Jesus en die owerspelige gay vrou

Die brief getiteld “Jesus en die owerspelige gay vrou” van Albert Alberts, seun van die bekende Louw Alberts, het in Kerkbode verskyn op 25 April 2022. In sy brief herskryf hy Johannes 8:1-11 en maak die volgende vervangings:

  • owerspelige vrou –> owerspelinge gay vrou
  • tempel –> NG Kerk
  • skrifgeleerdes en die Fariseërs –> sekere groepering in die sinode

‘n Mens lei af dat die “sekere groepering in die sinode” verwys na die Namibiese sinode wat in Maart 2022 ’n ultimatum gestel het dat indien daar nie ’n vaste voorneme gemaak word om sekere van die Algemene Sinode se besluite om te draai nie, hulle sal wegbreek (kyk Namibië sinode 2022).

Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. ~ Jesaja 5:20

Alberts se skrywe is egter na slegs ’n paar uur verwyder en laat dieselfde dag het Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode, ’n verskoning aangebied vir die plasing van die brief (kyk hier). Die presiese rede vir die verwydering word nie gesê nie. Slegs: “Ons het vanoggend ’n brief gepubliseer wat buite die raam val van wat ons op Kerkbode se briewe-afdeling wil regkry en aanmoedig.”

Daar word gespekuleer dat die brief verwyder is omdat dit te kontroversieel was.

In werklikheid is hierdie brief heeltemal in lyn met wat die NG Kerk in 2019 besluit het oor selfdegeslagverhoudings. Die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, behoort ook met hierdie skrywe te kan vereenselwig siende dat hy gesê het:

Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie.

(Kyk Nelis Janse van Rensburg erken hy is progay (17 Sep 2018))

Verder het die Kantoor van die Algemene Sinode namens die NG Kerk as geheel by binnelandse sake aansoek gedoen vir die aanstelling van predikante as bevestigers van burgerlike verbintenisse (kyk Leraars kloof hare oor dié wat nie gays wil trou (9 Aug 2020)).

Daarom is dit vreemd dat hierdie brief “buite die raam val van wat Kerkbode se briewe-afdeling wil regkry en aanmoedig.”

Hier volg Alberts se brief:

*********

Jesus en die owerspelige gay vrou | Kerkbode

25 April 2022

Hierdie is ’n lesersbrief.

Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albert Alberts van Knysna skryf:

En Jesus het na sy plek van aanbidding gegaan. Die volgende oggend het Hy na die NG kerk gegaan en daar was baie lidmate. Hy het gaan sit en hulle geleer.

’n Sekere groepering in die sinode bring toe ’n vrou wat owerspel gepleeg het, en hulle laat haar in die middel van die groot groep lidmate staan. Hulle het vir Hom gesê: “Jesus, hierdie vrou het ons instellings verbreek en met ’n ander vrou getrou en is boonop op heterdaad betrap waar sy owerspel met nog ’n ander vrou gepleeg het. Ons kerkorde beveel ons om hierdie vrou uit ons midde te verban en onder sensuur te plaas, maar wat sê U?”

Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry om hulle standpunt te bevorder. Maar Jesus het ’n stuk frommelpapier geneem en daarop geskribbel: “Hulle verstaan nie wat my liefde is nie.” Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy opgestaan en gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, haar eerste onder sensuur bring.”

Daarna het Hy weer gaan sit en weer op die frommelpapier geskribbel: “Vader, open die deure van hulle hart dat hulle my liefde kan verstaan.” Toe nie een daarvoor kans gesien het om haar onder sensuur te plaas nie, het hulle een vir een begin wegloop, maar het hartverskeurend steeds hulle standpunt gehandhaaf.

Jesus is alleen agtergelaat saam met die gay vrou daar in die middel van die lidmate. Toe het Hy weer opgestaan en vir haar gevra: ”Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”

“Niemand nie, Here” sê sy.

Toe sê Jesus vir haar: ”Ek doen dit ook nie. Keer terug na jou wettige vrou omdat dit in my wil is dat jy jou lewensmaat alleen moet liefhê en moet nie weer buite daardie heilige verbintenis sonde doen nie.”

***********

Verskoning vir plasing van brief  | Kerkbode

Le Roux Schoeman

25 April 2022

Geagte leser,

Kerkbode het vandag ’n fout gemaak en ek wil met hierdie skrywe aan lesers om verskoning vra.

Ek wil ook uitstip hoe ons hoop om in die vervolg beter te vaar.

Ons het vanoggend ’n brief gepubliseer wat buite die raam val van wat ons op Kerkbode se briewe-afdeling wil regkry en aanmoedig.

Ons het self die brief enkele ure ná publikasie van Kerkbode se webwerf verwyder.

Ons bied hiermee ’n onderneming om meer oordeelkundig met lesersbydraes te werk in die konteks in die uitdagings in die NG Kerk.

Hoewel die brief geproeflees was, was dit nog in ’n interne redaksionele hersieningsfase toe dit Maandagoggend gepubliseer is. Daar is dus boonop sprake van ’n werkvloei-fout. Ons berou beide foute.

As redaksie is ons doelwit verdermeer om ook teenoor briefskrywers so duidelik as moontlik te kommunikeer rondom die bruikbaarheidskriteria van briewe op Kerkbode se platforms. Ook hier het ons in hierdie geval gefaal. En ook op daardie front sal ons verbeter.

Ons weet Kerkbode se brieweblad lê lesers na aan die hart. Dis die derde mees gewilde afdeling op ons webwerf en heel dikwels ’n plek waar lesers mekaar se standpunte uitdaag en verryk. Ons hoop is om meer lig as hitte te bring en daarin het ons nie vandag geslaag nie.

Le Roux Schoeman
Redakteur

25 April 2022

2 thoughts on “Jesus en die owerspelige gay vrou”

  1. Om iemand onder sensuur te plaas is Bybels. Om iemand te stenig is nie aangesien Christus ons sondeskuld op Hom geneem het en die prys op die kruis betaal het. Indien niemand in die gemeente instem tot sensuur niie, nadat die pad van Mat 18 geloop is, is dit ’n valse gemeente.

  2. Na my mening is die inhoud van die redakteur se skrywe te vaag. Ek sou graag wou hê dat hy die brief van Alberts vir ons as lesers ontleed en aantoon op grond van watter geskrewe gedeeltes dit as onaanvaarbaar beskou is en daarom verwyder moes word. Die tegniese foute aanvaar ons as sulks, maar dis die inhoudelike wat kommentaar benodig.
    Baie dankie en groete.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui