Nee, Tim, dis nie net Afrikaanse dominees nie

*******

BRIEF | Nee, Tim, dis nie net Afrikaanse dominees nie | Netwerk24

Jean Oosthuizen

Rapport, Sondag 3 Julie 2022

Jean Oosthuizen, Strand, skryf:

Tim du Plessis sit die pot lelik mis in sy rubriek verlede Sondag (“Hoor hier: Ek glo nie meer! is eie aan Afrikaans”, 26.06). Sy snedige kritiek op Johan Retief se boek oor sy geloofsverlies laat ’n wrang smaak in die mond.

Hy is wel op een punt reg: Hy ken nie die kerkgeskiedenis nie. Dit is nie net Afrikaanse dominees wat oor hul geloofsverlies skryf nie. As hy ’n bietjie wyer lees, sou hy geweet het verskeie Nederlandse en Engelse dominees en skrywers het ook daaroor geskryf en doen dit steeds.

Enkele voorbeelde is die Nederlandse dominee Klaas Hendrikse se boeke, Geloven in een God die niet bestaat asook God bestaat niet en Jezus is zijn zoon, die Anglikaanse priester John Shelby Spong se talle boeke en ook verskeie ander soos die Kanadese dominee Gretta Vosper, die priester Gunther Weber, die protestant Joachim Kahl, die Anglikaanse biskop John Robinson en vele ander.

Ek sal graag wil weet watter priester in die Anglikaanse Kerk het Tim met die fopnuus gevoer dat sulke boeke in Engels nie sal verkoop nie. Daar is etlike sulkes wat topverkopers geword het.

Die staaltjie van die ateïs wat by die ongelukstoneel stilhou net om vir die motorfietsryer te vertel hy is ’n ateïs, raak kant nóg wal. Dit is juis gelowiges wat dit as ’n Bybelse opdrag (2 Timoteus 4:2) beskou om hul geloof tydig en ontydig wyd en syd te verkondig en oral aan mense op te dring.

Retief en ander ouddominees is net so geregtig om oor hul geloofsverandering te skryf as wat Tim geregtig was om in 1997 voor die Waarheid-en-versoeningskommissie te gaan bieg oor sy aandeel aan apartheid en daarvoor jammer te sê. Waarom mag Tim voor die hele wêreld bieg oor sy eie politieke misleiding, maar Retief mag nie ’n boek skryf oor sy geloofsmisleiding nie?

Nee Tim, Johan Retief en ander het net soveel reg om oor hul ongeloof te skryf as wat jy het om oor jou politieke bekering te skryf. En niemand word gedwing om een van die twee te lees nie.

2 thoughts on “Nee, Tim, dis nie net Afrikaanse dominees nie”

  1. Dankie Jean
    Ek vermeld graag verdere bewys en uitbreiding tov jou opmerking. Sou graag wou hê dat hierdie lys Tim op een of ander manier bereik:
    1) Mangassar Mangasarian, ’n Turk “The story of my mind” 1909
    2) Gerd Ludemann, ’n Duitser. Sien sy “Letter to Jesus”
    3) Robert Price, ’n Amerikaner, verskeie boeke en artikels (kyk sy You tube snitte)
    4) Bart Ehrman, ’n Amerikaner, verskeie boeke en artikels, sien ook sy You tube snitte
    5) John D Crossan ’n Ier, “A long way to Tipperary”
    6) Cas Labuschagne, ’n Belg, “Gods oude Plakboek
    Daar is vele meer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui