Geloof: ‘Rasionele denke’ nodig (George Claassen)

In die skrywe hieronder reageer George Claassen op Frits Gaum se op brief aan Ben du Toit (23 Januarie 2021).

Frits Gaum het vir George Claassen op hierdie brief geantwoord in Natuurlik kan jy van mening verander (5 Februarie 2021).

***********

Geloof: ‘Rasionele denke’ nodig | Netwerk24

Deur George Claassen

28 Januarie 2021

Dr. Frits Gaum vra in sy brief aan dr. Ben du Toit (23.01) hoe dit is dat Du Toit sulke twee uiteenlopende boeke oor geloof geskryf het. En dan bevraagteken hy Du Toit se afstap van geloof in ’n skeppende godheid en sy oopmaak van die hek om die plaas van rasionele denke, bevry van geloof in so ’n godheid, oplaas te betree.

Gaum se brief vertoon juis die vasklou aan ou denke en ’n krampagtige weiering om kennis te neem van wetenskaplike ontdekkings wat die irrasionele sprokies weerlê wat so kenmerkend is van alle gelowe. Du Toit het dit besef en weggestap van die idees waarin hy nog geglo het in sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd.

Nou, twee dekades later, het Du Toit, anders as Gaum, van mening verander – met Gaum wat glo dit is ’n kardinale fout. ’n Mens wonder waar die skielike vroomheid van Gaum nou ontspring dat geen mens van mening kan en móét verander nie, veral nie as dit by geloof in ’n skeppende godheid kom nie.

Moet ons dan nie dieselfde maatstaf gebruik oor meningsveranderings wat dr. Gaum in sy lewe ondergaan het nie: soos toe hy in die hart van die NG Kerk, as redakteur van die Kerkbode, deel was van die sanksionering van apartheid as skrifgefundeerd? Of dat hy omgeswaai het in sy siening oor gays se status binne die NG Kerk? Ons weet die redes daarvoor.

Gaum kan gerus maar saam met al die ander kritici wat die aanvalle op Du Toit loods, selfondersoek doen en hom in vrede sy rasionele denkwêreld laat betree.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui