG Kerkverband verloor en nie verder binne die NG Kerk aansoek kan doen vir ander poste nie.

Die tweede is waar ons as gemeente doleer. Dit beteken dat MPG binne die NG Kerk bly, maar in ’n staat van treur gaan oor wat in die NG Kerk aan die gebeur is en daarmee ’n dispuut verklaar. Formele gesprekke word aan die gang gesit waarin ons die sake wat ons bekommer, aanspreek. Die NG Kerk moet dan aandui of hulle daaraan aandag gaan gee of nie. Die besluit of ons uit die NG Kerk tree kan dan later geneem word. In dié geval kan ander gemeentes, wat met ons saamstem, by ons aansluit en saam met ons doleer.

Derdens kan ’n buitengewone Oostelike Sinode Sitting geroep word waartydens slegs hierdie een saak in camera hanteer word. Al die gemeentes in die Oostelike Sinode se verteenwoordigers word dan uitgenooi om die Sitting by te woon. In dié geval kan die Oostelike Sinode een van drie besluite neem nl:

Hulle hoor MPG maar stem nie saam nie en gaan aan soos wat hulle tans doen. MPG gaan dan voort om onafhanklik van die ander gemeentes binne die sinode ’n besluit te neem oor die gemeente se toekoms.

Die Oostelike Sinode kan besluit om te doleer. Hierdie situasie sal meer gewig dra in verdere gesprekke as wanneer net een gemeente doleer.

Die Oostelike Sinode kan besluit om uit die NG Kerk te bedank en die hele Oostelike Sinode en die gemeentes onder hulle skuif dan uit die NG Kerkverband uit. In die laaste twee gevalle kan die gemeentes wat nie met die Oostelike Sinode saamstem nie, by ander Sinodes aansluit, indien hulle sou verkies, aangesien die hele proses op ’n meerderheidstem-basis werk. Hierdie proses kan lank neem en is ons onseker teen wanneer dit afgehandel sou kon wees. Ons gaan egter nie afsien van ons bekommernisse nie en die pad stap om by ’n oplossing te kom, wat uiteindelik sou kon beteken dat ons die NG Kerkverband verlaat.”

Hier volg die volledige verklaring: Moreletapark Gemeente Inligtingstuk: Proses rakende die toekoms van Moreletapark Gemeente Mei 2019

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui