Is ek met verdagmakery besig?

Jan Louw het die volgende geskryf, kort nadat hy ’n paar skrywes in die openbaar gepubliseer het (kyk in die “Kyk ook”-blok hierbo). Of hy persoonlik gekonfronteer is met verdagmakery en of behoudendes in die algemeen daarvan beskuldig is, is onseker. Nietemin, hierdie skrywe is ’n stuk selfondersoek.

*********

Is ek met verdagmakery besig?

Deur Jan Louw

25 Oktober 2013

Dit is die vraag wat ek myself moet afvra, teen die agtergrond van besluite soos die volgende by die Sinode van 2013:

Die Algemene Sinode (AS) wys lidmate daarop dat ons met mekaar in gesprek sal tree voordat mense verdag gemaak word, of van leerdwaling beskuldig word, want verdagmaking en leuens is net soveel sonde as leerdwaling.

Die AS verklaar daarom aan alle lidmate en leraars dat hulle sal weet dat die NG Kerk in al sy strukture en ampsdraers altyd oop en toeganklik is vir uitklarende gesprekke oor enige aangeleentheid in die gesindheid en styl van ons Here Jesus Christus. (vlg. Mat 18). Derhalwe word lidmate genooi om van geleenthede gebruik te maak en deur die beskikbare kanale aan gesprekke t.w.v. uitklaring deel te neem.

Ek het in stryd met hierdie uitnodiging my brief aan leraars en kerkkantore in die kerk uitgestuur met die opskrif: Die NG Kerk het sy liefde vir die Waarheid vaarwel geroep. Dit mag lyk asof ek nie wil gebruik maak van die “regte kanale” om te kommunikeer in die kerk nie en dat ek dus sommer net dwars is. In die lig hiervan wil ek graag ’n oorsig gee van die gebeure die afgelope twee jaar. Daaruit sal dit blyk dat daar regtig baie van my en ander lidmate se energie ingegaan het om deur die beskikbare kanale met die kerk en die leiers te praat.

1. AS van 2011 se besluit oor die duiwel

Die AS het in 2011 besluit: Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Hierdie besluit het die volgende aksies tot gevolg gehad:

2 Brief aan die Moderamen – 2011

Ek het ná die Sinode ’n brief aan die Moderamen van die AS geskryf om te sê dat die besluit ’n fout was en dat hulle asb die saak moet regstel. Die Algemene Sekretaris en skriba van die Moderamen het my geantwoord dat hulle vir my die volledige besluit oor die Bediening van Bevryding asook die volledige verslag aanstuur (asof die seun nie sy huiswerk behoorlik gedoen het nie). Hulle het gemeen dat ek sal sien hoe sterk die Algemene Sinode standpunt ingeneem het oor die konkrete werklikheid van die Bose!

Brief aan moderamen van AS 2011-11-16

3. Beswaarskrif – 2012

Ek het in samewerking met ds Theo Danzfuss volgens die Kerkorde ’n beswaarskrif by die Sinode Hoëveld ingedien, wat na die AS deurgestuur is. Dit het by die vergadering van Sinode Hoëveld geblyk dat daar by ander leraars in die Sinode ook groot ontsteltenis is oor leerkwessies in die kerk. Br Nelus Niemandt was teenwoordig by die Sinode en het kennis geneem van die ontevredenheid by baie afgevaardigdes. Hy het ontken dat daar leerdwaling in die kerk is.

Beswaarskrif: AS besluit oor bediening van bevryding

4. Luistergeleentheid van Sinode Hoëveld – 10 Oktober 2012

In navolging van ’n besluit van Sinode Hoëveld is daar ’n Luisterbyeenkoms in Kemptonpark gehou waar lidmate hulle bekommernis oor leerkwessies in die kerk kon voorlê. Daar was 14 leraars en lidmate teenwoordig wat voorleggings gedoen het en nog 4 ander wat skriftelike voorleggings ingedien het. Van hierdie mense het van so ver as Kaapstad, Bloemfontein, Groblersdal, Middelburg en Secunda gekom omdat die saak vir hulle so belangrik was. Die voorleggings het gegaan oor ’n verskeidenheid leerstellige kwessies wat nou in die NG Kerk deur invloedryke persone aangehang word. Hierdie lidmate se voorleggings kan gelees word by: Sinode Hoëveld luister na besware maar gaan dit iewers kom?

5. Ope byeenkoms van Sinode Hoëveld – 31 Oktober 2012

Die Sinode Hoëveld het ook ’n Ope byeenkoms in Kemptonpark gehou waar br Theo Danzfuss lidmate ingelig het oor die kerkregtelike prosesse om ontevredenheid in die kerk aanhangig te maak. Daar was omtrent 50 mense teenwoordig wat vrae gestel het en standpunte gehuldig het. Die moderator br Nelus Niemandt en ander verteenwoordigers van die Sinode Hoëveld was ook teenwoordig.

6. Tweede brief aan die moderamen – 23 November 2012

In hierdie brief het ek van die kwessies wat te berde gebring is by die Luistergeleentheid van die Sinode Hoëveld onder die aandag van die Moderamen gebring. Hierdie keer het ek geen antwoord ontvang nie.

Die briewe aan die moderamen, waarvan ek hier praat was nie net vir die skriba gestuur nie. Ek het dit persoonlik aan al die lede van die moderamen, (moderators van die streeksinodes) gestuur sodat hulle geleentheid kon kry om dit te bestudeer. Brief aan moderamen van AS 2012-11-23

7. Ander beswaarskrifte

In die agenda van die AS van 2013 verskyn die ander beskrywingspunte en beswaarskrifte oor die gewraakte besluit oor die duiwel vanaf bl 283 (kyk Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding). Die beswaarskrif van prof D Thom van George en kommunikasie wat daarop gevolg het kan gelees word by B9.

Ek bring dit onder u aandag omdat dit ’n weergawe gee van die tipiese doodloopstaat situasie tussen die kerk en sy lidmate as dit kom by leerkwessies. Daar word (vroom) opgegee dat die NG Kerk in al sy strukture en ampsdraers altyd oop en toeganklik is vir uitklarende gesprekke oor enige aangeleentheid in die gesindheid en styl van ons Here Jesus Christus. As dit egter by die praktyk kom is dit ’n ander storie. Keer op keer kom ons te staan voor ’n muur van moedswilligheid en onwilligheid om logiese en basiese sake van ons geloof te verstaan.

Prof Thom wys op vreemde redenasies in die verslag van die Taakgroep, waaroor ek dit met hom heelhartig eens is. Hy maak beswaar teen argumente soos:

“9.6 Die probleem met die begrip “die duiwel as persoon” is dat dit ’n mens byna onwillekeurig daartoe bring om te dink aan ’n rooi wese met ’n mens se lyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert wat sy slagoffers in ’n poel van vuur gooi. Dit is egter die Middeleeuse beeld van die duiwel maar nie die Bybel s’n nie – en sal op baie ewewigtige mense in die 21ste eeu nie groot indruk maak nie.”

“Christene glo wel dat die Bose ’n werklikheid is, maar dit is verwarrend om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie.” (10.3).

Prof Thom wys ook daarop dat die opstellers van die verslag geen Bybelse begronding gee, waarom die duiwel nie as ’n persoon gesien moet word nie, maar hulle op filosofiese gronde verlaat. Verder wys hy daarop dat die besluit om “ruimte” te maak vir mense wat ander sieninge oor die duiwel het, ruimte maak vir enige dwaalleer in hierdie verband (en daar is vele). Julian Muller en James Kirkpatrick het bv albei klas gegee by die Teologiese Fakulteit Pretoria en James Kirkpatrick is op rekord dat hy sy standpunt oor die duiwel met die studente bespreek het.

In die Taakgroep se antwoord aan prof Thom kry hulle natuurlik wel maniere om hulle standpunt te handhaaf. Ek voorsien uit die trant van die gesprek dat hulle ad infinitum so sal argumenteer en uiteindelik sal hulle onverrigter sake uitmekaar moet gaan. Daar is ’n onoorbrugbare kloof tussen die siening van prof Thom en die van die kerk se Taakgroep. Waarom sou dit wees?

Die antwoord is eenvoudig. Die skriba van die Taakgroep, Ben du Toit en die voorsitter in daardie tyd, James Kirkpatrick glo nie in die bestaan van die duiwel nie! Hulle het dit openlik by die Sinode in 2011 vir die kerk gesê en geen haan kraai daarna nie. Hulle het genoeg teoloë en leiers rondom hulle wat hulle ondersteun. Die lidmate sal dus tevergeefs in opregtheid uit die Bybel met hulle probeer redeneer. Jy word binne in die kerk gekonfronteer met die situasie waarteen Paulus waarsku in 1Tim 6:20: “Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21 Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.”

8. Die AS besluit van 2013

Dit het nou aan die lig gekom dat die Sinode na al die insette, korrespondensie en gepraat van baie mense nogtans besluit het:

“Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.”

Enige regdenkende mens sal sê dat daar nie so iets soos ’n nie-persoonlike duiwel of demoon bestaan nie. Dit is nie soos die Here en die apostels oor die duiwel praat nie. Hierdie terminologie is net ’n rookskerm van mense wat nie in die bestaan van die duiwel glo nie. Vorentoe gaan hulle die besluit van die AS gebruik om sanksie te gee aan die pad van misleiding wat hulle vir hulleself gekies het.

Dit is verder pertinente misleiding om voor te gee dat ons saamstem oor die realiteit van die bose. As ons in die kerk praat van die bose, praat ons van die duiwel. Hierdie teoloë bedoel met die bose dat daar ’n onverklaarbare boosheid in die struktuur van die samelewing is. (Verslag pt 8.3.3)

Hierdie misleidende taal pas nie in die “gemeenskap van die heiliges” nie. Dit is wat my broers en susters in die NG Kerk moet weet en dit is die rede waarom ek ’n brief uitgestuur het, waarin ek gesê het dat die NG Kerk sy liefde vir die Waarheid vaarwel geroep het. Ek is nie besig met “verdagmakery” nie. Prof Johan van Rensburg het in 2011 al gesê: “Ons het nie ’n goeie rekord vir luister nie.”

Wil ons regtig luister

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui