Die Trojaanse Perd en ander inligting

Die volgende brief deur Bernhard Ficker het in die Mei 2022-uitgawe van Juig! verskyn.

********

Die Trojaanse Perd en ander inligting | JUIG!

Deur dr Bernhard Ficker

Mei 2022

Die antwoord op dr. D. van den Berg se navraag oor waar hy die boek, Die Trojaanse perd in die NG Kerk, kan bekom (JUIG!-briewe April 2022), moet verwelkom word. Dié boek is geskryf deur ‘n aantal “besorgde lidmate en leraars” wat ernstig oor Bybelse waarheid is. Die brief was met verwysing na die artikel deur dr. Henrietta Klaasing, “Transformasie By Die NG Kerk Se teologiese fakulteite noodsaak koersverandering”.

—————–

Die oorlewendes van hierdie lys ‘besorgde lidmate en leraars’ is vandag feitlik almal NGK dolerendes wat ook betrokke is by Kairos netwerk. Die reformatoriese beweging van dolerendes wat treur oor al die dwaalleer en ongeruimdhede in die NGK is baie soortgelyke aan Martin Luther se reformatoriese beweging waar hy in opstand gekom het teen die dwaalleer en vergrype in die Rooms-Katolieke kerk. Die beswaarmaking teen die kruipende liberale dwaalleer in die NGK kom al ’n lang pad. Die verskyning van die boek Die Trojaanse Perd was maar een van die groot waarskuwende bakens langs die pad van dwaalleer waarop die NGK aangestap het. Elkeen van die skrywers het die rol gespeel van ’n Martin Luther ten einde die NGK tot besinning te probeer ruk.

Die een skrywer, Sarel van der Merwe, byvoorbeeld, was destyds ’n TV-joernalis by die SAUK, belas met godsdiensaangeleenthede. Hy het die opnames van al die dwaalleer wat liberale NGK-professore en -teoloë kwytgeraak het, op ’n DVD getiteld Nuwe Strominge in die Teologie: Word die hart van die Evangelie uitgeruk?, saamgevat. Dit is aan elke NGK-dominee gestuur en het ietwat van ’n opskudding veroorsaak, maar die NGK leiers en -teoloë het bloot voortgegaan. Hierdie DVD, asook andere wat Sarel gemaak het, is noodsaaklike kykstof vir enigeen wat die historiese aanvaarding van dwaalleer in die NGK wil verstaan. Dit is by sarelwtl@telkomsa.net of sel 082 689 7603 verkrygbaar.

’n Ander skrywer van Die Trojaanse Perd en lewenslange NGK-hervormer vir die waarheid, was ds Jan Louw. Hy is vroeg vanjaar oorlede. Hy en sy seun, Daniel, het die webwerf, glodiebybel.co.za, begin as teenvoeter vir die valse makro-evolusieleer wat so baie NGK-dominees heeltemal van koers af geslinger het. Die webblad se vertrekpunt is die Bybelse sesdag skepping. Deur die jare is die webblad uitgebou met ’n magdom koerantberigte en insiggewende artikels sodat ’n rekord gehou is van al die voorvalle van dwaalleer in die NGK oor die afgelope paar dekades. Dit is ’n uiters interessante bron van inligting oor die stryd teen dwaalleer en iets wat lesers van JUIG! besonder leersaam sal vind.

Nog ’n baken op die pad van die dolerende hervormers is die boek van Pieter Pelser, NG Kerk: Reformeer of … DISINTEGREER? Die krisis in ons kerk in die greep van dwaalleringe (waarvan byna niemand iets weet nie). Die onderskrif lui “’n Boek vir die bekommerde lidmaat wat ’n pad soek uit die moeras van teenstrydighede en ondersekerhede”. Ook op hierdie profetiese waarskuwing aan die dwalende leiers van die NGK is weinig ag geslaan. Die boek is uiters interessante leesstof en kan gratis verkry word as ’n e-boek op die webwerf glodiebybel.co.za.

Elk van bogenoemde persone het ondanks persoonlike aanvalle teen hulle, soos Martin Luther opgestaan teen die heersende stroom van liberale dwaalleer in die NGK en hul stem laat hoor ten gunste van waarheid.

Die dwaalleer binne die NGK het so pas gekulmineer in die onlangse internasionale driedaagse kongres by die kweekskool van Stellenbosch getiteld “Queering the Prophet Jona” waar NGK-teoloë ’n leidende rol gespeel het. Hier het hulle tesame met Hindoeistiese en Islamitiese sieninge Bybelse karakters – lyk my sommer die hele Bybel ook – tot ’n skewe queer boek probeer verhef na aanleiding van die NGK-Algemene Sinode se verheffing van ’n onbybelse queer leefstyl as iets heel normaal!

Kom ons staan almal saam en ondersteun die dolerendes en Kairos Netwerk in hul poging om die groeiende dwaalleer binne die NGK stop te sit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui