Johannes 8:1-11 (vrou op owerspel betrap)

Johannes 8:1-11 (83 vertaling)

(1)maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan. (2)Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer. (3)Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. (4)Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. (5)Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” (6)Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. (7)Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” (8)Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. (9)Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. (10)Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” (11)“Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Hierdie gedeelte word dikwels gebruik om te redeneer dat ons niemand mag oordeel nie omdat Jesus nie hierdie vrou geoordeel het nie. Dit is nie ’n geldige afleiding nie.

Sonder sonde

In vers 7 sê Jesus dat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi. Die 83 vertaling praat van “‘n skoon gewete”, maar dit is verkeerd. Al die ander vertalings praat van “sonder sonde”. Mense doen dikwels verkeerde dinge met ’n skoon gewete. As ’n mens hierdie gedeelte in isolasie lees, dan beteken dit dat niemand iemand anders mag oordeel nie, want geen mens op aarde is sonder sonde nie. Hierdie gedagte sou egter heeltemal teenstrydig wees met die res van die Bybel. Ons het ’n plig om te oordeel (kyk Die Bybel oor oordeel). Binne konteks gelees het Jesus waarskynlik hier bedoel dat enigeen wat nog nooit egbreek gepleeg het nie, die eerste klip moet gooi.

Wat het Jesus met sy vinger op die grond geskryf?

‘n Mens kan bloot spekuleer wat Jesus geskryf het. Indien bogenoemde egter waar is, het Jesus waarskynlik verskillende maniere waarop ’n mens egbreek kan pleeg geskryf, waaraan die Fariseërs skuldig was. In Matteus 5:27-29 sê Jesus byvoorbeeld: “Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

Of Jesus het selfs name van vroue neergeskryf waarmee hierdie Fariseërs egbreek gepleeg het. Of dit nou fisies was of slegs in hulle hart.

Gaan heen en sondig nie meer

Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus ook vir die vrou sê: “…moet van nou af nie meer sonde doen nie”. Dus oordeel Jesus haar wel op ’n mooi manier omdat dit belangrik is dat ons alle sonde uit ons lewe moet verwyder. Johannes 5:14 sluit ook hierby aan: (14)Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui