Frits Gaum: Mag gelowiges bid vir die val van die regering?

Kyk KOMMENTAAR onderaan die artikel.

*******

Frits Gaum: Mag gelowiges bid vir die val van die regering? | Netwerk24

Frits Gaum

26 September 2022

Waar staan gelowiges wanneer dit lyk of sake in die regering skeefloop? Mag hulle vir die val van ’n regering bid? Frits Gaum bekyk die kwessie.

Toe ds. (later dr.) C.F. Beyers Naudé op 22 September 1963 sy afskeidspreek in die Aasvoëlkop-gemeente in Johannesburg gelewer het – mettertyd sou hy ook uit die NG Kerk bedank – was sy teksvers Handelinge 5:29: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense.”

Naudé het onder meer gepreek: “Net die Heilige Gees kan elkeen van ons oortuig in hoeverre Handelinge 5 op ons van toepassing is. Dit is egter vir my duidelik dat die NG Kerk se sinode in gees en praktyk die Godgegewe reg en vryheid van leraar en lidmaat om profeties-reformatories vir die waarheid van God se Woord te getuig, so ingeperk het dat die evangeliedienaar nie meer in beginsel die vryheid gegun word om sy diepste Christelike oortuigings uit te spreek nie . . .”

Naudé het hom destyds uitgespreek teen die afdwing van ’n sekere vorm van “kerklike gesag”, soos hy dit genoem het, maar dit het ten diepste by hom gegaan oor ’n verset teen die staatsbeleid van afsonderlike ontwikkeling, apartheid, wat in daardie tyd in hoogbloei was – soos ook die kerklike onderskrywing daarvan.

Die verloop van die geskiedenis in die 59 jaar ná Naudé se afskeidspreek het hom in ’n hoë mate gelyk gegee, hoewel geregverdigde kritiek uitgespreek kan word teen die wyse waarop hy sy verdere rol gespeel het. Die punt is egter dat Naudé destyds daarvan oortuig was dat hy, soos Petrus toe hy voor die kerklike owerheid van sy tyd te staan gekom het, moes kies tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan mense . . . en dat hy volgens sy oortuiging vir God gekies het, wel wetende dat die gevolge vir homself bitter sou wees.

Gehoorsaam tot elke prys?

Oor die algemeen is die opdrag van die Here in die Bybel duidelik: “Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie . . .” (Romeine 13:1). As ’n mens onthou dat Paulus sy brief aan die Romeine geskryf het toe die staat nie-demokraties en diktatoriaal was, is dit merkwaardig dat hy gehoorsaamheid en onderwerping aan die owerhede so ondubbelsinnig stel. ’n Mens sou nogal wou dink dat hy ’n opening vir ongehoorsaamheid en opstand sou laat. Maar as hy die gesag van die owerheid aan God verbind, is dit duidelik dat hy nie gehoorsaamheid aan die owerheid tot elke prys voorstaan nie. As sake op die spits gedryf word en jy moet kies tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan sy instelling, die owerheid, is daar nie twyfel oor wat Paulus jou sou aanraai om te doen nie.

In 1985 het Allan Boesak en ander kerkleiers ’n pleidooi gelewer dat Christene vir die val van die apartheidsregering in Suid-Afrika moet bid. Hulle was daarvan oortuig dat die regeringsbeleid die menswaardigheid van mense skend – en ook dat die Bybel ruimte maak vir die gebed as vorm van protes. Psalm 73 is ’n Bybelse voorbeeld van ’n protesgebed.

‘Christelike oplossing sonder bloedvergieting’

’n Paar dekades later was daar wel nie ’n soortgelyke oproep tot gebed dat die ANC-regering op sy beurt moet val nie, maar daar was groot burgerlike verset teen die korrupte bewind van pres. Jacob Zuma wat Suid-Afrika amper op sy knieë gebring het. Uiteindelik het die weerstand teen sy bewind so omvangryk geword dat hy as staatshoof moes bedank. Die kerk, en by name die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, waarvan die NG Kerk ook lid is, het in dié verband saam met ander burgerlike organisasies ’n belangrike rol gespeel en daarop aangedring dat Zuma uittree.

Een van die beste voorbeelde uit die vorige eeu van geweldlose kerklike verset teen ’n outoritêre en gewelddadige regering wat uiteindelik tot die val daarvan gelei het, is die val van die Berlynse Muur in 1989. Dit was die gevolg van geweldlose massabetogings onder leiding van onder andere twee Lutherse predikante, Christian Führer en Christoph Wonnenberger. Terwyl hy nog predikant in Dresden was, het Wonnenberger reeds aan die einde van 1980 begin met sy Sozial Friedesdienst, ’n kwalik bedekte versetveldtog teen die kommunistiese bewind van Oos-Duitsland.

Wonnenberger en Führer het hul kerke in die somer en herfs van 1989 vir vergaderings van politieke verlooptes beskikbaar gestel. Elke Maandagaand is ’n “vredesbiduur” gehou. Dit was nie lank nie of die vredesbiduurgangers het in die strate begin beweeg.

Wonnenberger en Führer en ander predikante het die betogers gedurig tot geweldloosheid opgeroep. Die soort vryheid wat deur ’n gewelddadige opstand verkry word, sal onmiddellik tot ’n nuwe diktatuur lei en is nie die moeite werd nie, het hulle gewaarsku.

Dié predikante se ingesteldheid was ’n navolging van Lech Walesa se houding teenoor die Poolse kommunistiese diktatuur. “Laat ons ons krag toon deur ons gebede en op ons knieë. Ons moet ’n Christelike oplossing vind, ’n moreel aanvaarbare een wat nie bloedvergieting insluit nie.”

Met hierdie soort morele leiding het die mense van Leipzig en ander stede in steeds groter getalle na die strate gestroom. Op 7 Oktober 1989 het die Oos-Duitse polisie hard op die betogers in die sirkelpad rondom die middestad van Leipzig toegeslaan. Maar die betogers het nié teruggeslaan nie. Dit het regstreeks gelei tot ’n bevel van Egon Krenz, die laaste Oos-Duitse kommunistiese regeringsleier, dat die polisie nie op die betogers mag skiet nie.

Daarmee is die weg “geweldloos” gebaan vir die gebeure van Donderdagaand 9 November 1989: die val van die Berlynse Muur en die nekslag vir Oos-Europese kommunisme. En uiteindelik tot ’n verenigde, demokratiese Duitsland met, tot onlangs toe nog, ’n toegewyde Christenvrou (oorspronklik van Oos-Duitsland met ’n Lutherse predikant as pa!), Angela Merkel, as kanselier gelei het.

Owerheid moet ook hoor

Moet Christene bid vir die val van regerings?

Ja, as die regering burgers dwing tot ongehoorsaamheid aan God.

Ja, as regerings onreg pleeg en mense se menswaardigheid aantas.

Ja, as korrupsie en misdadigheid kenmerkend van die regering word. Maar steeds moet in gedagte gehou word dat God die uiteindelike Gesagdraer is en dat gehoorsaamheid aan ’n instelling – die staat, om ’n ordelike lewe in vrede vir ons moontlik te maak – baie belangrik is en nie sommer geïgnoreer mag word nie. Soos die kerk se profetiese stem ook nie sommer deur die owerheid geïgnoreer mag word nie.

* Dr . Gaum is ’n skrywer en ’n voormalige skriba van die NG Kerk se sinode. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Skaars twee dae gelede, op erfenisdag, het die moderator van die NG Kerk omverskoning gevra vir die kerk se aandeel in apartheid (kyk Moderator van die NGK vra omverskoning vir apartheid) en nou kritiseer Frits Gaum, ook van die NG Kerk, die huidige regering en vra selfs of ’n mens kan bid vir hulle ondergang.

Hierdie tipe optrede bly altyd vir my bitter ironies.

Jy mag dalk vra wat die twee sake in gemeen het.

Die antwoord is: alles.

Natuurlik was daar elemente van apartheid wat totaal verkeerd was. Dit was byvoorbeeld nooit nodig gewees om ekonomies te diskrimineer teenoor swartmense nie.

Apartheid het egter nie net daaroor gegaan nie. Apartheid het ook al die inwoners (nie net die blankes nie) beskerm teen swart oorheersing.

In 1950 het HF Verwoerd gesê: “In a multi-racial society where power must eventually be transferred into the hands of the numerically stronger Bantu, not only the White, but also the Coloured and Indian will go under. Over time even the Bantu masses will not benefit because on the strength of what happened elsewhere in Africa, it must be taken into consideration that South Africa will develop into an autocracy or dictatorship. On account of their lack of ability to manage a complicated administration, the country will moreover administratively and economically be destroyed and for everyone – White and Coloured – end in chaos”

PW Botha het in 1986 daarna verwys as selfmoord: “I can never commit suicide by accepting threats and prescriptions from outside forces and hand South Africa over to Communist forces in disguise.”

En ook: “Listen, my friends, listen. Destroy white South Africa and our influence in this subcontinent of southern Africa, and this country will drift into factions, strife, chaos and poverty.”

Al hulle vrese en waarskuwings het waar geword.

Frits Gaum is tog sekerlik nie totaal verbaas oor die huidige stand van sake in Suid-Afrika nie. Het meeste van ons nie maar geweet dat ’n swart regering ernstige risikos sou inhou vir die lewe in Suid-Afrika nie?

En indien die ANC val, wie neem by hulle oor? Die EFF? Want die DA sal nie sommer oor die algemeen groot steun onder swartmense kry nie omdat dit eintlik maar ’n wit party is.

Alhoewel daar baie met apartheid verkeerd was verwag ’n mens meer begrip vir apartheid en nie net kritiek nie.

Terloops, ek wonder of Allan Boesak saam sal bid vir die val van die ANC…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui